Die toenemende voorkoms van hartwater onder skape is op die laaste vergadering van verteenwoordigers van die Nasionale Dieregesondheidsforum en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bespreek.

Read it in English

Hartwater kom meer in die Oos-Kaap voor, spesifiek onder skape en bokke. Die siekte word deur wild en bosluise versprei. Dit het onder Angorabokke begin, maar het nou al na verskillende bokrasse en skape versprei. Die bloed-entstof is beskikbaar, maar die kultuur-entstof word tans ontwikkel.

Ander sake wat bespreek is, sluit in diere-identifikasie. ’n Diere-identifikasie en naspeurbaarheidsindaba sal in Augustus aangebied word. Weerstand teen antibiotika is ook onder die soeklig geplaas. Die vergadering was dit eens dat die boodskap by boere moet uitkom dat op elke plaas rekord gehou moet word van die gebruik van antibiotika. Die omsigtige gebruik daarvan moet bevorder word. Oor dierewelsyn was die vergadering dit eens dat die OIE (Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid) se welsynstandaarde uitstekend is en dat die volgende stap sal wees om dit in werking te stel.

Lees ‘n in-diepte artikel oor hartwater. 

’n Werkswinkel sal daaroor by die Universiteit van Pretoria se veterinêre fakulteit by Onderstepoort aangebied word, wat ook een van die vennote is wat die OIE se welsynstandaarde gaan toepas. Daarmee saam is die Dierebeskermingswet ook baie meer omvattend. Dit behoort die basis van alle dierewelsyn in Suid-Afrika te wees. Die herstel van grensheinings is ook bespreek, sowel as die Nasionale Skutwet. Die skutte wek kommer, omdat daar nie genoeg geriewe vir diere beskikbaar is nie. – RPO nuusbrief

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY