Estimated reading time: 3 minutes
Suid-Afrika se top Sauvignon Blanc-wyne is veelsydig én elegant, en verbruikers regoor die wêreld kan nét die beste verwag. Só meen die paneel vooraanstaande wynkenners wat vanjaar die beste tien uit 161 wyne moes aanwys tydens die gesogte 2022 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie.
Vanjaar se top tien (in alfabetiese volgorde) is soos volg:
- Bonnievale The River Collection Sauvignon Blanc 2022.
- Cilmor Winemaker’s Selection Sauvignon Blanc 2021.
- De Grendel Sauvignon Blanc 2022.
- Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2022.
- Kleine Zalze Vineyard Selection Sauvignon Blanc 2022.
- KWV Cathedral Cellar Sauvignon Blanc 2020.
- Paul Clüver Village Sauvignon Blanc 2022.
- Spier 21 Gables Sauvignon Blanc 2021.
- Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc 2022.
- Zevenwacht Z Collection Sauvignon Blanc 2021.
Lees meer oor Suid-Afrika se elite wyne hier.
Sauvignon Blanc SA het die wenners op Donderdag 13 Oktober aangekondig tydens ʼn besonderse toekenningsgeleentheid by FNB Portside in Kaapstad, met Success Lekabe as seremoniemeester en Sunset Sweatshop wat die gaste vermaak het. Vanjaar se kompetisie, die enigste wat ten volle aan Sauvignon Blanc toegewy is, is weer eens met die ondersteuning van die top tien-titelvennoot FNB en die platinumvennoot, EVER Solutions, aangebied. Van die tien kampioenwyne is ses van die 2022-oesjaar, drie van 2021 en een van 2020. Die wenners kom van vele uiteenlopende streke soos Bonnievale en Worcester, Durbanville en Kaapstad, Stellenbosch se Polkadraai-heuwels, Elgin en Elim.
Paneel van beoordelaars
Die kundige paneel wynkenners tydens vanjaar se beoordeling was die sameroeper, dr Winifred Bowman (Kaapse wynmeester, wynbeoordelaar en -skrywer), Fiona McDonald (wynbeoordelaar en -skrywer), Johann Fourie (hoof-wynmaker by Benguela Cove), Morgan Steyn (wynmaker by De Grendel), René Groenewald (Kaapse wynmeester) en aspirant-beoordelaar Mahalia Kotjane (assistentwynmaker by Lievland).
“Vanjaar se top tien is opwindend en besonders treffend,” sê RJ Botha, Sauvignon Blanc SA se voorsitter. “Dit is ongelooflik hoe ons wynmakers hul besonderse terroir benut om hul eiesoortige style van Sauvignon Blanc te produseer. Die 102 produsente wat 161 wyne ingeskryf het, verdien lof vir die stempel wat hulle afdruk in die style en geurprofiele uit verskeie terroirs en streke.
Lees meer oor Vinpro se verslag oor wyntoerisme hier.
“Hierdie jaar word weer eens geken aan die uitstekende balans van wenwyne wat vir die eerste keer in die top tien verskyn, asook dié wat reeds voorheen hierdie prestasie behaal het. Baie dankie aan ons vennote, FNB en EVER Solutions, vir hul begrip vir ons bedryf én hul bydrae tot ons sukses,” sê Botha.
Stephan Claassen, provinsiale hoof van besigheid in die Wes- en Oos-Kaap by FNB, het die 2022 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-wenners, wat steeds in ’n uiters wisselvallige en mededingende omgewing presteer, gelukgewens.
“Vir SA se Sauvignon Blanc om mededingend en volhoubaar in die wêreld-arena te bly, is dit noodsaaklik dat ons voortgaan om hierdie wyne te vier én platforms te bied aan talentvolle produsente wat hulle in staat stel om hul vaardighede te slyp en ten toon te stel. Ons plaaslike Sauvignon Blanc-produsente maak deurlopend wyn van uitstekende gehalte. As FNB is ons opgewonde om ons met hierdie opwindende en groeiende deel van die wynbedryf te assosieer,” sê Claassen.
Lees meer oor die Noord-Kaapse wynbedryf hier.
Emanuele Bartolucci, uitvoerbestuurder van EVER Solutions, het die wenners in ’n videoboodskap vanuit Italië gelukgewens. EVER, ’n toonaangewende internasionale vervaardiger van hulpmiddels in die wynmaakproses sedert 1973, dryf sedert 2006 in Suid-Afrika handel.
“Ons is trots daarop om die afgelope twee jaar ’n platinumvennoot van Sauvignon Blanc SA te wees, saam met ons Suid-Afrikaanse sustermaatskappy, EVER Solutions. Baie geluk aan die top tien-wenners en aan alle Sauvignon Blanc-produsente. Ons sien uit na die Concours Mondial du Sauvignon in Suid-Afrika in 2023.” – Sauvignon Blanc SA