Meerjarige beesgras het relatiewe breë blare en vaar die beste in rooi leemgrond.

Smaaklike inheemse weigrasse wat in natuurlike veld versamel en in ’n kweekhuis, asook op die land, vermeerder word, kan as saad of plantmateriaal gebruik word om verinneweerde veldweidings te herstel en die drakrag te verhoog.

Frits van Oudtshoorn.

Die belangstelling in inheemse gras en plante wat Frits van Oudtshoorn se pa, Bosch van Oudtshoorn, van kindsbeen af by hom gevestig het, het mettertyd in ’n passie ontwikkel wat tot die publikasie van boeke oor gras en veldbestuur gelei het, en uiteindelik tot ’n groot bydrae om inheemse weigrasse te veredel, vermeerder en te bemark.

Swartvoetjiegras, meerjarige beesgras, bruinhoenderspoor, fynsaadgras en verskeie ander smaaklike weigrasse groei deesdae in plantsakke in Frits se kwekery en uitplantblokke op sy plasie naby Modimolle in Limpopo.

Kennis van inheemse grasse

Sy pa was ’n professor in aptekerswese wat moeg geword het vir die lewe in die stad en toe besluit het om in die omgewing van Vivo in Limpopo te gaan boer. Met sy wetenskaplike agtergrond het hy dit sy taak gemaak om al die inheemse plante te leer ken. Frits, as oudste seun, moes altyd saamry. Toe hy nog in die laerskool was, het hy al minstens 20 inheemse grasse op hul botaniese name geken.

Hy het landbouvoorligting gaan studeer en mettertyd ook ’n meestersgraad in natuurbewaring behaal. Hy het gou agtergekom hy weet meer oor inheemse grasse as sy medestudente.

In sy eerste jaar as natuurbewaringstudent moes hulle ’n taak oor inheemse grasse doen. Terwyl hy en ’n vriend, Piet Ploeg Terblanche, grasse vir die taak versamel het, het Piet skertsend opgemerk dat Frits ’n boek oor inheemse grasse behoort te skryf, omdat hy soveel kennis daaroor het.

Frits het dit ernstig opgeneem en saam met sy neef, Eben van Wyk, wat ’n ernstige amateur-fotograaf was, die inligting ingesamel en foto’s geneem. “Toe ons nie ’n uitgewer kon kry om die boek uit te gee nie, het ons dit self baie geslaagd gedoen. Hierdie projek het nie net tot die uitgee van ’n nuwe grasboek gelei nie, maar ook tot die totstandkoming van ’n nuwe uitgewery genaamd Briza Publikasies.

“Die ‘grasding’ het eintlik as ’n stokperdjie begin, wat in ’n onderneming ontwikkel het wat deesdae uit drie bene bestaan, naamlik inheemse ornamentele grasse vir groot tuine en parke, inheemse weigrasse vir die restourasie van weidings en die seleksie van uitskieter-variëteite vir kommersialisering as aangeplante weidings,” vertel Frits.

Aangepaste variëteite

In alle gevalle hou hy die grasse uit verskillende streke apart, sodat hy aangepaste variëteite van ’n spesifieke spesie in ’n streek as saad of plantmateriaal kan aanbied. Hy is nou besig om ’n uitskieter van swartvoetjiegras deur ’n saadmaatskappy te registreer en hy vermeerder vyf variëteite inheemse ornamentele gras saam met twee groot kwekerye naby Pretoria.

Frits versamel die meeste van sy oorspronklike grasse in padreserwes, waar nog heelwat goeie weigrasse voorkom. “Ek soek die beste polle uit, haal die hele pol uit, sny die blare af en hou die pol klam tot by my kwekery, waar die pol verdeel word en ek die stukkies in plantsakkies in die kwekery plant. Sodra die plantjies sterk genoeg is, word dit vroeg in die somer buite in die grond uitgeplant om weer tot polle te ontwikkel.

“Vir ornamentele grasse word die hele pol uit die grond gehaal, opgebreek in stukkies en die stukkies in sakkies geplant. Daarna word dit in die kweekhuis gehou totdat dit vestig, waarna dit na die kliënt gaan. Ek gebruik nie saad nie omdat plantjies wat so gekweek is, nie noodwendig dieselfde kleur en ander eienskappe het as die moederplant nie.”

Smaaklike weigrasse

Hoewel hy oorspronklik siergrasse versamel het, het hy opgemerk dat sekere smaaklike weigrasse in die veld uitstaan omdat dit weliger groei, breër is en meer blare het. Hy het besef hy kan dié grasse met vrug gebruik om vernielde weiveld mee te verbeter.

Frits het besluit om te konsentreer op grasse wat nog nie gekommersialiseer is nie, en wat op baie plase weens oorbeweiding of nalatige weidingsbestuur heeltemal of gedeeltelik uitgesterf het.

Swartvoetjiegras (Brachiaria nigropedata) was die eerste gras waarmee hy begin het. Dit is een van die smaaklikste weigrasse wat in die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng en Limpopo voorkom. Dit het baie sagte groen blare, groei gemiddeld sowat 30cm hoog en maak onder gunstige toestande polle wat tot 1m groot kan word.

Hierdie gras groei veral goed in sand en sandleemgrond en is betreklik bestand teen ryp, maar vaar die beste in die droër subtropiese gebiede. Die groeitoestande stem nogal ooreen met dié van bloubuffelgras, maar dit verkies meer sanderige grond.

Meerjarige beesgras

Meerjarige beesgras (Urochloa oligotricha) is ook ’n smaaklike weigras met relatief breë blare wat in Limpopo, Mpumalanga en Noordwes voorkom, waar dit in sandleem- tot kleileem-grond groei en die beste vaar in rooi leemgrond. Dit is matig bestand teen koue, maak mediumgroot polle en kan betreklik straf bewei word.

Fynsaadgras (Sporobolus fimbriatus) is ’n spesie wat baie in voorkoms, groeiwyse, hoogte, breedte en kleur van die blare wissel. Dit kom in die meeste dele van Suid-Afrika voor, insluitend die bosveld, grasveld en Karoo. Dit is ’n baie smaaklike tot smaaklike weigras, wat groot tot mediumgrootte polle maak en goed teen koue en droogte bestand is.

Bruin hoenderspoorgras (Eustachys paspaloides) is een van die smaaklikste grasse wat eerste verdwyn as gevolg van selektiewe oorbeweiding. Dit kom in feitlik al die provinsies van die land voor, het nie ’n matige blaarproduksie nie en vaar goed in droë sowel as nat gebiede. Dit maak mediumgrootte polle.

Frits sê hy ondersoek ook verskeie ander smaaklike inheemse weigrasse en het al begin proewe doen om dit ook te vermeerder.

Raadgewing oor weidingsbestuur

“Naas die graskwekery lewer ek ’n raadgewende diens oor weidingsbestuur, drakragbepaling en veldversterking. Die diens behels ’n besoek aan ’n plaas, waar ek saam met die boer na al dié aspekte kyk en dan ’n verslag opstel waarin ek aanbevelings doen oor hoe probleme reggestel kan word.

“Die grootste rede vir die agteruitgang van weidings is normaalweg foutiewe weidingsbestuur. Dikwels is slegs klein verstellings vir beter weidingsbestuur nodig. Die bestuur, indien nodig, moet eers opgeknap en reggestel word voordat ’n mens daaraan kan dink om die veld te probeer verbeter.

“Daarom kyk ek eerste na die infrastruktuur (kampe, waterpunte, ens.) en hoe dit aangewend word. Dit kan wees dat die infrastruktuur in orde is, maar dat dit verkeerd gebruik word. Eers as die weidingstelsel reg is, maak ek voorstelle oor hoe die weiding verbeter en smaaklike weigrasse teruggebring kan word,” sê hy.

Versterking van veld

Hoe ’n mens veldversterking aanpak, wissel van plaas tot plaas. ’n Mens kan die grond met ’n skeurploegtand loswerk, grassaad in die voor saai en dit met die trekkerwiel vastrap. Die voordeel hiervan is dat ’n mens groot oppervlaktes vinnig kan saai, maar dan moet die grond betreklik gelyk en nie klipperig wees nie.

Nog ’n metode is om grassaad om lekbakke te saai, sodat die diere dit intrap en die lekbakke gereeld na ander kaal kolle te verskuif. Die intrap help met ontkieming, en die betreklik gekonsentreerde mis en uriene bevorder die vestiging van nuwe saailinge.

Verskuifbare krale wat opgerig is op kaal kolle of plekke waar die weiding baie swak is, is ’n bykans soortgelyke opsie. Die vee oornag in die kraal vir ongeveer ’n week, waarna die kraal na ’n nuwe plek met swak veld geskuif word. Die beste tyd om dit te doen, is van vroeg tot in die middel van die groeiseisoen.

Die saad word teen rofweg 10g per vierkante meter om die lekbakke of in die krale gesaai voordat die vee ingebring word. Die krale en/of bakke word ná sowat ’n week na ’n nuwe plek verskuif.

Gebruik van ’n fynsaadplanter

’n Mens kan ook grassaad met ’n fynsaadplanter, wat boere in geenbewerkingstelsels gebruik, plant indien die terrein dit toelaat. Boere moet dié plantstelsel gebruik waar hoofsaaklik pioniersgrasse voorkom. Permanente grasse soos dekgras sal die nuwe saailinge verdring.

Nog ’n metode is om in die middel van weikampe ’n klein kampie van sowat tien by tien meter af te span, dit heeltemal skoon te maak en dan saad of plantmateriaal te gebruik om die smaaklike weigrasse daar te vestig sodat dit nie bewei kan word nie, maar saad deur die kamp kan versprei. Die skep van so ’n saadbank werk goed saam met bogenoemde stelsels.

Nie een van die stelsels sal egter werk as die oorsaak van die veld se agteruitgang nie geïdentifiseer en reggestel is nie.

Basiese ekologiese beginsels

Frits meen veldbestuur moet op die basiese ekologiese beginsels gegrond wees. “Voordat mense hulle hier gevestig en begin heinings span het, het die veld homself bestuur. Die belangrikste beginsel is dat grasvreters toe in groot troppe rondbeweeg het en in baie gevalle seisoenaal agter kos en water aangetrek het. Die aanhoudende beweiding van ’n spesifieke gebied is egter teen die natuur.

“Binne die beperkings van plaasheinings moet ’n boer ’n stelsel probeer volg wat so na aan die natuurlike manier is as moontlik. Dit behels grootliks ’n relatiewe vinnige wisselweidingstelsel waarby ’n wintervoerbank ingesluit is.

“Dit beteken dat die helfte of minstens een derde van die weiding ’n volle groeiseisoen moet rus, sodat dit saad kan vorm wat kan versprei.”

Veebelading en drakrag

Volgens Frits moet die veebelading by die werklike toestand en produksie van die weiding aangepas wees en kan die amptelike omgewingsdrakrag hoogstens as ’n riglyn dien. “Hoewel dit belangrik is om die belading in lyn met die drakrag van die plaas te hê, is dit nog belangriker om die diere in die groeiseisoen van kamp tot kamp te wissel om sodoende kampe te laat rus.

“Veldbrande is baie handig om grasvelde in stand en oop te hou, maar dan moet die veld op die regte tyd gebrand word. As die veld in die winter gebrand word, sal die nuwe groei dikwels doodryp, vee sal dit oorbenut en die gras sal agteruitgaan. As dit ná die eerste reën gebrand word, sal die gras nie verswak nie en houtagtige plante wat al gebot het, sal seergemaak word.”

Frits bied verskeie kursusse aan waarin hy die uitgebreide kennis wat hy oor jare opgedoen het, met boere deel. Die kursusse handel oor veldbestuur, grasidentifikasie, plaasbeplanning, veldrestourasie, die beheer van indringerplante en aangeplante weidings. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Frits van Oudtshoorn by 078 228 0008 of frits@alut.co.za.

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY