Gesellige samesyn wag op plattelanders by Williston Skou

519

Dit was kort voor die inperkings in 2020 dat die plattelanders saamgetrek het vir die vorige Williston Skou. Met die pandemie nou onder beheer, sien hul uit om weer van 24 tot 26 Februarie in die Karoo saam te trek vir hierdie gesellige samesyn rondom verskeie kompetisies.

Slaglamkompetisie

Die Interdorp Slaglamkompetisies skop op Donderdag 24 Februarie om 07:00 af met die ontvangs van die lewendige diere by die abattoir. Die abattoir sal Woensdag reeds vanaf 14:00 oop wees om diere te ontvang aangesien geen laatkommers toegelaat sal word nie. Om 10:00 begin die beoordeling van die lammers op die hoef. Om 10:30 sal Dirk Zandberg van SAMIC ’n demonstrasie gee van die beoordeling van ’n slaglam op die hoef. Die uitslag van hierdie beoordeling op die hoef sal om 11:30 by die abattoir bekendgemaak word.

Vleisgeselsies skop af

Na die beoordeling van die lammers op die hoef, verskuif die program vir die Williston Skou na die landbousaal vir die opening om 12:00. Om 12:15 sal John Durr, besturende direkteur van Wes-Kaap Lewendehawe, gesels oor die onderwerp: “Hoe het die skaapvleismark in die verlede gelyk?”.

“Hoe lyk die groothandelmark en wat is die voorspellings hieroor vir die volgende twee jaar” sal dan deur Phillip Naudé, bestuurder van vleis- en verwante bedrywe by KLK, toegelig word. Die laaste spreker van die dag, Hendri Truter, besturende direkteur van Delico, sal gesels oor die “Behoefte van die Suid- Afrikaanse skaap- en lamsvleisverbruiker”.

Om 19:00 is daar ’n gesellige steak-ete teen R150 per person in die braaituin met vermaak wat deur Burger le Roux verskaf sal word.

Beoordeling van diere

Die aan-die-haak beoordeling van die slaglamkompetisie word op Vrydag 25 Februarie vanaf 06:30 by die abattoir gedoen. Na afloop hiervan sal die pryse om 14:00 by die landbousaal op die skouterrein uitgedeel word.

Die dag se skouverrigtinge skop af met ’n ontbyt van 07:00 tot 09:00 in die Biertuin teen R60 per persoon. Hiertydens sal die amptelike opening van die Williston Skou plaasvind.

Met die slaglamkompetisie bykans afgehandel, is dit tyd vir die melkbokke, boerbokke en Dohne Merino’s om nader te staan vir beoordeling. Duiwe- en pluimveebeoordeling begin ook om 09:00. Met al die bedrywighede in volle swang, open die stalletjies en kafee.

Om 15:00 is daar ’n Meatmaster-tentoonstelling en die duiwe- en pluimveewenners word om 16:00 bekendgemaak. Stalletjies sluit om 17:30 sodat skougangers kans kry om hul vere reg te skud vir die skoudans. Toegang hiervoor is R50 per persoon en die koste van die ete beloop R80 per persoon.

Hierdie beloof om sommer ’n baie lekker saamkuiergeleentheid vir plattelanders te wees wat lankal uitsien na ’n lekker geselligheid.

Propovol program ter afsluiting

Die Dorper en Witdorper Veldskou-kampioenskappe open Saterdag 26 Februarie om 07:00 vir inskrywings en om 07:30 word lede van die jeugskou ingeskryf vir hul kompetisie. Perdeklasse begin om 08:30 met die opening van die jeugskou kort hierna.

Een van die groot vermaaklikhede van vanjaar se Williston Skou, is ’n optrede deur die bekende Lizz Meiring tydens die mans- en damesoggend vanaf 09:00 tot 11:00 teen R150 per persoon. Om 14:00 sluit die stalletjies en teen 14:30 vind die finale perdekampioenskappe plaas.

Daar sal om 18:00 weer heerlike etes wees vir ’n laaste lekker saamkuier. Voorwaar ’n propvol program vir ’n lekker plattelandse skou.

Indien jy enige verdere inligting benodig, skakel Wilhelm Steenkamp by 082 345 5359. – Koos du Pisanie, AgriOrbit