Friday, February 3, 2023

Gifplante ‒ ’n ekonomiese probleem wat moeilik is om te beheer

Share This Post

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die term ‘gifplante’ verwys na plantsoorte wat daarvoor bekend is dat hul toksiese chemiese bestanddele, wat van nature bedoel is om die plant teen predatore te beskerm, skadelik en selfs dodelik kan wees vir mens en dier wat sulke plantmateriaal inneem.
  • Daar is ongeveer 600 inheemse en talle uitheemse gifplante in Suid-Afrika.
  • Die toksiese uitwerking van gifplante word bepaal deur die dosis of hoeveelheid gifstof waaraan ’n dier blootgestel word, en die dosis hang weer af van die hoeveelheid plantmateriaal wat ’n dier inneem.
  • Sekere onkruiddoders is wel vir die beheer van gifblaar geregistreer, maar die uitgebreide, ondergrondse plantdele maak chemiese beheer moeilik.
  • Gifplante is van plaaslike belang, en is nie oral waar dit voorkom ’n ewe groot probleem wat toksisiteit betref nie.

Die term ‘gifplante’ verwys na plantsoorte wat daarvoor bekend is dat hul toksiese chemiese bestanddele, wat van nature bedoel is om die plant teen predatore te beskerm, skadelik en selfs dodelik kan wees vir mens en dier wat sulke plantmateriaal inneem. In die geval van vee wat gifplante doelbewus of per abuis vreet, is nie net veevrektes ’n probleem nie, maar ook die verlies aan kondisie en produksievermoë van diere wat daarvan siek word, wat groot ekonomiese skade beteken.

Gifplante wat veeverliese in Suider-Afrika veroorsaak is opgeneem in Hans Vahrmeijer se boek, Poisonous plants of Southern Africa that cause stock losses (1981, Tafelberg Uitgewers). Daardie boek is uit druk, maar een wat beskikbaar is, is die meer onlangse boek deur Ben-Erik van Wyk, Poisonous Plants of South Africa (2005, Briza Uitgewers, Pretoria).

Prof Christo Botha van die Universiteit van Pretoria se Veeartsenykunde-fakulteit by Onderstepoort, het ’n lang loopbaan gewy aan Suider-Afrikaanse gifplante en hul uitwerking op diere en mense. Een van sy vele wetenskaplike artikels verskyn in die vaktydskrif Journal of Ethnopharmacology, CJ Botha & M-L Penrith, 2008, 119: 549-558.

Lees meer oor hoe onkruid danksy saadverspreiding versprei hier.

Dosis bepaal die uitwerking

Vahrmeijer (1981) noem daar is ongeveer 600 inheemse en talle uitheemse gifplante in Suid-Afrika. Veral die getal inheemse soorte sou nie noemenswaardig oor tyd verander het nie, hoewel sekere soorte bepaald intussen toegeneem het wat getalle en verspreiding betref. Die grootste probleem van gifplante is nie die hoeveelheid soorte as sulks nie, maar die voorkoms van ’n relatiewe klein getal hoogs toksiese soorte wat plek-plek en van tyd-tot-tyd in groot getalle aangetref word waar dit groot vergiftigingsrisiko’s inhou.

Die toksiese uitwerking van gifplante word bepaal deur die dosis of hoeveelheid gifstof waaraan ’n dier blootgestel word, en die dosis hang weer af van die hoeveelheid plantmateriaal wat ’n dier inneem. Eenmalige inname van ’n klein hoeveelheid plantmateriaal behoort in die meeste gevalle nie skadelik te wees nie, maar ’n klein hoeveelheid wat teen hoë frekwensie (herhaaldelik) ingeneem word, sal waarskynlik skadelik wees. ’n Groot getal gifplante in ’n relatief klein area wat druk bewei word, sal die hoogste risiko inhou, asook oorbeweide areas waar gifplante die eerste groenigheid is wat in die lente verskyn.

Gifplante in Suider-Afrika kan in twee groepe verdeel word: gifplante wat nie vinnig versprei nie, en vinnig-verspreidende soorte (Vahrmeijer, 1981). Soorte wat min of meer staties is wat verspreiding betref, is soorte wat bepaalde omgewings verkies, soos gifblaar (Dichapetalum cymosum) wat veral op sandgrond in die Waterberg en omstreke voorkom.

Vind meer uit oor die voor- en nadele van bosverdigting hier.

Uitdagings van chemiese beheer

Sekere onkruiddoders is wel vir die beheer van gifblaar geregistreer, maar die uitgebreide, ondergrondse plantdele maak chemiese beheer moeilik. Gifblaar word deur sommige as ’n ondergrondse boom beskou, waarvan net die toppies bo die grond uitsteek. Veral die jong groei van gifblaar is hoogs toksies en is natuurlik baie aanloklik vir diere in die vroeë lente, wanneer nog min ander plante groei.

Gifblaar is een van daardie soorte waarvan die plantmateriaal se toksisiteit behoue bly, al is dit dooie reste. Selfs die mees selektiewe vreter kan vergiftig word wanneer gifblaarmateriaal saam met onskadelike weiding ingeneem word. Veral beeste is blootgestel aan gifblaarvergiftiging.

Nog ’n gifplant wat toksisiteit by afsterwe behou, is geeltulp (Homeria pallida). Dit is een van die soorte wat wye geografiese verspreiding het en steeds aan die toeneem is. Geeltulp is veral ’n probleem in die droër westelike dele van die land waar dit veral opvallend raak deur te blom ná die eerste goeie reëns.

Groot dele van die westelike en noordelike Karoo, oostelike en suidelike dele van Noordwes, die hele Vrystaat en dele van Lesotho het geeltulp-besmettings. Geeltulp is ’n tipiese indringerplant wat vinnig nuwe areas kan binnedring – veral ou lande en oorbeweide veld. Ondergrondse bolle bemoeilik geeltulpbeheer, spesifiek met onkruiddoders.

Verskeie tulpsoorte

Een rede vir die vinnige aanwas van geeltulp is glo die afname in ystervarke wat die bolle graag vreet. In Australië, wat reken hulle geeltulp is van Suid-Afrika afkomstig, word sekere onkruiddoders met sukses aangewend. Verskeie ander tulpsoorte waarvan talle toksies is, kom in Suid-Afrika voor.

Gousiekte verwys na ’n tipe toksisiteit wat by diere intree, etlike weke nadat hulle sekere plantsoorte gevreet het. ’n Tipiese reaksie by vergiftigde diere is dat hulle skielik dood neerslaan weens hartversaking, sonder dat hulle vooraf abnormale gedrag getoon het.

Een van die vyf plantsoorte wat met gousiekte verbind word, is wildedadel of bosluisbessie (Fadogia homblei). Hierdie plant is soos gifblaar wat betref omgewingsvoorkeur en groeiwyse, met bondels takkies met blare wat kort bo die grond groei. Dit is beperk tot sandgrond en veral sandsteen- en granietkoppies in die noordelike en oostelike dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo.

Persbergdraaibos of draaibos(Felicia filifolia, subspesie filifolia) versprei vinnig en wyd in Suid-Afrika. Dit word as ’n Karooplant beskou, maar die verspreiding daarvan strek veel wyer. In hierdie opsig word dit as ‘n indringerplant beskou. Draaibos is ’n klein struik (sowat 1m hoog) wat klipperige laagtes en steiltes verkies.

Verspreiding en bestuur

Dit kom in al die provinsies voor en verspreiding strek van die ooskus tot die weskus. Dit word as toksies vir skape beskou. Soos al die genoemde gifplante is hierdie een inheems tot Suid-Afrika, en dit word soos talle ander Felicia-soorte as sierplant vir tuine aanbeveel.

Daar is uiteraard letterlik honderde meer gifplante waarmee veeboere rekening moet hou as die enkeles wat hier bespreek is. Gifplante is van plaaslike belang, en is nie oral waar dit voorkom ’n ewe groot probleem wat toksisiteit betref nie.

Baie gifplantsoorte is nie ewe toksies tydens verskillende groeifases nie, en toksisiteit kan van seisoen tot seisoen, en selfs binne ’n bepaalde seisoen, wissel. Die beheer van gifplante is in die meeste gevalle problematies en daar is nie kitsoplossings nie. Daar is byvoorbeeld slegs vir enkele soorte onkruiddoders vir beheer geregistreer. – Prof Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 6 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Hydroponic feed for intensive sheep production

Academics around the world tend to reject hydroponic feed...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...