Tuesday, December 16, 2025

Janvos Landgoed laat reg geskied aan presisie-teling

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Jan Grey het in 1994 ‘n sentrale rol begin speel in die doen en late van Janvos Landgoed, die onderneming wat na hom en sy pa, wyle Vos Grey, vernoem is. Die onderneming was aanvanklik ’n saaiboerdery met ’n melkery, skape en ’n klein vleisbeeskudde.

Vandag bestaan hierdie trailblazer-boerdery uit ’n uitgebreide saaivertakking met kontantgewasse en aangeplante weiding, appels, vrugte, ’n aansienlik uitgebreide melkery en ’n Boranstoet. Die appels word hoofsaaklik uitgevoer na Europa, Bangladesj en Kenia, wat beteken hul verwerkingspraktyke voldoen aan die hoogste uitvoerstandaarde. Die saaiboerdery bestaan hoofsaaklik uit kontantgewasse, mielies en sojabone. Omgewingsvriendelike minimumbewerkingspraktyke word toegepas.

Bo en behalwe die gevestigde Boranstoet, met ’n jaarlikse produksieveiling in Mei, word ook met kommersiële vleisbeeste, hoofsaaklik Borankruisings, geboer.

Die Borankudde is in 2007 begin met vier koeie wat van Schalk van Oudtshoorn aangekoop is. Hulle was die kern van vandag se kudde met sy rooi, wit en bont Borane. Hulle het van meet af aan die wetenskap ingespan, ook met versnelde reproduksietegnieke soos embriospoeling en in vitro-bevrugting. Vandag bevat die stoetkudde meer as 500 koeie en bykans 550 verse. Die Janvos Borankudde is tydens SA Stamboek se 2025 Nasionale Elitetoekennings vereer toe die koei, Izebo Zambi 5 (IB 130010), as die ras se Platinumvleisbeeskoei aangewys is.

Lees meer oor Langspruit-landgoed: Vertakkings wat saam werk.

Janvos se melkkudde

Die melkkudde het tans net oor die 660 koeie in melk, nadat die kudde in 2020 verdubbel is. ’n Nuwe melkstal en behuisingsgeriewe is ook vir die koeie opgerig. Die oorspronklike kudde is steeds die basis van die melkkudde. Hulle was as Holsteins geregistreer, en tans as SA Friesland. ’n Interessante uitbreiding is die onlangse aanvulling van hul melkkudde met ’n paar Jerseykoeie.

Presisieboerdery gaan eerstens daaroor dat noukeurig en reg gemeet moet word.

Dit geld ook in Janvos Landgoed se melkery. Die baie bekende slagspreuk, ‘Om te meet is om te weet’, geld deurlopend. Metings deur middel van Logixmelk beteken dat enige koei se gegewens op enige tydstip beskikbaar is, sodat die regte bestuursbesluite geneem kan word. Vordering word akkuraat gemonitor sodat aanpassings betyds gedoen kan word.

‘n Baie belangrike aspek is uiergesondheid. Tydige kennis is meer werd as die moeite verbonde aan die gereelde insameling van melkmonsters. ’n Relatiewe klein persentasie van die koeie in die kudde dra gewoonlik by tot ’n groot hoeveelheid somatiese selle in die massatenk, ‘n aspek wat ’n invloed op die melkprys het.

Toewyding en presisie

Die bestuurder van die melkvertakking is Tatolo Mabuya. Hy het sy loopbaan in 2008 by Janvos afgeskop as die persoon wat die melkkoeie moes gaan haal en wegneem ná melking. Sy toewyding het daartoe bygedra dat hy in 2013 tot assistentbestuurder bevorder is. Sy verantwoordelikheid is hoofsaaklik om toe te sien dat alles by die melkery voldoen aan erkende beste praktyke en reëls, die produksie van die hoogste gehalte melk, prioritisering van dieregesondheid en doeltreffende produksie, higiënestandaarde en die onderhoud van toerusting en fasiliteite.

Hoewel beide Jan en Tatolo dit as ‘n besondere eer beskou dat die kudde een van die ses finaliste in SA Stamboek se jaarlikse Elite platinum-melkkoeitoekennings was, en boonop met die louere weggestap het in die Elite genetiese suiwelkudde van die jaar-kategorie, dien dit as aansporing om steeds te verbeter en nie op die einste louere te rus nie. Dit dien ook as aansporing vir elkeen wat by Janvos Landgoed werk en betrokke is.

Tatolo beaam Jan se siening dat dit nodig is om elke ekonomies-belangrike aspek te meet en aan te teken. Elke koei se besonderhede moet op rekord gehou word en dadelik beskikbaar wees. Die monitering van elke kalf se groei en ontwikkeling is deel hiervan. Rekordhouding is en bly die onderbou van beplanning en tydige besluitneming.

Is erkenning belangrik? In Tatolo se woorde: “I have always dreamt of being part of this successful dairy farm so I can share ideas, and my work will be seen. I have been eager to make a difference.” – Dr Japie van der Westhuizen

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan japievdw@gmail.com.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 49 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...