Gosa hou simposium in Mosselbaai

130
RSG Landbou
Faktore soos ’n kleiner mielie-oes, baie reën wat veroorsaak het dat graanprodusente in die Vrystaat en Noordwes tot 60% van hul oes verloor het en die stygende olieprys weens die oorlog in die Oekraïne wat insetkoste baie verhoog, knou voedselsekerheid en die land se ekonomie, het Hein Rehr, voorsitter van die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika (Gosa) op Gosa se simposium in Mosselbaai gesê.

Estimated reading time: 2 minutes

Faktore soos ’n kleiner mielie-oes, baie reën wat veroorsaak het dat graanprodusente in die Vrystaat en Noordwes tot 60% van hul oes verloor het en die stygende olieprys weens die oorlog in die Oekraïne wat insetkoste baie verhoog, knou voedselsekerheid en die land se ekonomie, het Hein Rehr, voorsitter van die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika (Gosa) op Gosa se simposium in Mosselbaai gesê.

Hein Rehr, voorsitter van Gosa.

Hy het gesê landbou, as een van die min sektore wat positief tot groei in die ekonomie bydra, hou nog Suid-Afrika se deure oop met die uitvoer van landbouprodukte. Die krisis weens die oorlog gaan beslis ’n uitwerking op voedselprysinflasie hê, al gaan Suid-Afrika dalk nie in die kort termyn tekorte ervaar nie.

Van die sprekers op die Gosa-simposium was bekende ekonome soos prof Jannie Rossouw en dr Roelof Botha, met Theo Venter, politieke en beleidspesialis, wat ’n oorsig van die politiek gegee het. Aktuele sake is in parallelle sessies bespreek. Japie Snyman van Olam SA het oor graanverhandeling gepraat, Wayne Rosewall van Premier Foods oor graanverwerking en Alta Swanepoel van AARTO oor vervoer en logistiek.

Probleme met silo’s

In ’n parallelle sessie oor graanhantering het Pieter Fourie van Eko Design gesê faktore soos stof-ontploffings, beroking wat verkeerd gedoen is en risiko’s inhou vir mense se gesondheid of stof-ontploffings, die beweging van lug vir afkoeling in die silo, die invloed van wind op die silo, droërs en selfs die in- en uitlaaiproses is van die probleme wat by silo’s ervaar kan word.

Gereelde inspeksies van die silo’s deur bevoegde mense wat moontlike probleme vroegtydig kan identifiseer en kan sorg dat die silo struktureel veilig is, kan die probleme hokslaan.

Lees meer oor die ekonomiese rol van silo’s hier.

Mnr Wessel Lemmer, hoofbestuurder van Agbiz Grain, het gesê groot stygings in die koste van graanopberging vereis innoverende planne. Salarisse, elektrisiteit, rente en brandstof vorm 51,9% van die uitgawes van graanopberging. Daarby styg die koste van instandhouding van voertuie en toerusting, van eiendomme, versekeringskoste, plaagbeheer en sekuriteit ook skerp.

“Van die planne sluit in alternatiewe infrastruktuur vir graanopberging om ouer betonsilo’s te vervang, privatisering om paaie in stand te hou en alternatiewe metodes om elektrisiteit op te wek omdat beurtkrag ’n groot invloed op staan- en aflaaitye van graan het. Dit is nodig om jong mense as silobestuurders op te lei omdat kundigheid verlore sal gaan as die huidige bestuurders begin aftree,” het Wessel gesê. – Chris Jooste, AgriOrbit