’n Lugfoto van die melkery en vrystalbehuising op Ashdene.

Die Durham-familie van Dundee in KwaZulu-Natal vier vanjaar 90 jaar en drie geslagte van teling met Jersey-beeste by Glynton Jerseys, een van die oudste geregistreerde Jersey-kuddes in Suid-Afrika. Glynton Jerseys het oor die jare ’n onuitwisbare merk op die Suid-Afrikaanse suiwellandskap gemaak.

Read it in English. 

Die Glynton-storie het begin met Cecil en Sheila Durham, grootouers van Peter en Dave, die huidige Durhams wat aan die stuur van sake is. Hulle het hul eerste nege Jerseys op 1 November 1920 by WL Atwell van Dundee, wie se kudde Talana genoem is, gekoop.

Dié koeie het op hul beurt van twee fondasiekoeie afgestam: Xenia’s Cardiff Rose 356 en Fairy Frederica 355. Willowtree Gipsy 713 en Baroness Lily Mabel 774 (ingevoer) is in 1930 bygevoeg en Keeping Mercedes 1223 (ingevoer) in 1931.

Die oorspronklike Orange Grove-kudde is na Glynton herdoop nadat die vorige naam deur SA Stamboek verwerp is omdat ’n Afrikaner-kudde reeds dieselfde naam gehad het. Die verwerkings- en verspreidingsafdeling van die besigheid, wat op die oomblik deur Dave besit en bestuur word, het egter die naam Orange Grove Melkery behou. Die suiwelverwerking is aanvanklik in Dundee gedoen, tot die plaas Glynton, waar Orange Grove Melkery geleë is, in 1932 gekoop is.

Bulle van die Jersey-eilande

Jerseys op ’n volvoerrantsoen in die vrystalstelsel op Ashdene.

Peter sê Glynton Jerseys het nog altyd baie klem op hul moederlyne of “koeifamilies” gelê. “Drie van ons uitstaande koeifamilies is afstammelinge van die diere waarmee Glynton op die been gebring is. Hulle is die ‘Wilamenas’, wat die Wilmas insluit; die ‘Noels’, wat die Noons en Noonlights insluit; en die ‘Petros’, wat die Pets, Pearls en Peppers insluit. Hierdie drie families het gegroei tot die huidige 267 diere.”

Twee bulle is net voor en ná die Tweede Wêreldoorlog van die Jersey-eilande af ingevoer. Hulle was Sanctions of Rosel (20% bo die rasgemiddeld) en Rajah of Rossmore (33% bo die rasgemiddeld). “Hierdie twee bulle het ’n groot impak op die genetiese samestelling van ons kudde gehad,” sê Peter.

Toe Glyn, Peter en Dave se pa, die onderneming in die laat 1940’s oorgeneem het, het hy een van die eerste telers geword om kunsmatige inseminasie (KI) te gebruik. Hy het semen van Rajah of Rossmore op die plaas getap, wat hy met eierwit verdun het.

Hy was saam met ’n paar ander telers betrokke by die bou van die bulstasie by Bainsfield in KwaZulu-Natal en het die eerste Jersey-bul geskenk. Hulle het nog twee bulle, Marlu Fashion Supreme (MFS) en Marlu Supreme Milad (MSM), van Amerika af ingevoer en hulle by die KI-stasie gehuisves.

Uitstaande bulle van Jersey-lande

Glyn het in die vroeë 1980’s besluit om die topbulle van ’n aantal toonaangewende Jersey-lande te toets. Hy het onder andere semen van Elenko Glen Lad van Australië, Tarnhowe Red Lindan en Ruscot Star Career van Nieu-Seeland, Fyn Tved, Fyn Index en Skae Jib van Denemarke, Munifordias Gamboge van Jersey, Meadowlawn Bright Spot van Kanada, en A-Nine Top Brass en Briarscliffs Brave Soldier van Amerika ingevoer.

Dave het op dié tydstip plaas toe gekom, en ’n deel van die Cairn Marsh-kudde van Pat Cairns sowel as die Umoba-kudde van Charles Fraser is bekom. Die Glynton-kudde is tot sowat 300 koeie vergroot. Dit het toe nodig geword om ’n gebalanseerde volvoerrantsoen te gebruik.

Peter het die kudde in 1993 oorgeneem en het die nuwe melkery en vrystalbehuising op die plaas Ashdene in 1999 gebou, waarna die kudde tot 1 000 koeie in melk gegroei het. Die melkery is in 2016 na nog ’n plaas, Craighead, uitgebrei met ’n weidingstelsel wat Glynton Jerseys in staat stel om mededingend te bly in ’n kommersiële omgewing. Die koeie op Ashdene is tot 700 verminder, met ’n teiken van 1 200 koeie op Craighead. Koeie is ingebring om die getalle in die nuwe melkery, wat op die oomblik 760 koeie melk, ’n hupstoot te gee.

Teel- en koeifamilies

Peter Durham.

Peter sê inteling is ’n groot probleem vir die Jersey-ras. Vooruitgang in genomika het nie een van die ras se grootste prioriteite, naamlik om genetiese diversiteit te handhaaf, vervul nie. Dit het eerder daartoe gelei dat te veel bulle op dieselfde genomies uitstaande koeie getoets word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is D&E Paramount Violet.

“Ons het probeer om ’n sub-intelingskoëffisiënt van 6,5% in die kudde te handhaaf, terwyl ’n mate van genetiese diversiteit terselfdertyd behoue gebly het. Gesondheidseienskappe en vrugbaarheid het meer klem vereis, saam met minder fokus op melk en meer fokus op vastestowwe, deur die kaasopbrengs en positiewe persentasies as belangrike seleksiekriteria vir bulle te gebruik. Ons oorheersende doelwit is egter balans. Ons gebruik dus hoofsaaklik kombinasies van Deense en Amerikaanse genetika,” sê Peter.

Om dié teeldoelwitte te bereik, het beteken dat hulle na amper 100% gebruik van genomiese bulle moes beweeg. Geselekteerde skoonmaakbulle word ná die vierde inseminasie gebruik.

Mededinging teen die wêreld

“Ons vind dat ons eie bulle met Glynton-genetika baie goed met die ingevoerde bulle en die res van die wêreld se uitstaande Jerseys meeding. Ons het gevolglik besluit om ’n geselekteerde groep van ons eie bulle elke jaar genomies te toets en om die bestes te gebruik vir opvolgsemen op beide kuddes vir beter bevrugtingsyfers.”

Peter was die afgelope 20 jaar in staat om die kudde op so ’n manier te struktureer dat sowat 85% van hul koeie van uitstaande koeifamilies afkomstig is.

“Ons bring soms ook individue van ander koeifamilies in om ons genetiese basis te verbreed en ’n maatstaf vir ons eie koeie te stel. Wêreldbekende koeifamilies soos die ‘Flowers’ en ‘Maids’ word vandag in die kudde verteenwoordig,” sê hy.

Tabel 1

Die Ida-familie word goed verteenwoordig in die plaaslike KI-bedryf met bulle soos Jack, Illustrious, Indiana, Ibis, Idal, Ivor, Induna, Isis en Ice. Hierdie koeifamilie kan teruggespoor word tot by ’n vers wat uit Brittanje ingevoer is (Groombridge Oracle Image, gebore in 1949). Die Mimah-familie, aan die ander kant, het sy oorsprong van die Marlu-kudde in Amerika in die laat 1960’s.

Tabel 1: Belangrikste families in die kudde volgens getalle.

Daphne 40 Mercy 27
Floria 20 Mimah 97
Ida, Ixia, Ixora, Ilma 160 Noel, Noon, Noonlight 81
Jacana 73 Petro, Pearl, Pet, Pepper 177
Jacky 45 Petula 38
Jasmine 71 Salette 49
Label 38 Snowqueen 74
Ladin 33 Wilamena, Wilma, Wilted 267

 

Tabel 2

Altesaam 101 KI-bulle van regoor die wêreld, saam met 40 plaaslik geteelde bulle, het op die oomblik dogters in die kudde.

Tabel 2: Bulle met meer as 20 dogters wat in die kudde verteenwoordig word.

All Lynns Maximum Vernon 95 Oomsdale Jace Gannon 24
BW Renegade 40 Preekstoel Paramount Lindt 26
Blue Mist Madrid 22 Q Impuls 40
Cal-Mart Navara Blade 44 Sandcreeks Topeka Echo 20
Cave Creek Kanoo 21 Shultz Rescue Headline 38
DJ Holmer 50 Shot O Nat Amazing 20
DJ May 31 Sun Valley Jupiter 29
DJ Zuma 110 Sunset Canyon Dazzler 21
Dutch Hollow Lexicon 87 Tollenaars Impuls Legal 67
Fairway Classic Kilowatt 22 Umoba Mozart Kevlar 29
Faria Brothers Draper 35 VJ Buffo 22
Faria Brothers Eusebio 31 VJ Haley 47
Faria Brothers Prop Joe 28 VJ Herodot 21
Faria Brothers Tarheel 20 VJ Hihl 20
Faria Brothers Walter White 23 VJ Hilario 23
Faria Brothers Juan Pablo 38 VJ Hitman 46
Faria Brothers GSP 31 VJ Husky 21
Glynton Renegade Wonder 37 VJ Lure 34
Glynton Barber Bill Isis 20 VJ Rodme 58
Massika Mackenzie 32

Vir meer inligting, skakel Peter Durham by 082 897 1040. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY