Estimated reading time: 2 minutes
George Landbouskou is een van die hoogtepunte op die Suid-Kaap se landboukalender, al kon die beplande Nasionale Kampioenskap van Jersey SA weens bek-en-klouseer (BEK) en die gevolglike verbod op beesvervoer, vanjaar nie plaasvind nie.
Corné Botha, president van die skou, het egter goeie nuus. “Ons het met Jersey SA onderhandel om die Nasionale Jersey-kampioenskap wel in 2023 tydens die skou aan te bied. Ons hoop dat dit dan selfs groter sal wees as die sowat 120 diere wat vir vanjaar se skou ingeskryf was.”
Lees meer oor die onlangse Agri Noord-Kaap kongres hier.
Ander afdelings skitter
Verkseie ander beeskampioenskappe het ook weens die verbod in die slag gebly, maar gelukkig kon skougangers nog na die perdeskouspel kyk, waar pragtige Saal-, Fries- en Boerperde deur hul passies gesit is. Die hoogtepunt was die aanwysing van die Grootkampioen Saalperd en die Grootkampioen Friesperd aan die einde van die skou.
Lees meer oor stampkopkewers hier.
In die kleinvee-afdeling het die demper van die BEK-verbod ook deurgeskemer. Die jeugskou wat sou plaasvind, is afgelas. Geen Angora- of Boerbokke is vertoon nie, maar uitstekende Merino’s en Dohne-merino’s van verskillende telers het beslis nie teleurgestel nie. Kudde-evaluasies is deur wolkenners gedoen, en vir baie van die dorpenaars was die skaapskeerdemonstrasie ‘n eerste.
Die pluimvee- en konynskou was een van die grootstes nog. Ferdie Alberts, koördineerder van die afdeling, sê sowat 450 stuks pluimvee, wat hoenders, ganse en selfs ’n kalkoen ingesluit het, was ingeskryf. Sowat 50 konyne is deur Judy Stuart, ’n melkboer van Howick en stigter van die Future Farmers Foundation, beoordeel.
Lees meer oor die Bathurst landbouskou hier.
Corné sê die skoubestuur is baie gelukkig met die bywoning van die skou. “Veral Saterdag het skougangers die skou in groot getalle bygewoon. Hulle het veral die ovaalbaanwedrenne geniet en die beoordeling van die kampioenskappe in die perde-afdeling het vir groot opwinding gesorg.” – Chris Jooste, Veeplaas
Vir meer inligting, besoek die skou se webtuiste by www.georgelandbouskou.co.za.