Plaas Media het onlangs saam met Landbouskrywers SA se !Xhariep-tak op die plaas Groote Post naby Darling gekuier. Die boerdery is goed gediversifiseer, met 122ha se wyndruiwe as hoofvertakking. Die ander vertakkings bestaan uit ʼn Angus-vleisbeesstoetery, kommersiële SA Vleismerino’s, kanola- en koringaanplantings, asook weidings en toerisme.

Die boerdery deel ʼn wildkamp met een van die buurplase. Die wildkamp vorm ʼn belangrike deel van die toerismebedryf op die plaas. ʼn Plaasrit wat die besigtiging van wild asook wyn- en kaasproe in die wingerde met ʼn uitsig op Tafelberg insluit, is baie gewild onder besoekers.

Nick Pentz, mede-eienaar van die familieboerdery, het aan Hugo Lochner van Plaas Media, meer oor die wyndruifvertakking vertel. Hy boer saam met sy pa, Peter (sr.), wat die Angusstoetery bestuur, en sy seun, Peter (jr.), wat vir die bemarking verantwoordelik is.

Nick het ook gesels oor die invloed van Covid-19 op die nasionale wynbedryf en spesifiek op hul boerdery. Hulle het talle planne op Groote Post gemaak om die nadelige effek van die pandemie so klein as moontlik te hou.

Groote Post se ryk geskiedenis

Groote Post het sy eie wynkelder en verkoop tans sowat 400 000 bottels wyn per jaar. Twee derdes hiervan is witwyn en ʼn derde is rooiwyn. Sowat 25% van die wyn word uitgevoer en ongeveer 20% word direk aan die verbruiker verkoop.

Volgens Nick fokus hulle op gehalte. Hulle bied ʼn portefeulje van 14 verskillende wyne in die prysklas van R90 tot R270 per bottel. “Ons sien wyn as ʼn storie in ʼn bottel. Elke koper moet ons storie ervaar,” sê hy.

Groote Post het ʼn wonderlike geskiedenis. Die plaas was deel van die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) in die 1700’s en 1800’s. Lord Charles Somerset het ʼn jagkamp op die plaas gehad en daar is historiese geboue op die plaas, waarvan twee nasionale gedenkwaardighede is.

Hugo Lochner van Plaas Media saam met Peter Pentz (sr.).

Groote Post se wyne moet van die plaas se ryke geskiedenis én dit wat die plaas nou bied, vertel. Volgens Nick probeer hulle kopers so ver kry om hulle op die plaas te besoek, die wild- en wingerdrit mee te maak en in die kelder en restaurant te kuier. Die lenteblomme en ʼn voëluitkykpunt oor die dam is ook ʼn groot trekpleister.

Wingerde en klimaat lê die grondslag vir gehalte

Hy sê die wingerdaanplantings op die plaas bly die basis as dit by die wyn se gehalte kom. Jy kan nie goeie wyn van swak druiwe maak nie, maar jy moet ook onthou dat goeie druiwe nie goeie wyn waarborg nie. “Jy kan swak wyn van goeie druiwe maak as jou bestuur nie in plek is nie.”

Tans is daar 122ha onder wyndruiwe. Die eerste aanplantings is in sterk kleigronde in 1993 teen die hoër hange van die plaas (200 tot 250m bo seespieël) gedoen. “Die klimaat is ongelooflik vir witdruiwe. Jy kan die branders van die koue Atlantiese oseaan van die wingerde af sien breek.”

Nick sê dit is die ideale omstandighede vir witwynkultivars, veral Sauvignon Blanc. Dié kultivar is ʼn uitstaankultivar op die plaas en as hy die hele plaas onder net een kultivar kon plant, sou dit Sauvignon Blanc gewees het. Dit is egter nie prakties moontlik nie.

“Ons moet nou van die ouer blokke hervestig. Die oudste wingerde is 28 jaar oud en dit is tyd dat nuwe aanplantings gemaak word. Ons kyk na onderstokke wat meer droogtebestand is. Die erge droogte van 2015 tot 2017 het ons meer bewus gemaak van droogtebestande onderstokke.

“Ons weet ook teen hierdie tyd wat vir ons werk. Pinot Noir, Chardonnay, Sauvignon Blanc, Merlot en Shiraz is die vyf uitstaankultivars op die plaas, waarop vervanging en nuwe uitbreidings gefokus moet wees.”

Nasionale aanplantings onder druk

Nick sê ook dat nasionale wingerdaanplantings oor die laaste tien tot 15 jaar van omtrent 110 000ha tot ongeveer 92 000ha gekrimp het. “Dit kan nog vererger. Die hele bedryf het kwaai aangeplant in die negentigs en vroeë 2000’s. Die meeste van die wingerde is nou op die stadium waar dit vervang moet word, maar ek is bevrees baie van daardie wingerde gaan nie weer aangeplant word nie.”

Volgens hom is veral die lae wyndruifpryse en hoë vestigingskoste van tot R250 000/ha, sowel as die onlangse droogte, verantwoordelik vir die groot afname in die oppervlakte onder wyndruiwe.

Covid-19 slaan die wynbedryf hard

Druiwepryse het wel in 2018/19 gestyg, maar ongelukkig het Covid-19 die voordeel van die hoër pryse ongedaan gemaak. “Die pandemie het ons hard geslaan. In die laaste jaar was daar basies elke derde dag ʼn verbod op die verkoop van ons wyn.”

Op nasionale vlak gaan dit lank neem om die effek van Covid-19 uit te wis. “Ek dink ons gaan nog lank te veel wyn in die land hê. Dit kan drie tot vyf jaar neem voordat die voorraadvlakke weer na normaal terugkeer.”

Die boerdery het tot voor die Covid-19-pandemie een keer per maand ʼn markdag op die plaas gehad, met soveel as 60 stalletjies en 2 500 besoekers per dag. Die markdag het nog nie weer plaasgevind nie en die toekoms daarvan is onseker.

Die pandemie het Groote Post se bestuurspan genoop om vinnig planne te beraam om die effek daarvan tot die minimum te beperk. Peter (jr.), wat verantwoordelik is vir die bemarking van die wyne en toerisme op die plaas, het veral ʼn groot rol gespeel.

Nick Pentz (links) saam met Peter Pentz (jr.).

“Ons moes vinnig planne maak om ons aanlynbemarking en -wynverkope te stimuleer. Wat in ons guns getel het, is dat ons die afgelope 20 jaar waarin ons ons eie wyne bemark, baie hard gewerk het om ʼn databasis van kliënte op te bou. As iemand by jou wyn koop, moet jy ‘n naam en kontakbesonderhede kry en met hulle kontak hou.

“Baie van die mense met wie ons kontak gehou het, het verlede jaar gedurende die inperkingstydperke van ons wyn aanlyn bestel. Die voordeel van aanlynverkope is dat iemand enige hoeveelheid bottels kan bestel. Die hoeveelheid word nie beperk soos in ʼn winkel wat nie groot voorraad aanhou nie. Dit is opvallend dat daar meer van die duurder wyne tydens dié tydperk verkoop is.

Direkte verkope verhoog wins

“Covid-19 het talle uitdagings gebring, maar dit het ons baie oor ons besigheid geleer. Dit het onder andere gewys dat jy meer wyn direk aan die eindverbruiker kan verkoop. Dit is waar jou wins lê, want jy hoef nie marges aan die kleinhandel of verspreiders af te staan nie.”

Nick sê Groote Post het verlede jaar 20% van sy wyne direk aan die verbruiker verkoop. Hoewel die boerdery in totaal 10% minder wyn verkoop het, was die marges 15% hoër as in die vorige jaar. Dit kan toegeskryf word aan die groter wins wat met direkte verkope moontlik is, asook die feit dat daar meer van die duurder wyne verkoop is.

“Covid-19 het ons ook geleer om meer waarde tot ons wyne te voeg, wat ons teen duurder pryse kan verkoop om groter wins te maak. Ons het ook geleer om meer aandag aan ons uitvoermarkte te gee en hierdie markte uit te bou.”

Die belangrikste les, sluit hy af, is dat direkte bemarking hier is om te bly. “Dit is iets waarop ons moet bou.” – Hugo Lochner, AgriOrbit