Sunday, May 28, 2023
HomeMarketsHoë prima-uitleenkoers tref produsente hard

Hoë prima-uitleenkoers tref produsente hard

-

Estimated reading time: 3 minutes

Tydens Maart is die terugkoopkoers weer opwaarts aangepas met 50 basispunte of ‘n halwe persentasiepunt. Dit bring die prima-uitleenkoers na 11,75% wat 3,5 % hoër is as `n jaar gelede en die hoogste vlak nog in die laaste 13 jaar.

Dit het `n geweldige groot impak op die hoeveelheid rente wat betaalbaar is op lenings, veral op die groot bedrae en langtermynlenings soos dié wat vir grond aangegaan word. Met meeste oeste wat nog op die land staan en die lae veepryse tref die verhoging baie landbouprodusente hard.

Die rand het in die eerste drie weke van Maart verswak en daarna ‘n versterking teen die Amerikaanse dollar en die euro ervaar. Teen die einde van die maand het dié geldeenhede onderskeidelik teen R17,90 en R19,32 verhandel. Die verbruikersprysindeks (VPI) het tot 7% op `n jaar-tot-jaar grondslag gestyg en die produsenteprysindeks (PPI) het na 12,2% gedaal.

Die geelmielieprys (Figuur 1) het gedaal en in Maart teen R3 964/ton gesluit, ‘n verswakking van net oor die R300/ton vir die maand en omtrent ‘n R1 000/ton af sedert begin Desember 2022. Die plaaslike geelmielieprys is sedert Desember 2022 ook laer as die uitvoerpariteitprys.

Die wolmark het tydens die eerste gedeelte van die maand verswak en daarna weer groei getoon. Die groei is te danke aan die Australiese mark wat ook versterk het. As dit nie vir die sterker prys in Australië was nie sou die prys moontlik aanhou daal het weens ‘n sterker rand. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde wol het in Maart teen R186,69/kg gesluit.

Die twee veilings van bokhaar in Maart het beide ‘n positiewe groei getoon met die aanwyserprys wat teen R395,27/kg gesluit het. Produsente sal hoop dat die prys stabiliseer of groei, maar nie dieselfde tendens wys as die vorige twee jaar waar pryse tydens die vierde veiling van die jaar begin daal het nie.

Beeskarkaspryse het tydens Maart uiters stabiel vertoon. Die gemiddelde A2-prys het teen R54,46/kg gesluit, die B2-prys teen R49,73/kg en die C2-prys teen R48,55/kg. Die speenkalfprys het eers verswak maar, het weer herstel en die gemiddelde prys het teen R34,11/kg gesluit. Die groot tradisionele speentyd lê egter nog voor, en alhoewel die voerkostes afneem soos die mielieprys verswak, kan speenkalfpryse weer in April en Mei weens die hoër aanbod daal.

Kry die weeklikse rooivleispryse.

Skaapkarkaspryse het nie die beste maand beleef nie met verdere verswakking in pryse met die A2-prys wat teen R82,69/kg gesluit het, die B2-prys teen R61,60/kg en die C2-prys teen R58,22/kg. Speenlampryse het ‘n beter maand ervaar met pryse wat begin versterk het en die gemiddelde prys het teen R39,94/kg gesluit. Die prys van klas O-varkkarkasse het die dalende tendens voortgesit en tot R30,19/kg verswak. – Hannes Venter en prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.

Must Read

Water is te skaars om te mors: Spaar jy of vermors...

Estimated reading time: 6 minutes Elke druppel water tel. ’n Druppel per sekonde kan daagliks tot 20 liter water versamel. Spaar jy dit of...