
Estimated reading time: 3 minutes
Die jaar het met beurtkrag afgeskop en volgens alle aanduidings gaan dit nog lank met ons wees. Meeste besighede, groot en klein, word geraak. Wat beurtkrag nog duurder vir besighede maak, is die verhoogde koste waarteen ’n kragopwekker loop in vergelyking met die prys wat krag vir die tyd wat dit aangeskakel is sou kos.
Erge lot van besproeiingsprodusente
Besproeiingsprodusente sit waarskynlik met die grootse probleem. Met die lang ure van beurkrag kan hulle glad nie die nodige hoeveelheid water op die lande kry nie. Verder was Januarie ’n baie warm maand met die gewasse wat selfs meer water as normaalweg benodig het. Baie van die besproeiingsmielies was in die bestuiwingsfase wat die saak verder negatief beïnvloed het.
Die geelmielieprys het gedurende die maand uitermatig rondgespring. Aanvanklik het dit skerp gestyg en toe weer gedaal. Op die ou end het dit teen R4 539/ton gesluit. Die rand het krag verloor teen die Amerikaanse dollar en die euro en aan die einde van die maand het die rand teen onderskeidelik teen R17,25 en R18,81 verhandel.
Figuur 1 toon ʼn groot daling in die produksieprysindeks (PPI) en dit mag tot verdere dalings in die verbruikersprysindeks (VPI) lei. Alhoewel die rentekoerse grootliks aangewend word om die VPI te beheer, hou die daling in produksiepryse goeie nuus in vir die verbruikerspryse.

Markvertonings
Die wolmark is op ’n opwaartse kurwe, met die aanduiderprys van gesertifiseerde wol net onder die R190/kg. Aangesien die Australiese mark ook versterk het, is daar hoop op sterker pryse hierdie seisoen, maar dit hang af van die wisselkoers.
Lees wat in Februarie se markte gebeur het.
Die beeskarkaspryse is naby aan die pryse van verlede jaar hierdie tyd behalwe die C2-prys wat skerp geklim het en Januarie met ’n gemiddelde prys van R51,31/kg afgesluit het – slegs 48c onder die B2-prys van R51,79/kg. Die A2-prys het op R56,77/kg geëindig. Speenkalfpryse was uiters stabiel gedurende die eerste maand met die gemiddelde prys rondom R37,00/kg en het teen R36,72/kg gesluit.
Die skaapkarkaspryse het byna dieselfde tendens as die beespryse getoon waar die A2-prys stabiel was en teen R85,35/kg gesluit het. Daar was ’n daling in die B2-prys tot R67,10/kg en ’n styging in die C2-prys tot R66,01/kg. Speenlampryse was steeds in ’n negatiewe rigting vanaf einde verlede en het in Januarie op dieselfde vlakke as Januarie 2021 verhandel.
Die prys van speenlammers het teen R38,46/kg gesluit. Die prys van klas O-varkkarkasse het gedaal, maar is steeds baie sterk teen R35,70/kg. – Hannes Venter en Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.