Informele aartappelmark bied ’n magdom geleenthede

Estimated reading time: 3 minutes

Die informele ekonomie in Suid-Afrika (SA) groei beduidend en hou die sleutel vir alle bemarking sowel as landbouprodukte vir die toekoms in. Die meeste mense het egter nog ʼn wanbegrip oor informele nedersettings en dink dit is nog hoofsaaklik plakkershuise. Sowat 84% van die inwoners in hierdie gebiede woon in formele huise, besit standvastige koopkrag en bestee al hoe meer geld op goedere en kos van hul voorkeur.

GG Alcock, ’n outeur en entrepreneur wat homself ʼn kind van die Derde Wêreld noem, het aan aartappelboere van Limpopo gesê daar lê groot geleenthede in dié mark, wat al meer deur konvensionele kettingwinkels vir markuitbreiding benut word.

Lees meer oor die effek van beurtkrag op aartappelboere hier.

Hy het ’n voorbeeld aangehaal van swart vroue wat op straat sit en vetkoeke bak, dit vir ʼn rand stuk verkoop en maklik R1 500 per dag in hul sakke steek. By gevorderde afsetpunte van kos en drank kan die wins tot R170 000 per week beloop.

GG Alcock, ’n outeur en entrepreneur, het die produsente toegespreek.

Deesdae kan mense hul voorkeurkos langs die straat en hul kruideniersware by spazas koop wat deur informele groothandelaars voorsien word. Hierby ingeweef is ʼn unieke vervoer- en afleweringstelsel wat dit moontlik maak om voorrade met jou slimfoon te bestel en by ʼn huis of kosstalletjies langs die straat afgelewer te kry.

Met GG se besoeke aan dié informele sektor vir verskeie projekte, het hy opgemerk dat vars produkte op varsproduktemarkte gekoop en deur smouse en aankopers in die stelsel ingetrek word. Vars aartappels was egter betreklik skaars, wat ʼn aanduiding is dat daar geleenthede bestaan wat die aartappelbedryf behoort te ondersoek.

ʼn Onlangse verslag oor die swart middelklas lui dat die sektor in die afgelope 15 jaar tot 3,4 miljoen mense gegroei het, met ʼn gekombineerde koopkrag van sowat R400 miljard per jaar. Huishoudings in dié groep verdien van R22 000 tot R40 000 per maand.

Lees meer oor FarmSol en SAB se voedselsekuriteitsplan hier.

GG sê dié middelklas woon in informele nedersettings en landelike gebiede waar die geleenthede vir nuwe markte lê. Sy raad aan die aartappelbedryf is om uit te vind hoe die informele sektor sake doen, wat die oorsaak van ’n tekort aan aartappels is, en hoe om toegang tot dié mark te kry.

Hy glo die bedryf moet by die bestaande stelsels probeer inskakel en nie self ʼn eie nuwe struktuur tot stand bring nie. Die informele sektor lyk deurmekaar en ongeorganiseerd, maar sy ondervinding is dat dit ʼn gesofistikeerde markomgewing is waarby daar eerder ingeval moet word, as om dit te probeer omseil. – Andries Gouws, AgriOrbit

Popular stories