Die regte uitleg van krale help om spanning by vee te voorkom en hulle gemaklik te laat voel. (Foto verskaf deur Algar)

Op enige veeplaas word die belangrikste werk in krale gedoen, en daarom is goed ingerigte krale die moeite werd. Om goeie hanteringsgeriewe te bou, kan dalk baie kos, maar talle boere wat dit gedoen het, sal jou vertel hoeveel makliker hulle werk, hoeveel minder arbeiders hulle nodig het en dat hulle meer beeste op een dag kan hanteer.

Greg Talbot van Tal-Tec sê dit gebeur egter nie gereeld dat iemand die uitgawe wil aangaan om krale van nuuts af te bou nie. In die meeste gevalle word bestaande strukture stelselmatig verbeter. Daarom is dit raadsaam om van die begin af jou infrastruktuur korrek op te rig.

Gedrag van diere

Wanneer dit by die hantering van diere kom en uiteraard ook by die ontwerp van ’n doeltreffende drukgang, is dit vir almal voordelig om die vee met so min spanning as moontlik te hanteer. Die geriewe moet ook aangepas wees volgens die diere se natuurlike gedrag.

Van die belangrike gedragspatrone wat in ag geneem moet word, is dat beeste slegte ervarings lank onthou. Goed ontwerpte krale maak die beeste rustig en hulle kan makliker hanteer word. Beeste is ook baie sensitief vir rowwe hantering.

Beeste is geneig om ’n ontsnaproete te soek as hulle in die kraal kom. Die ontwerp moet so wees dat hul “ontsnaproete” die hek na die volgende kraal is waar hulle moet wees. Wanneer krale beplan word, is dit ook belangrik om in gedagte te hou dat geraas, skaduwee, waterpoele en bewegende voorwerpe die beeste senuweeagtig maak en veroorsaak dat hulle nie in die kraal wil kom nie.

Volgens Greg is dit binne-in die kraal belangrik om ‘n S-vormige gang te gebruik. Dit verminder stres by diere. Volgens gedragspesialiste wil diere na ’n plek gaan waar hulle gemaklik was, en ’n gekromde drukgang gee hulle die vals indruk dat hulle teruggaan na die plek waar hulle gemaklik en gerieflik was.

Grootte en vorm

Greg sê: “Wanneer krale gebou word, is vars water, elektrisiteit en die ligging van die grond waar die krale gebou word, ook belangrik. By bestaande krale behoort alle draadheinings en onnodige hekke uitgehaal te word.

“Dit is belangrik om vooraf te besluit met hoeveel diere ’n mens per dag wil werk. Veronderstel jy beplan om met 100 koei- en kalfpare te werk, dan benodig jy sowat 4m² vir elke paar. Die kraal moet dus sowat 20 x 20m groot wees. Vir markgereed verse is 2m² per dier voldoende.”

Hy sê dit is meer ekonomies om ’n ronde of vierkantige kraal te bou. Dis ook belangrik om te besluit watter aksies in die kraal uitgevoer gaan word, want die kraal moet daarvoor ingerig word. Dit kan onthoorning, brandmerk, ontwurming, weeg en laai van diere insluit.

Carin Nortjé van Algar Veehanteringstoerusting sê dit is doeltreffender om in sirkels te werk. “Dit verhoed dat dooie hoeke gevorm word waarin die diere bly maal, eerder as om vorentoe te beweeg. Die hoogte van die kraal, wydte van die gange, toegangshekke, helling en oppervlak van die grond, posisie van die kraal op die plaas, asook genoeg ruimte vir vragmotors om voor en om die laaibank te draai, moet alles in ag geneem word.”

Uitleg van die kraal 

Volgens Carin is daar nie eintlik ’n standaard uitleg vir ’n kraal nie en het elke plaas sy eie spesifieke behoeftes. Ongeag hoe die ontwerp egter lyk, is dit belangrik om kleiner houkampe deel van die uitleg te maak. “Dit is wenslik om nie met te veel diere op ’n keer te werk nie. Dis ook noodsaaklik om genoeg spasie binne die houkamp te hê sodat die diere om jou kan beweeg.”

Volgens Greg moet vier areas deel van die uitleg wees:

  • ’n Area waar die diere bymekaar gebring kan word sonder dat hulle gespanne sal raak.
  • ’n Drukkraal/ring.
  • ’n Drukgang waar die werk gedoen kan word.
  • ’n Herstel/ruskraal om die diere in te hou nadat met hulle gewerk is.

Figuur 1: Korrekte en verkeerde toepassing van ’n tregterdrukgang. (Verskaf deur Tal-Tec)

screenshot-2016-12-09-13-34-05

Hy sê dit is wenslik om soliede kante by die drukgang aan te bring sodat die diere nie die geskarrel en beweging van diere en werkers kan sien nie. Verder moet die drukgang se vloeroppervlak van growwe sement wees sodat die diere nie gly nie. Hulle kry ’n gevoel van veiligheid as die vloer nie glad is nie.

Voorkom beserings

Carin sê diere in die kraal word maklik senuweeagtig en kan maklik beserings opdoen as hulle nie reg hanteer word nie.

“Deur die regte kraal- en drukgang-uitleg te gebruik, word minder druk op die diere geplaas en is die stres en kans op beserings minder. Werk dus rustig en kalm sonder geraas soos ’n geskreeu en gefluit, en probeer om nie die diere rond te jaag nie,” is haar raad.

Greg sê diere word veral maklik beseer as strukture soos pale, hekke of heinings gebreek is. Daarom is dit noodsaaklik om goeie gehalte krale te hê.

“As ’n bul of koei dink hulle kan uit die kraal ontvlug, sal hulle dit probeer doen. Hulle sal enige los pyp of hek wat beweeg herhaaldelik druk tot dit breek. As die struktuur van die kraal sterk en stewig is, sal hulle sulke pogings laat vaar.”

Geskikte materiaal

Alle vervaardigers van krale het verskeie kraalstrukture wat so inmekaar gepas kan word, dat dit in die behoeftes op die plaas voldoen.

Greg sê die meeste krale in Suid-Afrika word van staal gebou omdat hout ’n skaars kommoditeit in ons land is. In baie Afrikalande, soos Mosambiek, is dit nie die geval nie en kan die krale met hout gebou word. Omdat roes nie ’n groot probleem in Suid-Afrika is nie, bly staal ’n goeie keuse.

Mobiele krale is baie gewild in Suid-Afrika. Carin sê met dié krale kan diere in die veld versorg word. Goeie hanteringsgeriewe in ’n goed beplande area is nodig om die kudde in sy geheel te hanteer vir die toepassing van onder meer inentingsprogramme.

Greg stem hiermee en voeg by dat baie boere grond huur. Omdat hulle nie die kapitale uitleg kan aangaan en die krale agterlaat as die huurtyd verby is nie, gebruik hulle mobiele krale. Nog ’n voordeel is dat dit maklik aanmekaar geskroef kan word. Dit help boere wat nie die volledige uitleg op een slag kan koop nie. Hulle kan dus die kraal in fases bou.

“Elke boer het sy eie kraal-behoefte. Dit is die moeite werd om by kundiges aan te klop vir hulp,” sê hy. -Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir kundige advies, skakel Greg Talbot by 012 250 2188 of Carin Nortjé by 087 150 7605.

Goeie hanteringsgeriewe is onontbeerlik vir goeie vloei en maklike hantering. (Foto verskaf deur Algar)
Goeie hanteringsgeriewe is onontbeerlik vir goeie vloei en maklike hantering. (Foto verskaf deur Algar)

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY