Estimated reading time: 3 minutes
Suid-Afrikaanse veeprodusente kan moontlik binnekort diere wat teen bek-en-klouseer (BEK) ingeënt is uitvoer, danksy ’n besluit wat geneem is tydens die onlangse 91ste Wêreldvergadering van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH), wat vanjaar in Parys, Frankryk gehou is.
Tydens vanjaar se byeenkoms het die WOAH se wetenskaplike kommissie vir dieresiektes, stelling ingeneem dat diere- en dierlike produkte vanuit lande waar BEK voorkom uitgevoer kan word, mits die nodige kompartementalisering en inenting wél plaasgevind het. Hierdie besluit is deur 183 lande se afgevaardigdes goedgekeur, terwyl enkele lande nie van die idee gehou het nie.
Die kommissie het egter gesê dat die wyse waarop monitering tans plaasvind, wel aangepas moet word om voorsiening vir die invoer van ingeënte diere te maak.
Oplossing vir die kopseer?
Hierdie goedkeuring kan ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se nasionale kudde bied, maar moet egter eers talle administratiewe hekkies oorkom. Een van die belangrikste sal die regering, die veebedryf en handelsvennote se reaksie op die WOAH-goedkeuring wees.
Intussen blyk dit of BEK nie daadwerklik in die bek geruk word nie. Volgens die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se jongste verslag oor dieresiekte-uitbrekings, word dit onomwonde gestel dat Suid-Afrika voor Januarie 2019 ‘n groot BEK-vrye area (sonder inenting) gehad het. Dié verslag is op 31 Mei 2024 gepubliseer.
Sedert 2019 het nege uitbrekings egter voorgekom en sedertdien neem die tempo van uitbrekingsinsidente toe. Sedert Februarie het Suid-Afrika feitlik maandeliks ‘n nuwe uitbrekingsinsident van BEK gesien.
Vroeg in Februarie is ‘n uitbreking in die Vrystaat bevestig, in Maart het een in KwaZulu-Natal opgevlam, en op 30 April was dit die Oos-Kaap se beurt om onder dié siekte deur te loop. Volgens berigte is gevalle ten tyde van hierdie berig, op vyf plase in die Humansdorp- en Oos-Londense gebiede bevestig.
Plaas Media het die afgelope maand herhaaldelik versoeke aan die departement gerig om uit te vind wat die regering se toekomsplanne vir die hantering van BEK behels, maar tot op hede is geen kommentaar ontvang nie.
Tans is slegs vyf provinsies BEK-vry. Dit is die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes.
Staat sleep voete
Noko Masipa, die Demokratiese Alliansie (DA) se landbou-skaduminister, sê op die oog af lyk dit asof die georganiseerde landbou besig is om sélf die blaam vir BEK te neem, eerder as om staatsamptenare vir pligsversuim aanspreeklik te hou.
“Bek-en-klouseer is ‘n staatsbeheerde siekte, wat beteken dat, sodra die siekte geïdentifiseer is, dit die regering se verantwoordelikheid is om kwarantyn te implementeer en die verskuiwing van diere te beheer om verdere verspreiding te bekamp,” sê Masipa. “Daarom was dit vir die DA vreemd dat Agri Oos-Kaap en die Oos-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie se beheermaatreëls deur die nasionale direkteur van dieregesondheid, dr Mpho Maja, verwerp is aangesien sy eers die provinsie wou besoek voordat maatreëls ingestel sou word.”
Dié optrede was strydig met die protokol en magte van die provinsiale direktoraat vir veeartseny. “Dit gebeur té gereeld dat die nasionale departement dikwels die finale sê wil hê oor die reaksie op ’n siekte-uitbreking. Dit is teenproduktief en verlangsaam die reaksietyd.”
Lees hier oor die toekoms van rooivleis.
Masipa glo provinsies behoort groter outoriteit te hê, sodat hulle vinniger kan reageer op ‘n uitbreking, eerder as om vir nasionale bevestiging te wag.
“Ons steun die vermindering van burokratiese rompslomp en die afwenteling van mag na bevoegde provinsies, sodat staatsbeheerde siektes soos BEK, ‘n spoedige nekslag toegedien kan word,” sê Masipa. “Dit sal help dat die bedryf sy bedrywighede so gou as moontlik kan hervat.” – Susan Marais, Plaas Media