Estimated reading time: 2 minutes
Candice de Waal, ’n PhD-student aan die Universiteit van Pretoria, is tans besig om fondse in te samel deur ’n Wildlife Disease Association-inisiatief. Die fondse sal bydra tot haar studie oor die genetiese diversiteit in Afrika-leeus vir siekte-veerkragtigheid.
Vroeëre studies het ontdek dat die Afrika-leeus tussen 1993 en 2014 met 43% verminder het, hoofsaaklik as gevolg van menslike invloed wat lei tot habitatverlies en konflik. In die Kruger Nasionale Park het die hoeveelheid Afrika-leeus reeds met 5% verminder en daar is ’n vermoede dat siektes ’n rol speel hierin.
Met die toename in bees-tuberkulose (bees-TB) en kat immuunonderdrukkende virus (Kat VIGS) in die park die afgelope drie dekades, word die Kruger Nasionale Park beskou as endemies vir die aansteeklike siektes. Vroeëre studies het ook bewys dat leeus kwesbaar is vir beide bees-TB en Kat VIGS sowel as ander patogene.
Sy noem verder dat alhoewel die Kruger Nasionale Park die tuiste is van die wêreld se grootste Afrika-leeubevolking, daar nie baie inligting beskikbaar is oor die verhouding tussen genetiese diversiteit en siektelas by hierdie leeus nie.
Lees meer oor die bewaringswaarde van leeus.
“Siektes het ’n negatiewe impak op die leeupopulasie. Namate siek leeus verdryf word, word die troppe onstabiel en dit lei tot tropoornames. Dus, om oorlewing te verseker, moet die leeus oor genetiese diversiteit vir siekteveerkragtigheid en aanpasbaarheid by hul omgewing beskik. Ons doel met die studie is om die genetiese diversiteit van die leeupopulasie te bepaal, en die verband met siektelas te ondersoek,” sê Candice.
Die studie sal inligting verskaf met die oog op bewaringsbestuur wat die lewensvatbaarheid van die Afrika-leeu as ’n kwesbare spesie insluit asook inligting rakende genetiese gesondheid en vatbaarheid vir siektes. Navorsers wat kleiner leeupopulasies regoor Afrika bestudeer, wat ’n hoër risiko loop vir inteling en genetiese verliese, sal ook by die studie baat vind.
Kontak Candice by dewaal.cr@tuks.co.za of 079 625 2602 vir verdere inligting.
Direkte finansiële bydraes kan gemaak word op die projek se skarefinansieringswebblad: https://experiment.com/projects/investigating-genetic-diversity-in-african-lions-for-disease-resilience. Alle donasies word nou aangeteken, en gelde word einde Julie outomaties gekollekteer. – Koos du Pisanie, AgriOrbit