Hidrobreking – ’n bedreiging vir streeksvoedselsekerheid

Estimated reading time: 2 minutes

Agri SA het onlangs kommentaar gelewer op nuwe konsep-regulasies wat hidrobreking (fracking) reguleer. Gegewe die risiko’s wat dit vir die land se skaars waterhulpbronne inhou, versoek die organisasie dat die regering die regulasies onttrek en alle planne verwerp om hidrobreking in Suid-Afrika (SA) toe te laat.

Hidrobreking sal ’n vernietigende uitwerking hê op die land se vermoë om voedsel te produseer. Daar is ’n oorvloed van wetenskaplike navorsing wat daarop dui dat hidrobreking ’n uiters ernstige risiko vir die omgewing inhou, veral waterhulpbronne. Dit word vererger deur ons beperkte kennis rakende die langtermyn-gevolge daarvan.

Lees meer oor onteieningswetsontwerp hier.

Hidrobreking vereis die gebruik van groot hoeveelhede water tydens eksplorasie sowel as produksie. Gegewe die chemikalieë wat in die proses aangewend word, word die water wat tydens eksplorasie en produksie van petroleum gebruik word, ook tydens die proses besmet. Dit skep sodoende ’n aansienlike besoedelingsrisiko vir diepliggende en vlak ondergrondse waterbronne, asook oppervlakwaterbronne en die omliggende omgewing.

SA is reeds ’n uiters waterskaars-land. Ons staar teen die jaar 2030 ’n 17%-watertekort in die gesig, met ’n geraamde belegging van R33 miljard per jaar wat oor die volgende tien jaar benodig word om die dreigende tekort aan te spreek.

Lees meer oor die onlangse Overberg Streeksjeugskou hier.

SA sal swaar trek met dié besoedelende gasbedryf

Die SA landbousektor kan tans teoreties voldoende voedsel aan die land en sy buurlande voorsien. Die aanduidings is egter dat voedselproduksie in die kort- en mediumtermyn dramaties sal moet verhoog as gevolg van bevolkingsgroei.

Omgewingsbeheer in SA, wat geïntegreerde waterhulpbronbestuur insluit, is uiters kommerwekkend. Die regering se prestasierekord van omgewingsbestuur van SA se water- en ander natuurlike hulpbronne oor al drie sfere heen dien as duidelike bewys daarvan dat die regering tot dusver versuim het om sy grondwetlike pligte in dié verband na te kom.

Lees meer oor die weeklikste weer saam met Johan van den Berg hier.

Die verslag wat die Departement van Water en Sanitasie onlangs gepubliseer het, naamlik die National State of Water Report, asook die regulasies, onderstreep hierdie punt soos volg: “Government’s regulation and management of waste disposal facilities has been shown to be wholly inadequate. This is in part due to the structural/institutional shared executive and legislative competence of provincial and local authorities in this regard”.

Die realiteit is dus dat SA nie ’n uiters dorstige en besoedelende gasbedryf hier te lande kan akkommodeer nie, sonder dat dit die landbousektor se vermoë ondermyn, om voldoende voedsel aan sy groeiende bevolking en buurlande te voorsien. – Persverklaring, Agri SA