Interskoukompetisie
Hoewel die Modern Merino-jongooiklub die jongste groep in die distrik is, het hulle tydens die interskoukompetisie tussen jongooiklubs met drie van die vyf pryse weggestap. Op die foto is drie van die klublede, Fanie Naudé, Diederik Vermeulen en PW de Vos.

Die eerste interskoukompetisie tussen jongooiklubs is op 20 Julie 2016 op die plaas Vrede van Diederik Vermeulen buite Philipstown aangebied. Daar was ’n baie goeie opkoms van jong boere, stoettelers, medewerkers en belangstellende lede van die publiek.

Jongooiklubs wat aan die kompetisie deelgeneem het, was Philipstown, Kraankuil, Britstown, Modern Merino, Middelburg en Noupoort. Op die skou het die voorsitter van elke klub die klub se oogmerke met die skougangers gedeel. Philipstown se jongooiklub bestaan reeds 27 jaar, terwyl Modern Merino vanjaar gestig is.

Tydens die dag is al die inskrywings uit die onderskeie klubs deur Gawie van Wyk, produksie-adviseur van die NWKV, beoordeel. Hy is deur Juan Venter bygestaan.

Na afloop van die beoordeling is die pryse in die volgende kategorieë aan die wenners oorhandig: groepwenner – Modern Merino, beste ooi – Kraankuil, beste fynwol – Modern Merino, beste medium wol – Modern Merino en beste sterkwol – Philipstown.

Positiwiteit oor die Suid-Afrikaanse wolbedryf

Louis de Beer, hoof-uitvoerende beampte van Cape Wools SA, gasspeker van die geleentheid, het ’n baie positiewe boodskap oor die Suid-Afrikaanse wolbedryf gebring. ’n Skaapskeerdemonstrasie deur Guillaume Strydom, die SA Ope-skaapskeerkampioen, asook ’n praatjie deur dr Frans Jooste van GeneCo is aangebied. Le Roux van Vuuren van Kokkedoor 2014 het ’n kosdemonstrasie vir die vroue aangebied. Die Springbokkop-wolklasseringskursus is ook van 19 tot 22 Julie op die plaas aangebied om jong boere te bemagtig ten opsigte van hul eie boerderye.

Die organiseerder van die skou, Diederik Vermeulen, sê hy het groot toekomsplanne vir die skou en sal dit graag uitbrei. Enige belangstellendes is welkom om hom by 053 665 7006 te skakel of ’n epos te stuur aan odysfarming@gmail.com. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Klik hier vir nog landbounuus.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY