In die verlede, en selfs vandag nog, berus verhoudings tussen grondeienaars en mense wat op hulle plaas woon hoofsaaklik op mondelinge ooreenkomste.

In terme van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997), ook bekend as die Esta-wet, word die verhouding tussen grondeienaars en okkupeerders beoordeel uit hoofde van verblyfvoorwaardes en die verhouding tussen die grondeienaar en okkupeerder. Hierdie verblyfvoorwaardes spruit voort uit die toestemming, wat aanvanklik aan ’n persoon verleen is, om op die grond te woon.

Op die meeste plase word verblyfreg aan werkers toegestaan en spruit dit hoofsaaklik voort uit die diensooreenkoms. As gevolg van die feit dat die fokus met die aanstelling van ’n werker op die diensvoorwaardes is, word die behoorlike boekstawing van verblyfvoorwaardes oorgesien by die aanvanklike onderhandeling oor die terme en voorwaardes wat tussen die grondeienaar en plaaswerker sal geld.

Wedersydse verhouding

Verblyfvoorwaardes is bepalings waarop ooreengekom is tussen die grondeienaar en die okkupeerder, en dit reguleer meestal die verhouding tussen die grondeienaar en die okkupeerder. Dit behels onder meer duidelikheid en wedersydse instemming tot kwessies soos die veegetalle wat aangehou mag word, hoeveel huise betrek mag word, water- en elektrisiteitsverskaffing aan huise, en wie op die plaas mag woon saam met die okkupeerder.

Enige persoon wat al in ’n regsgeding betrokke was waarin verskil is oor presies wat ooreengekom is, sal kan bevestig dat ’n geskrewe ooreenkoms wat albei partye onderteken het ’n baie sterker basis is vir die hof om ’n beslissing op te maak as om twee partye wat met mekaar verskil se weergawes te probeer versoen en vas te stel presies wat ooreengekom is.

Bykomend daartoe is ’n geskrewe ooreenkoms op sigself ’n baie goeie hulpmiddel om regsekerheid vir beide grondeienaars en plaasbewoners te skep rondom hulle onderlinge verhoudinge.

Geskrewe ooreenkoms

Ten einde ’n geskrewe ooreenkoms rondom verblyf op plase in plek te kry, is daar gevalle waar die geleentheid bestaan om die ooreenkoms by die indiensneming van ’n persoon te onderhandel en duidelik uit te stip, maar dan is daar ook gevalle waar ’n persoon al vir ’n lang tydperk op die grond werk en woon.

Laasgenoemde omstandighede skep dikwels probleme, omdat plaasbewoners maklik met die implementering van so ’n ooreenkoms bedreig voel en omdat daar ook soms in stryd met die bepalings van die Esta-wet eensydige wysigings aan ’n bestaande mondelinge ooreenkoms aangebring word.

Belangrike oorwegings

Dit is wenslik dat die volgende belangrike kwessies oorweeg word by die implementering van enige ooreenkoms:

  • Die sluit van ’n ooreenkoms is die resultaat van ’n onderhandelingsproses en nie die eensydige oplegging van verblyfvoorwaardes nie. Dit sal onafdwingbaar wees omdat daar, regtens en in sulke omstandighede, geen sprake van ’n ooreenkoms is nie.
  • Die ooreenkoms moet verstaanbaar wees of getolk word deur ’n tolk, en selfs waar moontlik in die plaasbewoner se moedertaal vertaal word.
  • Dit is raadsaam om onpartydige instansies of persone te versoek om onderhandelinge te fasiliteer, en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming behoort van hulp te wees.
  • Bestaande verblyfvoorwaardes het reeds regte geskep en behoort erkenning te geniet in die ooreenkoms.
  • Behoorlike huiswerk behoort gedoen te word rondom alle sake wat in die ooreenkoms vervat word. Dit sal byvoorbeeld goed wees om die grootte van ’n huis wat bewoon word en waarvoor toestemming vir verblyf verleen is, op te meet en vierkante meter in die ooreenkoms uit te druk. Daarmee saam kan tegnologie soos die gebruik van GPS-koördinate ingespan word om bewoonbare gedeeltes aan te toon.
  • Dit is meestal noodsaaklik om behoorlike advies in te win of bygestaan te word deur ’n kundige op die gebied van verblyfwetgewing of die Esta-wet wanneer oor verblyfooreenkomste onderhandel word.
  • Dit is wenslik om geskrewe ooreenkomste in plek te stel as ’n pro-aktiewe stap om konflik te vermy, en nie as reaksie op ’n bestaande dispuut of konflik nie.
  • Samesprekings in ’n goeie gesindheid, wat wedersydse regsekerheid en voordele vir beide partye inhou, lewer goeie resultate en lê die basis vir die gesindheid waarmee die partye in die toekoms sal saamwerk.

– HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of epos hj@mmlaw.co.za.

Lees nóg artikels hier:

Regstatus van ontslane werkers wat nie hul werkershuise ontruim nie

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY