Meer as 250 werkers van wildplase van feitlik oral het ’n baie geslaagde opleidingsdag bygewoon wat deur die Naboomspruit Bedryfskamer van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA)en Iwisa by die Castle de Wildt-kompleks buite Nylstroom (Modimolle) aangebied is.

Ellalien Davey, voorsitter van die bedryfskamer, sê die kursusse word gratis deur kenners aangebied en is baie prakties. Dit, tesame met die kennis wat die werkers terugvat na hul onderskeie plase, maak die opleiding baie gewild. Daarom het dit gegroei van 43 werkers met die eerste opleidingsdag tot 100 op die tweede dag sowat ses maande later en nou 250 tydens die derde aanbieding.

Die bedryfskamer het die behoefte aan opleiding lankal raakgesien en dit vroeër gedoen terwyl hulle ook opleidingsessies vir boere aangebied het, maar dit het om praktiese redes nie goed gewerk nie. Hulle het toe besluit om die opleidingsdag te begin en dit is nou so gewild dat werkers van bykans oor die hele land hierheen kom.

Die oogmerk is om mettertyd nog kursusse by te voeg om die bestaande opleiding in veiligheid, geëlektrifiseerde heinings, brandbestryding, onkruid- en bosbeheer, trofeeslag en waterpypleidings aan te vul. Die werkers woon drie van die ses kursusse op ’n keer by en kry sertifikate daarvoor.

Ellalien sê die welslae van die kursusse het hul stoutste verwagtinge oortref. Sy sien dit as die wildboere en almal betrokke in die wildbedryf se bydrae tot opleiding en transformasie.

Adri Kitshoff, nasionale hoofbestuurder van WRSA, sê: “Ons erfenis moet bewaar, vertroetel en gerespekteer word vir die geslagte wat kom. En hoe kan dit beter gedoen word as deur die wildwagters, wat daagliks in die voorste linie van wildbewaring staan, te bemagtig?”

Die volgende WRSA/Iwisa-opleidingsdag vir wildplaaswerkers word in September aangebied. – Andries Gouws, Veeplaas

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY