’n Onlangse hittegolf in verskeie dele van die land het kommer gewek oor moontlike skade op jong graanaanplantings. In ’n onderhoud op die program Monitor op RSG het Luan van der Walt, ’n ekonoom by Graan SA, gesê dit is nog te vroeg om die skade van die hittegolf op oeste te bepaal, maar daar kan groot skade wees.

In die onderhoud met Metzi van der Merwe sê hy aanplantings het baie later as normaalweg plaasgevind. “Daar is in baie gebiede minder geplant as wat verwag is. As ons kyk na die westelike dele van die land, is daar in plekke slegs 70% van die verwagte mielie-aanplantings gedoen. Omdat dit al so laat in die seisoen is, weet ons nie of die res van die aanplantings sal kan plaasvind nie. Die finale aanplantings kan dus baie laer wees as wat verwag is.”

Van der Walt herinner dat ná die goeie vorige produksieseisoen baie graanvoorrade beskikbaar is. “Daarom is die kans baie skraal dat ons mielies in die komende seisoen sal moet invoer. Dit behoort wel ’n baie interessante graanjaar te wees.” – RSG

Kliek hier om na die volledige onderhoud te luister.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY