Estimated reading time: 5 minutes
Eskom sukkel tans om genoeg grondeienaars te oortuig om serwituut-ooreenkomste te onderteken, sodat hernubare krag vanaf die suide van die land na die noorde kan vloei. Só het Ronald Marais, ’n senior strategiese kragnetwerk-beplanner by Eskom, tydens Son SA se onlangse Sonkrag Ekspo gesê.
Die geleentheid is in Pretoria aangebied in samewerking met EnerGAfrica, Saai, TLU SA en AgriX.
“Dit kan tot R14 miljoen kos om ‘n kilometer van die nodige kragkabels aan te lê en daarom moet ons die kortste roete tussen hernubare kragstasies (vernaam die Noord-Kaap) en die meerderheid verbruikers (Gauteng/Mpumalanga) vind, anders sal dit eenvoudig nie ekonomies lewensvatbaar wees dat produsente hul krag kan terugstoot in die elektriese netwerk nie,” het Marais gesê.
Tans vind sowat 78% van die land se tradisionele steenkoolkrag kragopwekking in Mpumalanga plaas en sowat 79% van alle gebruik vind ook in die noorde van die land plaas.
“Die probleem is dat die land se hernubare elektrisiteitsbronne oor die kort termyn vinnig sal moet uitbrei om steenkoolkrag al meer te vervang,” sê Marais. Hy voeg by dat hernubare energie slegs in die netwerk teruggestoot kan word indien die nodige infrastruktuur vir só iets bestaan. “Daarom het ons nodig dat genoeg grondeienaars hul samewerking gee.”
Lees meer oor AgBiz se gesprekke met Eskom.
“Beurtkos” reeds realiteit
Terwyl Eskom egter met dié dilemma worstel, sê dr Theo de Jager, voorsitter van die Suider Afrikaanse Agri-Inisiatief (Saai) dat Suid-Afrika reeds sy eerste smakie van ‘beurtkos’ beleef het toe onder andere kitskosrestaurante nie genoeg hoender en aartappels gehad het om aan kliënte se behoeftes te voorsien nie.
“Ons moet onthou dat die mensdom se oorlewing afhanklik is van die kos-water-energie-neksus. En as jy dink dis ongemaklik om in die donker te moet sit tydens beurtkrag, het jy geen idee wat vir ons wag nie. Om honger te wees danksy voedseltekorte gaan baie erger wees.”
Oopkop, nugter denke nodig
Tommy Garner, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragvoorsienersvereniging, sê hoewel produsente in die versoeking kan wees om eensklaps van die kragnetwerk af te klim, is dit belangrik om versigtig besluite te neem. “Moenie summier die bakkiebrigade vertrou wanneer dit kom by die verkryging van goed soos sonkragpanele en batterye nie.”
Garner voeg by dat produsente sover moontlik hande met Eskom en munisipaliteite moet vat, sodat gesamentlike oplossings gevind kan word. “Dit gaan altyd goedkoper wees om hernubare energie met konvensionele krag te inkorporeer deur dit met die nasionale kragnetwerk te verbind, eerder as om die netwerk te omseil.”
Produsente moet hulself egter só inrig dat hul steeds kos kan produseer, selfs al sou die semi-staatsinstelling heeltemal in duie stort, beveel Garner aan. “Sedert 2010 het niemand gedink dat Eskom heeltemal sou omval nie, maar die hoë vlakke van beurtkrag moet as waarskuwing dien dat dinge dalk nog baie erger gaan word.”
James Mackay, uitvoerende hoof van die Energieraad van Suid-Afrika, stem saam dat Suid-Afrikaners ʼn balans tussen hernubare energie en fossielbrandstowwe moet vind.
“Ons moet besef dat energie ‘n fundamentele bousteen vir enige funksionerende moderne samelewing is en dit gaan ‘n monumentale nasionale poging verg om te verseker dat die land weer energie-seker is.”
Mackay sê dis egter belangrik dat Suid-Afrika nuwe tegnologie moet inkorporeer, omdat die energiebedryf se koolstofvoetspoor blitsig verklein.
AfriForum se gedesentraliseerde kragplan
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê terwyl Suid-Afrika sedert 1860 elektrisiteit op kleinskaal opwek, is die sentrale elektrisiteitsnetwerk slegs 113 jaar oud en dit is duidelik uit Eskom se huidige kragprobleme dat sentralisme besig is om te faal.
“Om hierdie rede wil AfriForum graag gemeenskappe bemagtig om beheer van hul individuele munisipale kragsentrales te neem, sodat bestendige energietoevoer verseker kan word deur gemeenskapsfederalisme.”
Die eerste fase van die burgerregtelike organisasie se driefase-plan is dat individue en ondernemings oor die korttermyn gehelp moet word om na hernubare energie oor te skuif, sodat die staat se monopolie op kragvoorsiening gebreek kan word.
Die volgende fase is om gemeenskappe te help om binne hul munisipale gebiede hul kragnetwerk te begin bestuur. “Frankfort is ‘n bewys dat dit moontlik is vir gemeenskappe om selfvoorsienend te word. Deur gemeenskapsforums, wat nie op winsbejag ingesteld is nie, kan dié droom waar word.”
Kriel sê bestendige nie-ANC dorpe sal eerste deur AfriForum geteiken word om beurtkragvry te kom.
Oor die langtermyn is dit egter belangrik om na opsies soos veilige modulêre kernkrag te kyk. Daar is egter baie duur regulatoriese kragte wat steeds in dié tipe kragstelsels se pad staan.
“Burgers voel dalk mismoedig, maar daar ís lig aan die einde van die tonnel. Dis egter nie die Eskom-trein nie, maar die helder lig van gemeenskapskrag. Letterlik en figuurlik.” – Susan Marais, AgriOrbit