Hinterland se brandstofafdeling bestaan tans uit ongeveer 55 vulstasies wat meestal by die Hinterland-takke geleë is. Die vulstasies verskaf petrol en diesel, asook paraffien by sommige takke.

Die vulstasies ondergaan tans ’n gedaanteverwisseling met die nuwe Hinterland Fuels-handelsmerk, sowel as nuwe uniforms vir pompjoggies en ’n program om van die ouer pompe te vervang en infrastruktuur te verbeter. Hierbenewens word tans ook beplan aan die vestiging van geriefswinkels om die aanbod vir klante aan te vul.

Hinterland Fuels se hoofverskaffer van brandstof is Engen. ’n Magdom nuwe, opkomende handelsmerke vervang die bekende handelsname stelselmatig, veral op die platteland. Die produkte wat by sulke stasies beskikbaar is, kan van verskillende bronne af kom – soms plaaslik geraffineer, soms ingevoer en soms gemeng.

Spesifikasies van ’n produk
Die spesifikasies van ’n produk kan dus van een aflewering na die volgende verskil. Klante word danksy Hinterland se verhouding met Engen verseker van topgehalte produkte wat deurgaans aan die SANS 342/2016-standaard voldoen en boonop ook Engen se bymiddels vir Dynamic Diesel bevat.

Bymiddels is ’n kwessie waarvan klante nie aldag bewus is of dit verstaan nie. Die bymiddel-pakket is multifunksioneel en bestaan uit neerslagbeheer-komponente, wat ’n enjin se verlore krag onmiddellik begin herstel. Dit bestaan uit ’n reinigingsmiddel wat koolstofneerslae in die enjin verwyder, ’n anti-roesmiddel, ’n demulsifiseerder en tegnologie wat skuim verminder sodat tenks vinniger volgemaak kan word.

Die smeervermoë van diesel met ’n lae swaelinhoud is ook ’n faktor wat in ag geneem moet word, aangesien smering afneem namate diesel se swaelinhoud verminder word. Smering is noodsaaklik vir die funksionering van ’n dieselpomp en inspuiters.

Smeervermoë en bymiddels
In die geval van Engen Dynamic-diesel word die smeervermoë ook deur ’n komponent in die bymiddelpakket aangepas. Moderne dieselenjins se verdraagsaamheid is van so ’n aard dat ’n reinigingsmiddel absoluut noodsaaklik is om die inspuiters skoon te hou, die sproeipatroon te handhaaf en optimale dieselverbruik en skoon ontbranding te verseker.

Hinterland Fuels sal binnekort 500ppm diesel uitfaseer as deel van die Clean Fuels 2-inisiatief, wat daarop gemik is om lug se gehalte te verbeter en te verseker dat Suid-Afrikaanse brandstof geskik is vir die nuutste tegnologiese enjinontwikkelings.

Engen Dynamic Diesel 50ppm is geskik vir ouer dieselenjins en geen verstellings is nodig vir die oorskakeling nie. Die brandstofverbruik word grootliks bepaal deur die toestand van die enjin en ander eksterne faktore. Die diesel kan ook met ander handelsmerkprodukte gemeng word, hoewel die doeltreffendheid van die bymiddelpakket dan beïnvloed sal word.

Diesel is dus nie dieselfde by alle vulstasies nie, en dit bly ’n belangrike besluit vir motoriste en eienaars van swaar dieseltoerusting om die beste moontlike verbruik en lewensduur te verseker. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY