Geen voëlgriep onder SA melkbeeste gevind

Share This Post

Estimated reading time: 3 minutes

Terwyl wetenskaplikes kopkrap oor onlangse gevalle van hoogs aansteeklike voëlgriep in ‘n paar Noord-Amerikaanse melkkuddes, het Melk SA bevestig dat daar tans geen rede is om te glo dat voëlgriep onder plaaslike melkbeeste voorkom nie.

Tot dusver het nog geen plaaslike kuddes tekens getoon van voëlgriepbesmetting nie en verbruikers kan met gerustheid vertrou dat ‘n glas Suid-Afrikaanse melk gesond en veilig is, sê dr Mark Chimes, raadgewende veearts van Melk SA. Die organisasie sal ook sy samewerking aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gee om te sien hoe enige plaaslike risiko verskans kan word. “Dit is belangrik om te verseker dat die nasionale kudde voëlgriep-vry moet bly.”

Produsente word intussen aangemoedig om te verseker dat alle biosekuriteitsmaatreëls nouliks nagekom word.

Kyk Plaas TV se insetsel oor die beste suiwelpraktyke hier.

VSA-melkkuddes en voëlgriep

Gedurende die laaste week van Maart vanjaar, het die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) ‘n verklaring uitgereik waarin bekendgemaak is dat voëlgriep in twee melkkuddes in Texas en twee melkkuddes in Kansas gediagnoseer is. Staatsveeartse en ander openbare gesondheidsamptenare het bevestig dat siektetekens in besmette diere, onder andere verlaagde laktasies en ‘n verswakte eetlus insluit.

Hoewel aanvanklik geglo is dat die virus uitsluitlik deur watervoëls oorgedra word, is wetenskaplikes weer besig om die saak te ondersoek nadat dit op 29 Maart rugbaar geword het dat ‘n melkkudde in Michigan óók besmet is. Hierdie inligting het op die lappe gekom nadat diere van Texas na Michigan geskuif is. Gevolglik ondersoek wetenskaplikes die moontlikheid dat voëlgriep nou ook van bees tot bees versprei kan word. Vroeër is geglo dat die virus deur watervoëls versprei is, omdat die virusstam soortgelyk aan dié van die H5N1-virusstam is, wat hoofsaaklik onder Europese trekvoëls voorkom.

Die vermoede bestaan dat voëlgriep ook na ander melkkuddes in New Mexico, Idaho en Texas versprei het, maar die toetsuitslae is nog onbekend. Die USDA het wel gesê alhoewel die oordrag van voëlgriep van beeste na mense teoreties dalk moontlik mag wees, is die gevaar van so iets tans baie klein.

Die USDA, die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en voorkoming, staatsveeartse en openbare gesondheidsamptenare was teen druktyd steeds besig om die siekte onder ouer melkbeeste te ondersoek.

Verbruikers wêreldwyd gerusgestel

Intussen het die Internasionale Suiwelfederasie (ISF) op 4 April ‘n verklaring uitgereik waarin verbruikers verseker is dat Amerikaanse kommersiële melk en suiwelprodukte steeds veilig vir menslike verbruik is.

In hierdie stadium bestaan geen kommer dat hierdie omstandighede ‘n risiko vir verbruikers se gesondheid inhou nie, lui die verklaring. Kommersiële melk wat oor deelstaatsgrense vervoer word, word ook nie deur die siekte beïnvloed nie, aangesien produkte gepasteuriseer word voor dit die mark betree. Lesers kan meer inligting oor melk- en suiwelveiligheid vind deur hierdie skakel te volg: Questions and Answers Regarding Milk Safety During Highly Pathogenic Avian Influenza (HPAI) Outbreaks | FDASaamgestel deur Susan Marais, Plaas Media

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 35 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...