HomeAgri NewsHernubare krag: NWK het groot planne vir sonneblomsaaddoppies

Hernubare krag: NWK het groot planne vir sonneblomsaaddoppies

-

Estimated reading time: 6 minutes

NWK is in die finale fase om sy Lichtenburg-hoofkantoor van Eskom se netwerk te verwyder. Drie van sy silo’s word met sonkrag toegerus en daar is groot planne om binne die volgende paar jaar sy sonneblompars met hernubare energie, wat deur sonneblomreste opgewek word, aan te dryf.

Só het Theo Rabe, groephoof- uitvoerende beampte van NWK, onlangs tydens ‘n mediasessie te kenne gegee.

“In 2013 het NWK se totale energiekoste op R18 332 807 gestaan en binne ‘n dekade het dit na R55 999 355 gestyg,” het Rabe gesê en bygevoeg dat hulle vanjaar R21 319 264 miljoen aan kragopwekkers moes spandeer (Figuur 1). “Danksy fase 6-beurtkrag het NWK se kragopwekkerkoste met 401% toegeneem. Meer as ‘n derde (38%) van ons totale energiekoste word aan kragopwekkers spandeer.”

Indien geen beurtkrag ingestel was nie, glo Rabe dat die maatskappy se energiekoste vir die jaar slegs R25 miljoen sou wees.

Lees meer oor NWK se graankontrolestelsels.

Sonneblomsaaddoppies as alternatief

NWK se oliesaadpers, Epko, kon slegs die helfte van sy sonneblomolieparskapasiteit oor die afgelope jaar verwesenlik (Figuur 2). “Die aanleg kon vir 1 549 uur in totaal as gevolg van kragonderbrekings nie pars nie, wat tot ʼn direkte inkomsteverlies van R39 809 300 gelei het,” sê Rabe. Dié onderbrekings het die pers se masjinerie beskadig en gevolglik was meer as R1,7 miljoen se herstelkoste nodig. As ongeveer R3 miljoen se dieselkoste van kragopwekkers in berekening gebring word, het Epko amper R45 miljoen as gevolg van kragonderbrekings oor die afgelope finansiële jaar verloor.    

Om dié rede hoop Rabe dat die maatskappy se raad en aandeelhouers sal instem om binne die volgende 18 maande ʼn R200 miljoen kragopwekkingsfasiliteit langs die huidige Epko te bou. Die beoogde fasiliteit sal 2,2 megawatt (MW) se krag opwek, wat ʼn raps meer is as die energie (2 MW) wat tans deur die oliepers benodig word.

Die pers het ‘n vermoë om 172 000 ton sonneblomsaad te pers en die sonneblomdoppies, ʼn byproduk van die parsproses, sal ingespan word om krag op te wek. “Ons sal 70 ton brandstof per dag benodig om die fasiliteit aan te vuur en al wat ons sou keer om meer krag (as 2,2 MW) op te wek is die feit dat ons hoeveelheid sonneblomdoppies beperk is.”

Buiten dat Epko sy eie krag sou opwek, sal dié skuif ook beteken dat die maatskappy koolstofkrediete sal ontvang. Rabe glo ‘n konserwatiewe skatting is dat dié projek homself binne vyf en ‘n half jaar sal afbetaal.  

Lees meer oor NWK se grondpad-projek.

Skuif na sonkrag

NWK se besighede het oor die afgelope jaar ‘n allemintige bedrag aan brandstofkoste spandeer en daarom is hulle besig om alle afdelings tot ‘n meerdere of mindere mate van die Eskom elektrisiteitnetwerk te verwyder.

‘n Belegging van R47,6 miljoen se sonkragstelsels is aangegaan om NWK se verskillende besigheidsvertakkings minder afhanklik van kragopwekkers te maak. By die hoofkantoor is R15,7 miljoen belê in 1 124 sonpanele en 1,2 MWh se batterystoorkapasiteit (drie eenhede) om 618 kWp op te wek.

“Ons het 25 Mei ons hoofkantoor se munisipale krag by die boksie afgesit,” sê Rabe. Maar hy erken dat hulle steeds die stelsel uittoets voor hulle heeltemal van die netwerk sal afklim. “Dit is nie ‘n besluit wat mens ligtelik kan neem nie, want as jy eers af is gaan jy nie weer terugklim nie.”

By die Lichtenburg-handelstak, NWK Retail, is ’n R2,4 miljoen sonkragstelsel aangebring, wat 169 kWp kan opwek. Dit bestaan uit 681 sonpanele en ‘n 200kWh batterystoorkapasiteit. “Die handelstak het reeds ‘n stelsel gehad, wat opgegradeer is met verouderde toerusting vanaf die hoofkantoor.”

Die Sannieshof-, Delareyville- en Ottosdal-silo’s is onderskeidelik met R7 miljoen, R12,3 miljoen en R9,3 miljoen se sonkragstelsels toegerus. “Ons silo’s gaan waarskynlik nooit ten volle van die Eskom-rooster afklim nie en kragopwekkers sal steeds nodig wees,” sê Rabe, maar hy voeg by dat die kragopwekkers nou meer van ‘n bystanddoel sal inneem.

Staat versuim algehele plig

Rabe glo die staat is besig om hul plig teenoor alle landsburgers te versuim en dat dit direk gelei het tot hoër energiekoste, voedselkoste en waterkoste.

Vir Lichtenburg se burgers is dit ‘n daaglikse stryd om veilige, skoon drinkwater te verkry. Daarom het NWK boorgate op al hul persele laat sink en ʼn watertenker staan permanent langs hul hoofkantoor, waar inwoners water kan gaan afhaal. “Hoewel die reg tot skoon drinkwater ‘n basiese mensereg is, word hierdie basiese diens nie deur die staat in hierdie dorp gebied nie. Dis dalk beter so, want as hulle water sou aanry, sal dit nou weer deur ‘n tenderproses geskied en dan gaan dit met astronomiese koste gepaard,” sê Rabe.

Hy sê: “Die probleem is dat besighede nou moet inspring en herstel waar die staat sy plig versuim. Dit beteken dat ondernemings só moet fokus om probleme op te los, dat hulle nie kan fokus om die besigheid uit te brei nie.”

Daarom moedig Rabe lede van die publiek aan om tydens die volgende verkiesing vir oordeelkundige leiers te stem, sodat die staat meer funksioneel sal word en besighede op hul kernfunksies kan konsentreer.

* NWK se 2022/2023 finansiële state is steeds aan ouditeur goedkeuring onderhewig. – Susan Marais, AgriOrbit

Must Read

BKB Merino Ope vertoon die room van SA Merino’s

Estimated reading time: 2 minutes Die BKB Merino Ope wat deur Nampo Kaap op Bredasdorp aangebied is, het 13 Merino-telers gelok wat met uitstekende...