Monday, June 27, 2022

Impak van droogte op Wes-Kaapse appel- en koringboere

Estimated reading time: 7 minutes

Vir die kerngebiede waarin koring- en appelproduksie bedryf word, was die onlangse meerjarige droogte die ergste in 30 jaar. Dit kan ’n vroeë teken wees van die uitwerking van klimaatsverandering op landbou in die winterreënvalstreek van die Wes-Kaap.

Dít blyk duidelik uit ’n PhD-studie deur dr Simone Theron, wat onlangs haar doktorsgraad in hortologie van Stellenbosch Universiteit se Fakulteit AgriWetenskappe ontvang het. Dr Theron se proefskrif, getiteld, “Improving resilience in rainfed and irrigated agriculture under the future climate in the winter rainfall region of the Western Cape: Lessons from the 2015 to 2018 drought”, benadruk dat die landbousektor dringende aanpassings moet maak.

Dr Theron het ondersoek ingestel na die wyses waarop boere, vanuit ’n klimaatsperspektief, in die kort tot medium termyn (2020 tot 2065) beïnvloed sou kon word, en hoe hulle beplan om daarop te reageer.

Die studie het op twee kommoditeite – koring en appels – gefokus, oor vier produksiestreke heen: die Swartland, die Rûens, Ceres en Elgin Grabouw Vyeboom Villiersdorp. Dr Theron het onder meer van waargenome klimaatdatastelle en produksiedata gebruik gemaak om die uitwerking van die droogte te verstaan. Sy het ook droogte-verwante aanpassings op plaasvlak en die faktore wat hierdie ondernemings oënskynlik dryf, ondersoek. 

“Om die sektor se veerkragtigheid teen skokke onder klimaatsverandering te verbeter, is ’n noodsaaklikheid,” sê dr Theron. “Veerkragtigheid is dinamies, genuanseer, sosiaal afhanklik en konteks-spesifiek.”

Lees meer oor die Wes-Kaapse bloubessiebedryf hier.

Landbou blootgelê deur droogte

In die konteks van klimaatsverandering, is droogte geïdentifiseer as ’n deurslaggewende faktor wat bydra tot kwesbaarheid in die landbou in Suid-Afrika. Gevolglik word dit as ’n prioriteitsgebied vir klimaatsverwante aanpassing beskou.

Hoewel droogte ’n natuurlike en normale gebeurtenis is, kan dit steeds skade aanrig aan mense en die omgewing. Klimaatsvoorspellings dui daarop dat die Wes-Kaap warmer en droër sal word, met meer gereelde droogtes. Sulke toestande kan reeds teen so vroeg as 2030 tot 2040 ondervind word. 

Onlangse studies het getoon dat klimaatsverandering besig is om tot hewiger uiterstes, soos erge droogtes, in die provinsie te lei. Navorsers het bevind dat, as gevolg van mens-gedrewe klimaatsverandering, die onlangse meerjarige droogte drie maal meer waarskynlik was as wat dit andersins sou gewees het.

“Sonder toepaslike aanpassings is dit waarskynlik dat klimaatsverandering die landbou toenemend gaan inperk,” sê dr Theron. “Dit is duidelik dat klimaatsverandering nuwe risikobestuuruitdagings vir plaasvlakaanpassings en besluitneming gaan skep.” 

Dr Theron het ’n vraelys gebruik en onderhoude gevoer met boere en ander belanghebbendes in die bedryf om data in te samel vir haar studie. Sy het ook van droogte-indekse gebruik gemaak om seisoenale droogtevoorspellings te verbeter.

Dr Theron het voorts ’n tendens-ontleding gebruik om te ondersoek of onlangse droogtewaarnemings ’n langtermyntendens ondersteun en ’n aanduiding gee van moontlike toekomstige toestande.

Sy het ook die verhouding tussen gewasopbrengs en klimaatsveranderlikheid ontleed. Verder het sy die verskille tussen terugwerkende en vooruitskouende droogte-verwante aanpassings oorweeg, en hoe dit help om droogte-veerkragtigheid in gewasproduksie aan te help.

Dr Theron sê dit is uiters belangrik om vorige droogtes te verstaan en daaruit te leer om veerkragtigheid in landboustelsels te bevorder. 

“Die resultate suggereer dat klimaatsverandering waarskynlik ’n uitwerking gaan hê op alle gewasproduksiestreke, al is dit in verskillende mates,” waarsku sy. “Toenames in minimum- en maksimumtemperature, sowel as die intensiteit van droogtes, was beduidend, en beduidende veranderinge sal waarskynlik tussen 2040 en 2050 plaasvind.”

Die mees beduidende verandering word verwag vir droogte-intensiteit in Ceres (’n appelproduksiegebied) en die Swartland (’n reënvoedgebied vir winterkoring). Verder sal Ceres en die Swartland waarskynlik ook die grootste toename in temperatuur ervaar, moontlik so hoog as 4°C.

Die duur en voortbestaan van droogtes in die provinsie is hoogs veranderlik, en die geskatte tydperk tussen droogtes wissel van een tot vier jaar in die geval van landboudroogtes, en tot tien jaar in die geval van hidrologiese droogtes (verminderde stroomvloei en reservoirvoorraad). 

“Studies het gewys dat dit hoogswaarskynlik is dat nog ’n droogte, net so erg soos of selfs erger as die 2015/2018-droogte, voor die einde van die eeu gaan plaasvind,” waarsku dr Theron.

Dr Simone Theron het onlangs haar doktorsgraad in hortologie van Stellenbosch Universiteit se Fakulteit AgriWetenskappe ontvang. Dr Theron se proefskrif, getiteld, “Improving resilience in rainfed and irrigated agriculture under the future climate in the winter rainfall region of the Western Cape: Lessons from the 2015 to 2018 drought”, benadruk dat die landbousektor dringende aanpassings moet maak.

Aanpassing by ’n veranderende klimaat

Meeste van die boere wat aan hierdie studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle verskeie lesse geleer het gedurende die meerjarige droogte en dat hulle sedertdien sommige van hulle boerderypraktyke verander het.

Op grond van die navorsingsresultate is vyf sleutellesse geïdentifiseer: droogte is ’n herhalende verskynsel in die Wes-Kaap; voorspellings is ’n noodsaaklike hulpmiddel vir die bevordering van veerkragtigheid; droogte-indekse kan waardevol wees in seisoenale droogtevoorspelling; boere het ’n hoë outonome aanpassingsvermoë; en die verbetering van die verskeie soorte kapitaal wat vir boere beskikbaar is (insluitende sosiale kapitaal), kan hul veerkragtigheid verbeter.

Uit dr Theron se navorsing blyk appelstreke meer kwesbaar vir klimaatsverandering te wees as koringstreke in dié provinsie. Dit is omdat appelboorde op langer tydskale bedryf word as koringlande: dis gewoonlik langer as 25 jaar, en nuwe boorde word eers ná vier tot vyf jaar produktief. Dit beteken dat appelboere vroeër as koringboere gereed moet wees vir beduidende klimaatsveranderinge — klimaatsverandering kan voor 2050 ’n beduidende afname in die gebied wat geskik is vir appelproduksie, veroorsaak. 

Nietemin is besproeide plase, in ’n mate, minder sensitief vir klimaatsverandering as plase wat net van reënbuie vir water afhanklik is, omdat besproeiing ’n bemiddelende uitwerking het. “Wat hier van belang is, is dat besproeiing ’n plaas se afhanklikheid van reënval, sowel as tussenjaarse veranderlikheid, verminder,” sê dr Theron. “Dit is egter afhanklik van die beskikbaarheid van water vir besproeiing.”

Kompetisie met stedelike verbruikers vir waterhulpbronne kan ’n bron van kwesbaarheid word vir besproeiingslandbou, sê sy. Afnames in reënval en toenames in droogtes kan die risiko verhoog dat damme nie voldoende gevul word nie, wat weer sal lei tot meer gereelde waterbeperkings.

Dit beteken dat boere meer voedsel sal moet produseer vir ’n groeiende bevolking, maar onder meer uitdagende omstandighede en met minder beskikbare hulpbronne. “Aanpassing sal op alle vlakke van die waardeketting moet plaasvind, en die onus om hierdie uitdagings die hoof te bied, kan nie vierkantig op boere se skouers rus nie,” voeg dr Theron by. 

Aanpassingsmoontlikhede wat beskikbaar is vir boere sluit in die gebruik van dekgewasse om grondvogtigheid te behou, om oor te skakel na korttermynkultivars, of om die soort gewas te verander en hulle besigheid te diversifiseer, beide binne en buite die landbousektor. Boere wat gebruikmaak van besproeiing kan aanpas deur na meer hittebestande gewasse en kultivars oor te skakel, en deur skadunette te gebruik.

Lees meer oor die provinsie se kanolaprodusent van die jaar hier.

Boerdery wat toekoms-bestand is

Die meeste boere is reeds aktief besig om voor te berei op klimaatsverandering, of is van voorneme om dit binne die volgende vyf jaar te begin doen. Die meerderheid (53%) van die produsente het gesê hulle ervaar reeds die uitwerking van klimaatsverandering.

Appelboere beskou waterbestuur op die plaas (soos byvoorbeeld die bestuur van besproeiing) as die belangrikste aanpassingsstrategie. Koringboere is meer gefokus op die bestuur van gewasse, insluitend besluite oor kultivars en bewaringsboerdery. Dr Theron se studie wys daarop dat droogte waarskynlik herskeppende landbou-aanpassings in die provinsie gaan aandryf.

“Hoewel die resultate ’n oorweldigende vooruitskouing vir landbou in die Wes-Kaap daarstel, het die sektor reeds aangepas en word aanpassings deurlopend gemaak op grond van veranderinge in die natuurlike hulpbronne, insluitend daardie wat deur klimaatsverandering en klimaatuiterstes meegebring word,” sê dr Theron. “Terwyl sommige van hierdie aanpassings herskeppend of vooruitskouend kan wees, soos byvoorbeeld waar bewaringslandbou onderneem word, is meeste van hulle geringe, terugskouende reaksies.”

Verder het dr Theron gevind dat boere wat voel hulle het uit die onlangse droogte geleer, meer geneig sal wees om voor te berei op klimaatrisiko’s. “Dit is opmerklik dat boere se oortuiging oor die werklikheid van klimaatsverandering nie hulle voorbereiding vir klimaatrisiko’s beïnvloed nie. 

“Dit dui daarop dat die meeste boere se fokus steeds op byhou in die korttermyn en op herstelmeganismes is, eerder as om langtermyn-veerkragtigheid te verbeter,” is dr Theron se gevolgtrekking.

Dr Theron het tot onlangs vir die Landbounavorsingsraad se sake-eenheid wat op grond-, klimaat- en waterkwessies fokus, gewerk. Sy het haar proefskrif in 2021 voltooi en beoog om hierdie jaar met haar na-doktorale studies te begin. – Jorisna Bonthuys, Fakulteit AgriWetenskappe, Stellenbosch Universiteit.

Popular stories