Thursday, March 30, 2023

Grootste wins óóít vir NWK

Estimated reading time: 3 minutes

Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy het die afgelope finansiële jaar sy grootste wins óóít behaal, en dit is boonop bykans 60% hoër as dié van die vorige finansiële jaar.

NWK het in die finansiële jaar wat op 30 April 2022 geëindig het, ʼn voorbelaste wins van R346 miljoen verdien. Die belaste wins vir die jaar is R267 miljoen – 59%, oftewel R100 miljoen meer as die vorige jaar. Volgens Heinrich Krüger, voorsitter van NWK se direksie, kan dié besonderse prestasie grootliks toegeskryf word aan gunstige weerstoestande en die suksesvolle implementering van die maatskappy se sogenaamde omdraaistrategie.

Die groep se omset het met 25,1% verhoog. ʼn Opbrengs op ekwiteit van 16,9% vergelyk uitstekend met die doelwit van 12,5% teen 2024, wat die direksie aan die groep gestel het. ʼn Tussentydse dividend van 25 sent is reeds uitbetaal en ʼn finale dividend van 25 sent is goedgekeur. Daar is voorts R14 miljoen vir die aankoop van aandele vir NWK se Lojaliteitsprogram vir die 2022 finansiële jaar goedgekeur.

Lees meer oor NWK se grondpadprojek hier.

NWK se handelsegment het ʼn wins van R182 miljoen behaal, wat ʼn verhoging van 36,8% in vergelyking met die vorige jaar behels. Dit kan toegeskryf word aan verhoogde verkope van landboukundige produkte, veral chemikalieë, omheiningsmateriaal en veevoere.

“Die landbouklimaat was baie gunstig danksy goeie reën. Klante het dus meer spandeer om grondregstellings te doen, die nodige bemesting toe te dien en die regte bewerkingspraktyke te volg,” het Pieter Kleingeld, groep-hoof finansiële beampte van NWK gesê. “Goeie oeste en kommoditeitspryse laat klante met meer kontant in hulle sakke, wat hulle in staat stel om meer kapitaalspanderings aan te gaan.

Lees meer oor die saaiboerdery-organisasies se Prieska besoek hier.

Fokus op volhoubaarheid

NWK fokus die afgelope paar jaar daarop om sy klantediens te verbeter, en ook dít word in die baie aankope weerspieël,” het hy bygevoeg. Theo Rabe, groep uitvoerende hoof van NWK, het gesê dat die groep se doelwit is om volhoubaar 12,5% te behaal.

“Die landbou-omgewing is uitgelewer aan weersomstandighede. Ons beleef tans goeie jare, maar moet voorsiening maak vir moontlik toekomstige uitdagende jare en wil oor die langtermyn volhoubaar wees.” Hy het bygevoeg dat NWK in die volgende jaar sal fokus op die opknapping van infrastruktuur en dat die maatskappy in alternatiewe kragbronne wil belê.

Lees meer oor NWK se goeie graankontrolestelsel hier.

“Die huidige gebrekkige elektrisiteitsvoorsiening is kommerwekkend en ons sien nie dat die situasie binne die volgende tien jaar noemenswaardig gaan verbeter nie.” NWK het onlangs sowat 550km se grondpaaie in sy bedieningsgebied laat skraap, nadat die organisasie ʼn Memorandum van Verstandhouding met die provinsiale regering onderteken het.

“Ons wil voorts, in samewerking met die gemeenskap, op langtermyn ʼn groter netwerk van paaie onderhou, sonder om die verantwoordelikheid van die regering weg te vat,” het hy afgesluit. – Persverklaring, NWK

Popular stories