Hael het op 6 Januarie groot skade aangerig op twee plase in die Britstown-omgewing in die Noord-Kaap. Op die plaas Kareehoek van Casper en Loudine Byleveld, eienaars van die Nico Boerbok-stoetery, is sowat 3 000ha se veld verwoes. Groot skade is ook op ’n buurplaas aangerig.

“Binne minute het een van die mooiste velde wat ek nog gesien het, verander na ’n kaal veld waar die gras platgeslaan is en die bosse van alle blare gestroop is. Dit lyk nou of daar ’n erge droogte is,” sê Casper.

Casper is sedert 2007 op die plaas en het voor die hael soveel skade aangerig het, die veld nog nooit so mooi gesien nie. Die totale reënval vir 2021 het 355 mm beloop. Die gemiddelde reënval is 180mm tot 200 mm. “Die veld is welig. Die bossies het geil gegroei en die gras is knie-hoogte. By die dele waar die hael deurgetrek het, is daar nou niks oor nie.”

Casper sê die haelkorrels se grootte het gewissel van duifeiergrootte tot gholfbalgrootte. Buiten die skade aan die veld, het die hael drie boklammers doodgeslaan, ’n klomp lammers gekneus en ’n klomp duiselig geslaan. Vensters en glasveselplate is ook stukkend geslaan. – Hugo Lochner, AgriOrbit