Die Lewendehawe Registrasie Federasie (LRF), Santam Landbou, en Veeplaas, nooi alle toegewyde vleisbees-stoettelers uit om vir die Santam/LRF Stoetteler van die Jaar-kompetisie 2025, wat in samewerking met Veeplaas aangebied word, in te skryf.
Die kompetisie is oop vir alle vleisbees-stoettelers in Suider-Afrika wat enige genetiese materiaal verkoop en vorige algehele wenners, buiten diegene wat in die afgelope vyf jaar gewen het (2020–2024 se wenners), is welkom om weer vir vanjaar se kompetisie in te skryf.
Die Lewendehawe Registrasie Federasie (LRF)
Die LRF bevorder en beskerm die doelwitte van registrasie-owerhede en stel hulle in staat om rekord te hou van hul bedrywighede en prestasiedata.
Die LRF bied ook jaarliks ’n veeskool aan, wat ’n opleidingsplatform vir rolspelers in die veebedryf is. Die geleentheid het ten doel om kommunikasie, kennis, en innovasie te bevorder en help produsente om by die nuutste neigings, tegnologiese ontwikkelings, en innoverende tegnieke in die bedryf by te bly. Die veeskool lok jaarliks naastenby 200 afgevaardigdes en dien ook as ’n netwerkgeleentheid.
Het jy al vir die jaar se veeskool geregistreer? Indien nie, klik hier vir meer inligting.
Die organisasie het die titel van Suid-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar al aan 21 uitblinkers in die veebedryf toegeken, insluitend Ebbi Fischer, bees-en-saaiboer van Hochfeld in Namibië wat laas jaar die toekenning ontvang het.
’n Viering van plaaslike uitnemendheid
Die 22ste wenner van die gesogte titel sal ’n R25 000 kontantprys ontvang, asook gratis toegang tot die 2026 LRF Veeskool (vervoerkostes uitgesluit). Die wenner se beesvleisstoet sal ook erkenning kry vir die vaardigheid, toewyding, en passie wat stoetteling en genetiese sukses vereis met media-blootstelling in Veeplaas Tydskrif kry.
Die naaswenner sal ’n kontantprys van R10 000 ontvang, en alle finaliste sal na die eksklusiewe LRF Veeskool Gala-geleentheid uitgenooi word, wat 9 Oktober 2025 by die Aldam Resort in Ventersburg plaasvind, waar hulle vir hul sukses in die vleisbeesbedryf vereer sal word.
Hoë standaarde vir stoettelers
Die beoordelaarspaneel bestaan uit stoettelers, leiers in die veebedryf, en verteenwoordigers van beestelersgenootskappe, en is ervare rolspelers en toppresteerders in die veebedryf. Die paneel verwag die hoogste standaarde van teelpraktyke.
Ongeag die rasse waarmee deelnemers werk, sal hul bedrywighede op die volgende aspekte beoordeel word:
- Teel-doelwitte.
- Beleide en prosedures.
- Rekordhouding.
- Kliëntebasis.
- Kliëntetevredenheid.
- BREEDPLAN-verslag.
- Innoverende praktyke.
- Toewyding tot voortgesette leer.
- Prestastietelling onder kuddes.
- Algehele impak op die stoetbedryf .
Ook ’n leerskool
Die kompetisie dien nie net as erkenning vir stoettelers se bydrae tot die veebedryf nie, maar bevorder ook positiewe medendingendheid. Stoettelers word aangemoedig om hul metodes te deel en tevergelyk, nuwe tegnieke te beproef, en alle aspekte van hul stoetery te evalueer en aan te pas waar nodig. Die kompetisie dien dus as ’n maatstaf vir telers in the stoettelergemeenskap, en om hulself te druk om hul stoetery deurgaans te verbeter.
Waarvoor wag jy?
As jy jou vir genetesie prestasie in jou kudde beywer, ongeag watter ras, staan jy die kans om ’n gesogte titel, kontantprys, en media-blootstelling te ontvang.
Stuur jou voltooide inskrywingsvorm voor 18 Julie 2025 aan prof Frikkie Neseren bewys dat die jý een van die voorste vleisbees-stoettelers in Suider-Afrika is. – Milla Matthee, Plaas Media
Klik hier om die inskrywingsvorm af te laai.
Kontak prof Frikkie Neser op neserfw@ufs.ac.za, of 051 401 2211, vir meer inligting.






