Monday, December 8, 2025

Herlewingsplanne vir Vryburg-skou

Estimated reading time: 3 minutes

Een van die hoogtepunte op die Noordwes-landboukalender kan eersdaags herleef as ’n mens die bostelegraaf kan glo.

Die Vryburg-skou was vir baie jare die trots van die dorp en die vertoonvenster van beesboerdery in die Noordwes-provinsie. Sommige jare was daar tot 1 200 van die land se mooiste beeste van verskillende rasse daar vertoon. Vryburg-skou was as die grootste beesskou in die land gereken en dit was vir elke deelnemer ’n spesiale pluimpie in die hoed as hy kon sê hy het ’n toekenning by die Vryburg-skou verwerf. Na afloop van elke jaar se beesbeoordelings was die asemrowende Goue Beker-parade een van die hoogtepunte van die skou waar die land se mooiste beeste in een parade vertoon is.

Dié skou het egter op ’n afdraande pad begin loop weens politieke inmenging en swak bestuur, en ironies genoeg, het die skou sy finale nekslag gekry in 2016 toe Vryburg-skou eenhonderd jaar oud was. Dié jaar was daar geen kommersiële skou nie en die beesafdeling was ook maar beroerd. Sedertdien het die skou gesukkel. Verlede jaar was daar maar 150 beeste vertoon, meestal Brahmane. Die huidige skoukomitee is egter vasberade om die stoetafdeling van die skou weer in al sy glorie te laat herleef.

Herlewingsplanne

Ricks Esterhuizen, voorsitter van die skou se stoetafdeling, sê hulle werk hard daaraan om weer al die rasse hier terug te kry. In 2027 beplan hulle om weer die Simmentaler Nasionale Kampioenskap op Vryburg te hou. Die kampioenskap word elke tweede jaar gehou en vanjaar was dit op Lichtenburg.

Alles moet egter met klein treetjies gedoen word en hul oogmerk is om volgende jaar tussen 300 en 400 beeste te skou en verder daarop voort te bou. Dit is bo en behalwe die bokskou wat ook steeds elke jaar hier gehou word. Esterhuizen noem egter ook dat stoetboere oor die algemeen weens finansiële redes nie meer wil skou nie. Volgens hulle raak dit te duur om beeste vir ’n skou af te rond.

Intussen laat blyk die Naledi Munisipaliteit van Vryburg vir die afgelope 10 jaar al dat hulle die skou wil laat herleef. Na vele onderhandelings met die Departement van Landbou, het die Noordwes-LUR vir landbou, Madoda Sambatha, verlede week in ’n persverklaring bekend gemaak dat die ikoniese “Noordwes-landbouskou” in September vanjaar weer sal plaasvind.

“Ons bring weer ’n platform terug wat lank gelede die boere, produsente, jeug, en innoveerders verenig het, om weer landbou te vier,” sê Sambatha. Hy noem ook dat daar van volgende jaar af verskeie skoue in die Noordwes-provinsie gehou sal word en dat die Noordwes-landbouskou op Vryburg die vlagskip van hierdie projek sal wees. Dit is nie bekend of hulle slegs stoetvee gaan vertoon en of dit vir opkomende boere is nie.

In sy persverklaring, blyk dit dat die Noordwes-landbouskou die ou Vryburg-skou gaan vervang, maar Esterhuizen het die versekering gegee dat dit nie die geval is nie. Hy sê die stoetvee-afdeling van die Vryburg-skou het besluit om van volgende jaar af hul naam na die “Kraalfees” te verander ten einde enige verwarring te verhoed. Hy sê ook dat hulle steeds op eie stoom sal voortgaan met hul strewe om ’n plek vir die land se stoetveetelers te skep waar hulle met hul diere kan kom spog.

Hy en sy span beoog verder om van ’n kommersiële skou weg te breek en dit uitsluitlik ’n veeskou te hou waarby hulle ook verskaffers van veeprodukte geleentheid sal gee om hul produkte uit te stal. Hierdie Kraalfees gaan steeds van 10 tot 12 Maart 2026 gehou word, terwyl die Noordwes-landbouskou in September gaan plaasvind. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Popular stories