Hoë kunsmispryse wek kommer oor koringaanplantings

76
kunsmis_fertiliser
Die prys van kunsmis, wat oor die wêreld heen die hoogte ingeskiet het, is ’n groot kopseer vir SA koringprodusente.

Estimated reading time: 3 minutes

Die prys van kunsmis, wat oor die wêreld heen die hoogte ingeskiet het, is ’n groot kopseer vir Suid-Afrikaanse (SA) koringprodusente wat hulle nou gereedmaak om met aanplantings te begin. Die logistieke met betrekking tot die beskikbaarheid daarvan hou ook ’n uitdaging vir produsente in.

André Kirsten, ’n koring- en kanolaprodusent van Darling in die Wes-Kaap en voorsitter van Graan SA se inset- en produksiewerkgroep, sê produsente in dié provinsie het aangedui dat hulle hierdie seisoen voortgaan met aanplantings, maar die situasie sien nie goed daarna uit in terme van die ekonomie van koring nie.

Dit kan onder meer toegeskryf word aan die hoë prys van kunsmis wat vir koringprodusente, net soos in die geval van mielieprodusente, ’n harde slag toedien. “Voor die oorlog in die Oekraïne het ons gehoop dat die prys van kunsmis ’n draaipunt bereik het, maar die prys is steeds hoog.”

Lees meer oor die voordele van kunsmis voor planttyd hier.

Beskikbaarheid van kunsmis

Kirsten sê daar is in die stadium nog geen aanduiding dat kunsmismaatskappye nie hierdie seisoen aan koringprodusente gaan kan lewer nie, maar dit is ’n uitgemaakte saak dat produsente onder druk is weens die prysstruktuur van kunsmis. Hy sê in die meeste gevalle het produsente reeds hul kunsmisvoorraad vir aanplantings bestel en daar word in die stadium nie ’n tekort voorsien nie. Die prentjie kan egter later in die seisoen, te midde van die konfliksituasie in die Oekraïne, beduidend verander.   

Kleiner produsente moet mooi dink

Kirsten sê buitensporige hoë kunsmispryse noop hom as produsent om ongeveer 600kg koring ekstra te produseer. Hy sê die kunsmis wat hy slegs met aanplantings toedien se prys het ten minste verdubbel vanaf verlede jaar tot vanjaar.

Daarmee saam is die situasie rondom die beskikbaarheid van stikstof boonop onduidelik. Dit is waarom produsente in lae-produksiegebiede, waarvoor die risiko bietjie hoër is, mooi sal moet dink of hulle vanjaar koring gaan aanplant. “As ’n mens tevrede moet wees met 0,6 ton/ha minder, dan moet ’n mens ’n baie fyn som gaan maak. Ek weet nie wat die langtermyneffek gaan wees nie,” sê Kirsten.

Kanola-aanplantings

Kirsten sê kanola-aanplantings het die vorige seisoen toegeneem, omdat gars weens logistieke probleme nie in die Swartland aangeplant kon word nie. Kanola was ’n goeie alternatief vir produsente in dié gebied asook in die Suid-Kaap, maar as gevolg van die situasie sien dié seisoen anders daarna uit. Kanolasaad is nie plaaslik beskikbaar nie. Kirsten sê SA voer al sy kanolasaadvoorraad in en weens droogtetoestande in Australië en Kanada, wat die grootste verskaffers daarvan is, word plaaslike voorraadtekorte ondervind.  

Hy sê sekere maatskappye het aangedui dat daar saadvoorraad op skepe op pad na SA is, maar ander maatskappye het reeds te kenne gegee dat hulle nie vanjaar kanolasaad gaan kan aanbied nie.    

Oplossings vir hoë kunsmispryse

Kirsten sê Foskor, wat einlik ’n aanwins vir SA boere moet wees, is nou ’n probleem vir hulle. Weens oneffektiewe tye van produksie en probleme rondom die beskikbaarheid van produkte, moet fosfaat nou ingevoer word, hoewel SA die beste bron daarvan in die wêreld is. “Die teleurstelling was groot dat Foskor nie Graan SA se kongres kon bywoon nie, en ons hoop dat produsente om ’n tafel met Foskor kan gaan sit om die probleem vir die hele bedryf te probeer oplos.” – Christal-Lize Muller, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak André Kirsten by 083 226 8749.