: Boere tussen Prieska en Marydale het ook groot probleme met sprinkane en daar word ernstig werk gemaak om dié plaag dood te kry. Die foto van hierdie voetgangers is op ’n plaaspad tussen dié twee dorpe geneem.

Die sprinkaanplaag in die Karoo is besig om halsoorkop toe te neem, en volgens dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA is dit die grootste uitbreking wat hy in sy lewe nog beleef het.

Luister die RSG onderhoud.

Verlede jaar het die eerste swerms sprinkane reeds hul verskyning gemaak en baie gebiede is onkant gevang. Dié gebiede waar die distrik-sprinkaanbeamptes op hul pos was en effektief gespuit het, was die probleem redelik uitgesorteer, maar die heerlike lente- en somerreën en die goeie vogkondisie van die grond, het veroorsaak dat die sprinkane vanjaar by hul hordes uitgebroei het en skade aan weiding in gebiede waar reën tot onlangs skaars was, aangerig. Daar was tot nou toe geen aanmelding van gewasskade nie.

Pieter Fourie, ’n boer tussen Prieska en Copperton, het hierdie video geneem van die voetgangers op die teerpad. Volgens dr Gerhard Verdoorn gaan die voetgangers binnekort begin vlieg en dan gaan die groot probleme begin.

Dr Verdoorn sê op 28 Januarie het die tweede generasie van die somerseisoen uitgebroei en dit was enorm. Hy kry daagliks terugvoer dat reuse-swerms te sien is in die Noord-Kaap en Oos-Kaapse Karoo, sowel as die Boesmanland en dele van Namakwaland. Selfs die Kalahari loop onder die sprinkane deur.

Hy sê daar is nog nie baie groot vlieërswerms nie, maar wel enorme voetgangerswerms en hy voorspel dat hulle teen die middel van Maart gaan begin vlieg. Volgens kenners lê een sprinkaan sowat 380 eiers in haar lewe en ’n sprinkaan se lewensverwagting is maar 78 dae. Die eiers broei binne 14 dae uit. Daar kan dus twee of drie generasies sprinkane in een seisoen voorkom. Daarom moet die sprinkane so vroeg moontlik gekeer word.

Stappe om te neem

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling doen ook baie moeite om die korrekte beheer toe te pas en daar word ’n beroep op boere gedoen om ook betrokke te raak. Die departement het onderneem om aan boere pompe en gif beskikbaar te stel sodat elkeen op sy plaas beheer kan toepas, maar die vereiste is dat die boer eers ’n sprinkaanbeheerkursus moet voltooi voordat hy toegerus gaan word met die nodige toerusting om op sy eie plaas te spuit.

sprinkaanplaag in die Karoo
Terwyl boere alles in die stryd werp om van die voetgangers ontslae te raak, is dit vir baie voëls in die omgewing ’n fees. Hierdie voëls is knuppeldik gevreet aan die sprinkane. Om dié rede doen dr Gerhard Verdoorn ’n beroep op die boere om sprinkaanbeheer sorgvuldig en doeltreffend toe te pas, sonder om die res van die ekologie te beskadig.

Dr Verdoorn versoek ook boere om die beheer op die regte manier te doen. Hy sê dit help nie om die sprinkane in die hitte van die dag te spuit nie omdat die spuitmiddel te maklik verdamp. Deur hulle in die dag te probeer beheer gaan daar net baie insekdoder gemors word en dit het weer ’n negatiewe invloed op die plaaslike ekologie.

Die beste is om beheer vroeg in die oggend en laat in die middag en die aand toe te pas. In die dag is die temperatuur te hoog en het die insekdoder nie die nodige uitwerking op die sprinkane nie, maar vergiftig eerder die res van die natuur. Op dié manier gaan die insekdoders grootliks gemors word, die ekologie van die Karoo kan vernietig word en gaan ons in elk geval vir die volgende paar jaar nóg groeiende sprinkaanplae hê.

Volgens hom gaan daar tot en met Mei-maand ’n sprinkaanplaag wees en as dit nie reg bestuur word nie, kan die probleem heeltemal hand uitruk.

Vir meer inligting, kontak dr Gerhard Verdoorn by 082 446 8946. – Koos du Pisanie, AgriOrbit