Herkouerdag moedig volhoubaarheid aan

Estimated reading time: 6 minutes

Overberg Agri het vanjaar sy tweede herkouerdag op die maatskappy se Roodebloem-proefplaas naby Caledon in die Suid-Kaap aangebied. Ruben Badenhorst, landbou-adviseur van die maatskappy, het in sy verwelkoming gesê Overberg Agri bied vir etlike jare al graaninligtingsdae aan. Met die herkouerdag word vee-georiënteerde inligting aan produsente oorgedra om die volhoubaarheid van hul boerderye te verseker.

Die eerste herkouerdag van sy soort is verlede jaar aangebied en met vanjaar se opkoms van ongeveer 300 mense, is dit duidelik dat daar ’n behoefte aan vee-inligting is, het hy gesê. Die dag het oor verskeie vertakkings van veekunde soos veeartseny, voeding, wol, bemarking, vleis, die ekonomie van veeboerdery en demonstrasies van die nuutste tegnologie gehandel.

Van die onderwerpe wat bespreek is, was die potensiaal van en uitdagings in die rooivleisbedryf, wurmweerstand, die beperking van reproduksieverliese deur siektevoorkoming, mikotoksiene se invloed op prenatale reproduktiewe sukses, en die vermindering van lamvrektes. Daar was ook ’n paneelbespreking oor wat skaapboerdery suksesvol maak en ’n ekonomiese analise van skaapboerdery.

Die belangrikheid van inentings

Veeboere moet aanvaar dat parasiete weerstand teen bied chemiese middels. Dit is ’n gegewe. Daar is egter ook dinge wat weerstand namaak. Produsente moet dus weet waarna hulle moet kyk voor hulle doseer en ook hoe hulle weerstand tot ’n mate kan teenwerk, het dr Hensie Lategan van Bredasdorp Dierekliniek tydens die herkouerdag gesê.

“Kleinveeboere moet doseer. Proewe in Suid-Afrika en ook in lande soos Australië en Nieu-Seeland het gewys jy kan nie doeltreffend sonder dosering boer nie. Jy moet oordeelkundig doseer met die regte middel op die regte tyd teen die regte dosis vir die regte diere,” het dr Lategan gesê.

Alle skape op weidings word aan larfbesmetting blootgestel en gaan larwes optel. “Navorsing het getoon dat, binne ’n paar uur nadat ’n lam aan ’n larf blootgestel is, die lam ’n gedragsverandering ondergaan. Hulle begin minder vreet en die vreetpatrone verander. Die lam het ’n immuniteitsrespons omdat hy nou weerstand moet opbou. Die respons benodig energie en die lam kan nie daardie energie gebruik om te groei nie.”

Dr Lategan het gesê die meeste wurmmiddels is oud, maar daar is redes waarom dit lyk of die middels nie werk nie en daar weerstand teen die middels is. Van die redes is hoë parasietladings in kampe, infeksies soos koksidiose, en groenweiding wat diere se pense laat werk, siektes soos Johne se siekte wat dieselfde simptome het, oordosering en foutiewe spuite.

Een aborsie betaal 200 inentings

Dr Donavin Reynolds van Hipra het gesê reproduksieverliese in skape vind plaas as gevolg van embrioniese resorpsie, aborsies, stilgeboortes of swak lammers. Die koste van ’n enkele reproduksieverlies wissel van plaas tot plaas, maar kan tussen R1 500 en R2 500 beloop.

Dit is belangrik om aksieplanne om verliese te voorkom, gereeld te hersien. “Reproduksieverliese kan deur siektevoorkoming beperk word deur geaffekteerde diere te identifiseer en te isoleer, van jou veearts gebruik te maak om ’n spoedige diagnose te maak, alle oorblyfsels van die aborsie en nageboorte te verwyder, die fasiliteite te ontsmet, die regte inentingsprogram op te stel en toe te pas, en deur vektore (rotte, muise en ander plae) te beheer.”

“Diegene wat wonder oor inentings teen ensoötiese aborsie moet die somme gaan maak. Die voorkoming van een aborsie kan vir ongeveer 200 dosisse inentings teen aborsie betaal,” het dr Reynolds gesê.

Vermy die verlore lam

Dr Josef van Wyngaard, tegniese bestuurder by Voermol Voere, het gesê daar is twee basiese reëls wat op enige plaas van toepassing is. Die eerste is dat ondervoeding of wanvoeding ernstig moet wees (50 tot 70% van onderhoud) en/of meer as 90 dae moet duur om permanente skade te veroorsaak. Die tweede reël is dat vergoeding altyd moontlik is as die eerste reël nie verbreek word nie.

Hy het gesê voeding tydens vroeë- en middragtigheid is belangrik omdat wanvoeding tydens dragtigheid kan lei tot resorpsie van die embrio (dag 14 tot 21 van dragtigheid), laer geboortegewig van tot 18%, laer oorleefbaarheid van tot 6%, laer speengewigte van tot 23%, en laer leeftydproduksie en -reproduksie (generasievoeding).

“Maak die som wat ’n verlaging van 23% in speengewig jou gaan kos, dan sal jy sien hoe groot die verlies in randwaarde is. Jy moet dus aan die ooi se voedingsbehoefte voldoen deur strategiese aanvulling en dit aanpas by die gehalte en beskikbaarheid van ruvoer op die plaas,” het dr Van Wyngaard gesê.

Mikotoksiene verlaag prestasie

Dr Francois van de Vyver van Kemin Industries Sub Sahara Africa, het gesê die doelwit tydens vroeë dragtigheid moet wees om liggaamskondisie te handhaaf, fluktuasies in die voedingspeil te vermy en so embrio-inplantering te verseker.

Hy het gesê mikotoksiene in voeding sal diere se immuniteit onderdruk (wat verhoogde insidensie van infeksies, erger siektesimptome, lae sukses van behandelings en verswakte werking van entstowwe kan veroorsaak) en verlaagde diereprestasie, orgaanskade en reproduksie-effekte tot gevolg hê. Mikotoksiene kan lei tot resorpsie en lae lampersentasies.

Mikotoksiene op plase kan bestuur word deur agronomiese praktyke wat nou aandag in navorsing kry, maar hierdie praktyke is moeilik om te bestuur. Dit kan ook bestuur word deur die regte opbergingspraktyke, wat makliker is om te bestuur deur op die regte tyd en vogvlakke te sny, en in regte toestande te berg. Ander metodes is biologiese beheer, chemiese deaktivering, binding van mikotoksiene met geaktiveerde kleie, koolstof en gis-selwande, en deur die ondersteuning van dieregesondheid.

“ ’n Gesonde dier kan stres, probleme en risiko’s net soveel beter hanteer as ’n dier wat siek is,” het dr Van de Vyver gesê.

Luister na die beste produsente

André Fourie van Anker Agri Adviseurs op Bredasdorp, het gesê skape kan nie met saaiery meeding nie. Skaapboerdery het ’n plafon; dit gaan egter nie daaroor nie, maar eerder oor hoeveel risiko die vertakking dra en hoe ekonomies jou hele boerderystelsel is.

Hy het ook gesê produsente moet raad vra by die beste medeprodusente. “Luister na die boonste derde produsente in jou omgewing. Jy leer niks by die gemiddelde groep of die onderste derde nie.”

Die beste derde produsente aan wie hy adviesdienste lewer (ongeag die boerderystelsel wat gevolg word) se bruto produksie in 2022 het R3 069 per ooi beloop (R862 vir wol en R2 207 vir lewende hawe). As die produksiekoste in ag geneem word, is die bruto marge R1 916 per ooi en die netto boerdery-inkomste R1 335 per ooi.

  • André Fourie van Anker Agri Adviseurs, Bredasdorp.

Teen ’n drakrag van drie ooie/ha is die netto boerdery-inkomste van die beste derde produsente sowat R4 000/ha. My beste produsent se netto boerdery-inkomste is R4 800/ha. Dit is die plafon waarteen skape vashaak,” het hy gesê.

Fourie se beste derde produsente het meer as een lamseisoen per jaar asook kort teelperiodes (daar is produsente wat net 23 dae paar). Die produsente se ooie kry nie ’n tweede kans nie, hulle skandeer hul ooie en pas die soog-en-droogmetode toe. Hulle hou hul ooie in ouderdomsgroepe aan en laat nie die ooie te oud word nie.

Die beste derde produsente pas ook ’n goeie gesondheidsprogram en strategiese voerprogram (prikkel-, kruip- en afrondvoeding) toe. Hulle het ’n lamstelsel, speen vroeg (op gewig en nie ouderdom nie), maak seker hul jong ooie groei goed uit, het ’n korter skeertydperk, sowel as ’n mate van terminale kruisteling (tweede kudde). Die produsente bemark slaglammers (nie stoorlammers nie), pas optimum drakrag per hektaar weiding toe en kyk na produksiedoeltreffendheidsyfers, het Fourie gesê.

Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm) was die hoof mediaborg van die dag en wens graag die organiseerders geluk met ‘n uitstekende program en opkoms. – Hugo Lochner, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Ruben Badenhorst by rubenb@overbergagri.co.za of 076 697 6159.