Estimated reading time: 2 minutes
Graan SA en die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadehandelsvereniging (Sacota) het formele regstappe geneem ná voortslepende vertragings met die implementering van die hersiene koringtarief.
Dit volg op ’n aansoek wat reeds in Junie 2024 by die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika (Itac) ingedien is. Byna twee jaar later wag die bedryf steeds op ’n finale beslissing, terwyl Suid-Afrikaanse koringprodusente onder erge finansiële en markdruk moet voortboer.
Druk op die bedryf neem toe
In ’n formele aanmaningsbrief gedateer 22 Mei 2026, het regsverteenwoordigers namens Graan SA en Sacota aan Itac, die minister van handel, nywerheid en mededinging, en die minister van finansies tot 16:00 op Maandag, 1 Junie 2026, kans gegee om ’n finale statusverslag oor die implementering van die hersiene tarief te verskaf.
Graan SA en Sacota beklemtoon dat regstappe nie ligtelik geneem is nie. Die organisasies volg reeds maande lank herhaaldelik by Itac op om selfs basiese inligting oor die vordering van die aansoek te bekom, maar die bedryf ontvang steeds geen betekenisvolle terugvoer nie. Die aanmaningsbrief stel dit voorts dat die koringbedryf onder erge druk verkeer en dat volgehoue administratiewe stilswye die sektor geen ander keuse gelaat het as om die hof te nader nie.
“Produsente kan nie eindelose vertragings absorbeer, terwyl hulle moet meeding met lande wat hul landbousektore aktief beskerm nie,” sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA. “Beleidsvertragings in wisselvallige markte het werklike ekonomiese gevolge vir voedselsekerheid en landelike werkgeleenthede.”
Die bedryf bly verbind tot regverdige, reëlgebaseerde handel, maar hou vol dat die huidige administratiewe stilswye enorme skade aan Suid-Afrikaanse koringproduksie berokken. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Heleen Viljoen by heleen@grainsa.co.za – Persverklaring, Graan SA




