Estimated reading time: 4 minutes
Met drie nasionale suiwelbeeskampioenskappe, ’n groot pluimveeskou, skape, perde en ’n jeugskou, het die George-landbouskou vanjaar sy naam gestand gedoen as skou wat verskillende aspekte van die landbou tentoonstel.

‘n Besliste hoogtepunt was die Jersey-, Holstein– en Ayrshire-suiwelrasse wat teen mekaar meegeding het. Twee oorsese beoordelaars, Brian Carscadden van Kanada en Greg Evans van Georgetown in Amerika, het onderskeidelik die Jersey- en Holstein-skou en die Ayrshire-kampioenskap beoordeel.
Lees meer oor die onlangse SA Stamboek-toekennings op George.
Jerseys gee mekaar die stryd aan
In die Jersey-kampioenskap het twee vertoners, Brett Puttergill van Puttergill-boerdery by Thornhill in die Oos-Kaap, en Andrew Masterson se Milagro-stoetery by Humansdorp, goed gevaar.
Buiten die senior- en grootkampioenkoei, Puttergill XF1 Justine 18417, het Puttergill ook die Jersey Jug-kampioen, die reserwe jongkoei wat ook die uierkampioen was, en die reserwe seniorkampioen en reserwe grootkampioenkoei vertoon. Masterson het gespog met die reserwe verskampioen, die jongkoeikampioen wat ook die reserwe uierkampioen was, die juniorkampioen en die reserwe grootkampioen.
Ander vertoners wat kampioene opgelewer het, was Jaco van Rensburg van George (reserwe Jersey Jug, reserwe goue koei en ou koei), Pieter van Deventer van Heidelberg (goue koei, reserwe junior) en Hanro Uys van Bredasdorp (verskampioen).
Holstein- en Ayrshire-kampioene
Puttergill en Masterson het ook Holsteins vertoon. Die senior en grootkampioenkoei, Milagro Lynette 18123, asook die jongkoeikampioen het uit die Milagro-stal gekom.
Puttergill se koeie was die reserwe kalf- en verskampioen, reserwe jongkoei, reserwe seniorkampioen en reserwe grootkampioen. Jannie Meyer en Seuns van Mosselbaai het met die kalf- en verskampioen gespog.
In die Ayrshire-kampioenskap het Kevin Lang van die Grace Valley-stoet by Howick in KwaZulu-Natal, die groot titels verower. Die grootkampioenkoei uit Lang se stal, Grace Valley Burdette’s Olivia, was ook die seniorkampioen en nasionale uierkampioen.
Lang het ook die jongkoeikampioen, wat ook die reserwe grootkampioen en jongkoei met die beste uier was, vertoon. Ander vertoners wat kampioene opgelewer het, was Brian Macaskill van Howick (reserwe jongkoei), Edmund Els van Hermanus (verskampioen) en Walter Finlayson, ook van Hermanus (reserwe verskampioen).
Lees meer oor die 2022 George-landbouskou hier.
Ander afdelings
In die pluimvee-afdeling wat in samewerking met die Wes-Kaapse Pluimveeklub aangebied is, is 60 hoenderrasse vertoon. Die kategoriewenners was John Cronjé van Stilbaai (sagteveer-bantam, egte bantam), Hennie Swart van Caledon (hardeveer-bantam, hardeveer-grootras), Adré Steenkamp van Oudtshoorn (beste eend), en Hans Greeff van Middelburg (sagteveer-grootras).
In die skaapafdeling is kuddebeoordeling van twee rasse, Merino’s en Dohne-Merino’s deur Giepie Calldo, tegniese bestuurder van BKB, gedoen. ’n Skeerdemonstrasie was ook deel van die skaapvertoning.
’n Jeugskou is aangebied met leerlinge wat hul vaardigheid met die hantering van onder andere skape en Boerbokke moes wys. ’n Klein perde-streekskou met deelnemers uit die omgewing het vir goeie Saalperd-vertonings gesorg. – Chris Jooste, Plaas Media
Vir meer inligting, besoek www.georgelandbouskou.co.za.