Twee jong Merinoboere van Suid-Afrika, Diederik Vermeulen van Philipstown en Eduard Prinsloo van Smithfield, het in Mei 2017 die International Wool Textile Organisation (IWTO) se kongres in Biella, Italië, bygewoon. Tydens die geleentheid het hulle vir Peter Ackroyed, president van die IWTO, ontmoet.

Diederik sê hulle het op die ingewing van die oomblik vir Ackroyed genooi om hul plase naby Philipstown en Smithfield te besoek wanneer hy Suid-Afrika toe kom. Tot hul verbasing het hy die uitnodiging aanvaar.

’n IWTO-kongres is weer vanaf 6 tot 8 Desember 2017 in Port Elizabeth aangebied, wat saamgeval het met ’n groot wolveiling. Vermeulen sê dat die internasionale wolkopers beïndruk was met veral die 19 mikron wol wat hy en Prinsloo daar te koop aangebied het.

Na die kongres het Ackroyed en Dalena White, sekretaris-generaal van die IWTO, ’n besoek aan die Karoo en Vrystaat gebring. Tydens die besoek het hulle nie net die mooiste Merino’s in die land gesien nie, maar is ook getrakteer met ’n bootreis op die Vanderkloofdam, middagete in Orania en ’n vyfgang-boereontbyt op Vermeulen se plaas. Prinsloo, ’n voormalige boer van die jaar, het saam met hulle op die plaas Heuningkrans gekuier, waar hy vir die gaste sy ramme en ooie gewys het en hoe teling werk.

Tydens sy besoek het Ackroyed vir Vermeulen en Prinsloo meegedeel dat hy ’n internasionale projek beoog om plaaslike boere se wol aan buitelandse kopers bekend te stel. Hy het hulle ook uitgenooi na die IWTO-kongres later vanjaar in Hong Kong, asook ’n moontlike ontmoeting met Prins Charles in Londen, Engeland.

Vermeulen en Prinsloo is opgewonde oor die moontlikhede wat hierdie nuwe vriendskap vir die wolmark in Suid-Afrika kan inhou. Hulle bied ook weer in Julie die Jongooi Interklub-kompetisie op Philipstown aan, waarvan die besonderhede later bekendgemaak sal word. Ackroyed sal na alle waarskynlikheid as gasspreker tydens dié geleentheid optree. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY