Geheime vir groter sojaboon- en mielie-opbrengs by sojadag gedeel

Estimated reading time: 5 minutes

Die kombinasie van die natuur, wetenskaplike ontledings en ‘n behoorlike kennis oor sojabone en mielies se behoeftes, is baie belangriker as om blindelings net nóg insette toe te dien. Dít was die hoofboodskap tydens die Balfour Boeredag, wat op 17 Maart in Mpumalanga plaasgevind het.

Meer as 500 mense het gedurende die dag op Balfour in Mpumalanga bymekaargekom vir Danie Bester, ‘n voormalige TLU SA Jongboer van die Jaar, se tweede sojadag.

“Uiteindelik is en bly weersomstandighede die grootste bepaler van opbrengs. As die weer nie saamspeel nie kan jy maak net wat jy wil, maar jy sal nie jou droom-opbrengs verwesenlik nie,” het Bester gesê.

Lees meer oor sojabone as dierevoer.

Die 60/40-beginsel

‘n Enkele bui reën of ‘n vlaag hitte kan uiteindelik die verskil maak. Sojabone is baie gevoelig vir temperatuur as gevolg van die wyse waarop dit koolstofatome inspan om fotosintese te bewerkstellig. Sojabone is ‘n C3-plant, wat beteken dat dit atmosferiese koolstofdioksied (CO2) direk deur sonlig fotosinteer (oftewel na suurstof en suikers kan omskakel).

“Produsente wat hierdie basiese beginsel van sojabone bestudeer, gaan vinnig begin verstaan wat sojaboonopbrengs werklik bepaal en dít maak uiteindelik die verskil tussen iemand wat 2 ton/ha stroop en een wat 5 ton/ha stroop,” sê Bester. “Die rede hiervoor is dat diegene wat 5 ton stroop beter verstaan wat ‘n sojaboon laat stres en daarom hanteer hy of sy die plant se stres van die begin af beter.”

Een van die groot verskille tussen ‘n mielie (C4-plant) en ‘n sojaboon (C3-plant) is die feit dat ‘n mielie wat deur die dag warm gekry het, homself saans binne ‘n uur of ‘n halfuur kan afkoel, vertel Bester. “ ‘n Sojaboon kan nie dieselfde doen nie. Wanneer ‘n sojaboon vanaand vyfuur nog warm gekry het, gaan dit nog warm wees vir twee of drie dae daarna. En as jy die plant nie voorberei om die stres minder maak nie, gaan jy blommetjies en peule verloor.”

Bester sê die verlies aan blomme en peule is problematies, omdat dít uiteindelik is wat opbrengs bepaal.

“Daar’s ‘n verskil tussen opbrengs maak en opbrengs spaar. Jy kan nie ‘n 2-ton oes na ‘n 6-ton oes spuit – met ‘n kannetjie vol goed waarvoor jy vir baie geld moes betaal – nie.”

Terwyl die weer 60% van die oesopbrengs bepaal, lê die ander 40% in die produsent se hande, sê Bester. Dit is híér waar kennis die verskil tussen ‘n gemiddelde en goeie sojaboonprodusent skei. “Die belangrike faktor is dit: Kan jy jou opbrengs van hierdie jaar weer volgende jaar herhaal? Bykans alle produsente het verlede jaar ‘n goeie opbrengs gehad, want die weersomstandighede was gunstig. Maar hoeveel weet hoe om die sukses te herhaal?”

Bester sê buiten dit moet produsente verseker dat hulle grond se mikrobioom lewendig is en navors watter sojaboon goed by hulle sal doen. “Sojas is anders as mielies en ander gewasse. Net omdat ‘n sojaboon goed doen by jou buurman, beteken nie dat dit goed sal doen by jou nie.”

Bemesting

“Die belangrikste ding is om die kalk en pH van die grond reg te kry,” sê Bester. Elementopnames en die grondbiologie gaan eenvoudig nie werk indien grond se suurvlakke nie reg is nie.

Die belangrikste elemente volgens Bester is kalk, kalium, fosfaat, boor en molibdeen. “Hierdie is die belangrikste elemente. Produsente moenie hulle tyd of geld mors met onnodige landbouchemie nie.”

Aan die ander kant is dit egter ook belangrik om te sorg dat daar nie te véél sout (natrium) op die lande is nie, voeg Bester by. “Kyk bietjie hoeveel sout is in jou kunsmis. Wie gaan strooi sout in hul lande? Niemand, maar tog strooi boere maklik droë kunsmis,” sê Bester en voeg by dat produsente bedag moet wees op die hoeveelheid sout in hul kunsmis.

Mielies

Vanjaar het Kevin Kalb, ’n droëland-mielieboer van Indiana in Amerika, as ’n gasspreker tydens dié dag opgetree. Kalb staan as dié Amerikaanse droëland-mielieboer bekend, omdat hy die Amerikaanse Nasionale Droëland-mielie-opbrengskompetisie ’n indrukwekkende 12 keer gewen het. “Ons het uiteindelik aan dié kompetisies begin deelneem oor verskeie redes. Ons wil geld maak en deur die kompetisie leer jy beter hoe om jou oes te spaar en uiteindelik jou winsopbrengs te verhoog.”

Lees meer oor Kevin Kalb.

Die hoogste droëlandoes wat Kalb al op ’n enkele hektaar afgehaal het, was 27,5 ton/ha en die hoogste gemiddelde droëlandopbrengs wat hy nog regoor sy plaas kon vermag, was 20,4 ton per hektaar.

In 2021 het Kalb sy mees winsgewende oes ooit gehad. Daardie jaar het hulle 28,85 ton/ha gestroop, terwyl hulle slegs 165kg vloeibare stikstof per hektaar neergesit het.

Lees oor die hoë prima-uitleenkoers wat boere hard tref.

“Daar is ongelukkig nie ’n vinnige manier om by ’n hoë opbrengs uit te kom nie, want dit gaan alles oor grondgehalte. Ons het ons grond oor geslagte heen opgebou en ek het byvoorbeeld die afgelope 20 jaar nie droë kunsmis gebruik nie,” sê Kalb. Hy voeg by dat die soutinhoud van droë kunsmis die hoofrede is hoekom dit nie oorweeg word nie. “Ons is nou op die punt waar ons geen natrium in ons grond kan opspoor nie.” – Susan Marais, AgriOrbit

Popular stories