Graan SA bespreek Wes-Kaapse graansake

Estimated reading time: 7 minutes

Graan SA het onlangs jaarvergaderings in vier verskillende streke in die Wes-Kaap, naamlik Streek 26 (Swartland), Streek 27 (Overberg), Streek 30 (Nuwe Era) en Streek 32 (Suid-Kaap), gehou. Tydens die vergaderings is veranderinge in die struktuur van Graan SA, die fokusareas en ekonomie van kleingraanboerdery (koring, gars, hawer), kanola en lupiene, insetkoste en alternatiewe bemarking van graan bespreek.

Plaas Media het die vergadering van Streek 26 in Moorreesburg bygewoon. André Kirsten, Graan SA se hoofbestuurslid vir Streek 26, het in sy verwelkomingsboodskap gesê dat die 2022-graanjaar in die Swartland moeilik was. “Die ongunstige klimaatstoestande in 2022 het gemaak dat vanjaar ’n stryd vir baie boere in die Swartland gaan wees.”

Nuwe struktuur vir Graan SA

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het verslag gelewer oor struktuurveranderinge in die organisasie wat gaan meebring dat dit voortaan uit vier entiteite sal bestaan. Hierdie entiteite is soos volg: Graan SA NWO, Nampo (Edms.) Bpk., Phahama Grain Phakama NPC, en die Kommersiële Produsentetrust. Die struktuurverandering is deur veranderde wetgewing genoodsaak.

Strategiese fokusareas

Corné Louw, hoof: toegepaste ekonomie en lededienste by Graan SA, het gesê hulle strategiese fokusareas is om:

  • Ekonomiese volhoubaarheid van ons produsente positief te beïnvloed. As produsente nie winsgewend is nie, het Graan SA nie bestaansreg nie.
  • Ontwikkelde graanprodusente te ondersteun en veral jong boere te ontwikkel om kommersieel volhoubaar te produseer.
  • Die betrokkenheid van jong produsente by Graan SA en georganiseerde landbou te verhoog om eienaarskap van hul organisasies te neem.
  • Die breër ledebasis van Graan SA (verteenwoordiging) te laat groei. Graan SA is ’n vrywillige organisasie met ’n vrywillige ledeheffing. Die persentasie van opbetaalde lede regoor die land is egter baie laag. Graan SA kry ledegeld op slegs 33% van die tonne wat geproduseer word. In die Kaap is die gemiddelde ledeheffingbetaling nader aan 80%, het Louw gesê.
  • Die sleutel-waardekettingverhoudings te bevorder en te onderhou. Produsente moet besef hulle produseer nie op ’n eiland nie en hulle het die res van die waardeketting nodig.
  • Effektiewe en doeltreffende kommunikasie te verseker.

Louw het gesê Graan SA verkies om by vrywillige heffings te bly. Met vrywillig heffings beteken dit die produsente betaal vrywillig hul ledegeld omdat hulle hulself met hul organisasie vereenselwig. Daarby hou vrywillige bydraes Graan SA skerp, relevant en onafhanklik – ’n organisasie wat self kan besluit hoe sy fondse aangewend word en vinnig besluite kan neem as dit nodig is.

Statutêre heffings is maklik omdat almal moet betaal, maar dit hou nadele in soos dat die regering kan bepaal hoe jou ledegeld aangewend moet word.

Prysmonitering wys onregmatige winsgrense

Heleen Viljoen, ’n junior ekonoom by Graan SA, het terugvoer gegee oor insetprysvergelykings wat sy in die Wes-Kaap onder produsente gedoen het. Die insetprysstudie is deel van Graan SA se monitering van plaaslike en internasionale insetpryse. Dit vergelyk gemiddelde pryse van ’n streek, soos verkry is van individuele produsente in daardie streek, met gemiddelde pryse van omliggende streke.

Viljoen sê dit is kommerwekkend dat produsente in sommige streke soveel meer as die gemiddelde van die streek betaal. Vanuit die inligting wat ingesamel is, is dit duidelik dat produsente in sommige streke deurlopend hoër pryse as in die res van die Wes-Kaap betaal.

Figuur 1 en Figuur 2 wys die gemiddelde pryse wat produsente die afgelope seisoen vir die onkruiddoder Sakura betaal het. Figuur 1 wys die pryse per area en dit is duidelik dat produsente in Area 1 deurlopend hoër pryse as die res van die Wes-Kaap betaal het. Figuur 2 wys die pryse per dorp. Dit is duidelik dat produsente van Dorp 2 die hoogste prys van R5 789,35 betaal het teenoor Dorp 13 se laagste prys van R5 090. Die gemiddelde prys in die Wes-Kaap was R5 334,75, het Viljoen gesê.

Figuur 3 wys die gemiddelde pryse wat Wes-Kaapse produsente vir ureum in 2022 betaal het. Produsent 8 en Produsent 12 het albei hul ureum in April gekoop, maar onderskeidelik R12 750 en R21 500 per ton betaal. Dit is ’n verskil van byna R10 000 per ton, terwyl die twee produsente in areas nie ver van mekaar boer nie, het Viljoen gesê.

Graan SA het ook ’n begrotingsverslag van die vyf grootste insette, naamlik kunsmis, chemiese middels, saad, brandstof en onderhoud gedoen, en die vorige seisoen se begroting vergelyk met dit wat boere in die komende seisoen kan verwag. Die vyf insette maak 75% van ’n produsent se insetkoste uit. Met die ondersoek is gevind dat koringboere ’n toename van 3,2% en kanolaboere ’n toename van 3,8% in hul totale insetpakkie kan verwag, het Viljoen gesê.

Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het gesê die insetprysvergelykings het onregmatige winsgrense uitgewys. Die graanbedryf kan dit nie bekostig nie. Hy het gevra wanneer graanboere by die punt gaan kom om direk by die aankoper te koop. “Boere moet die inligting gebruik om beter besluite met aankope te neem en om pryse te onderhandel,” het Mathews gesê.

André Kirsten, hoofbestuurslid van Graan SA, het boere aangemoedig om meer by die studie betrokke te raak. Met groter betrokkenheid kan ’n groter databasis opgebou word en kan pryse per dorp gepubliseer word. Boere kan dan makliker hul pryse met die gemiddeld van die dorp vergelyk.

Alternatiewe bemarking van graan

Cobus van der Merwe, besturende direkteur van The Match Exchange, het gesê die Vierde Industriële Revolusie gaan die graanmark baie meer verander as enigiets wat ons voorheen gesien het. “Tot nou is al die koste in die bemarkingsketting deur die produsent gedra. Produsente moet pa staan vir al die oneffektiwiteit in die ketting wat nie waarde tot hul produk voeg en waartoe die boer geen beheer het nie.”

  • André Kirsten, hoofbestuurslid Streek 26, Graan SA.

Van der Merwe het gesê tegnologie het nou veroorsaak dat die graanboer met ’n enkele toepassing van The Match Exchange hierdie koste en oneffektiwiteit tot ’n groot mate kan uitskakel en ’n regverdige prys vir hul produk kan kry. “Dit is soos ’n mark op ’n markplein, maar in ’n virtuele omgewing. Die toepassing maak die ketting korter en plaas meer geld in die boer se sak omdat die skakels in die ketting wat nie waarde toevoeg nie, uitgeskakel word.”

Gars: Boere plant op eie risiko in Swartland

André Kirsten, ‘n hoofbestuurslid van Graan SA, het gesê daar is ’n behoefte onder die Swartland se produsente om gars te produseer. Ongelukkig is daar tans nie ’n sinvolle ooreenkoms tussen die garskoper en die garsopberger in die Swartland nie, wat die verbouing van gars in die gebied moeilik maak.

“Foute wat in die verlede gemaak is, word nou ondersoek en ek hoop ek kan volgende jaar hier staan en sê ons het opbergplekke vir gars,” het hy gesê.

Daar is wel vir vanjaar ’n garsmandaat uit vir die Swartland, maar omdat daar geen opbergers in die Swartland is nie, moet boere op eie risiko hul gars in Caledon lewer. “Dit is belangrik om stelsels in plek te kry om gars as alternatiewe gewas in die Swartland te produseer. Gars hou groot potensiaal vir veral die ligter gronde in, waar dit groot voordele het as dit in wisselbou saam met koring, kanola en lupiene verbou word,” het Kirsten gesê.

Kanola: Bedryf groei; voldoende saad- en residuvlakke pla

Koos Blanckenberg, voorsitter van Graan SA se kanola-spesialiswerkgroep, het terugvoer gegee oor die 2022 kanola-produksiejaar. Hy het gesê produsente in die Suid- en Wes-Kaap het in 2022 ’n rekord-oppervlakte onder kanola aangeplant en ’n rekord-oes behaal. “Ongelukkig hang die probleme rondom die beskikbaarheid van saad soos ’n donker wolk oor die kanolabedryf.”

Kellie Becker, besturende direkteur van Southern Oil (SOILL) op Swellendam, het sy kommer uitgespreek oor hoë chemiese residuvlakke op kanolasaad wat verlede jaar in sekere streke gelewer is. Dié probleem kan die uitvoermark in gedrang bring. – Hugo Lochner, AgriOrbit