Estimated reading time: 3 minutes
Die bruto binnelandse produk (BBP) het in die laaste kwartaal van 2023 jaar-op-jaar met 0,9% gegroei. Dit is aansienlik laer as die derde kwartaal se 4,2% groei. Kwartaal-tot-kwartaal het die ekonomie egter met 1,3% gekrimp. Een rede vir die daling in die BBP is die hoër rentekoerssiklus waarin die land weens hoë inflasiesyfers verkeer. Die BBP van landbou, bosbou en vissery het ‘n goeie jaar-tot-jaar groei van 10,6% getoon.
Die rand het baie van sy waarde teen beide die Amerikaanse dollar en die euro verloor en aan die einde van Februarie het die rand teen onderskeidelik R18,29 en R19,37 verhandel. Dit rig bekommernis oor die hoë inflasie wat reeds ervaar word. Die verbruikersprysindeks (VPI) en die produksieprysindeks (PPI) het wel albei in Januarie na 6,9% en 12,7% onderskeidelik gedaal, terwyl die prima uitleenkoers op 10,75% staan.
Geelmielies
Die geelmielieprys het gedurende Februarie verswak en teen R4 305/ton gesluit. Vooruitsigte is dat die prys verder afwaarts kan neig. ‘n Verdere kommernis vir saaiboere is dat die kontrakprys van Julie 2023 se mielies op die oomblik baie krag verloor. Die groot mielie-oes wat verwag word kan deels hiervoor verantwoordelik wees.
Wolmark
Die wolmark het deur die loop van die maand ook verswak, wat teenstrydig is met die verswakking van die rand gedurende dieselfde tyd. Australië se wolpryse het egter ook gedaal danksy ‘n laer internasionale vraag. Gesertifiseerde wol se aanwyserprys het op die laaste veiling van Februarie teen R187,28/kg verhandel. Die eerste bokhaarveiling het ‘n aanwyserprys van R365,10/kg behaal. Hierdie prys was laer as verlede jaar se aanvangspryse, maar dit was ongeveer R35/kg sterker as die laaste veiling van 2022.
Karkasse
Beeskarkaspryse (Figuur 1) het die skerp dalende tendens tydens Februarie voortgesit met die gemiddelde A2-prys wat teen R54,41/kg gesluit het. Die B2-prys het teen R48,81/kg gesluit en die C2-prys teen R48,30/kg.

Speenkalfpryse het gedurende die eerste week van die maand tot R37,16/kg gestyg, en daarna verder tydens die res van die maand verswak om teen R34,06/kg te sluit. Karkaspryse behoort teen einde Maart met die opbou na Paasnaweek effens te verbeter, maar speenkalfpryse gaan laag bly tot na speentyd.
Kry die weeklikse speenkalfpryse.
Skaap- en lamkarkaspryse het gedurende Februarie begin stabiliseer met die A2-prys wat teen R84,27/kg gesluit het. Verder het die B2-prys teen R68,83/kg en die C2-prys teen R64,47/kg gesluit. Speenlampryse het begin van die maand verswak, maar later gestabiliseer om teen R37,12/kg te sluit. Die prys van klas O-varkkarkasse het gedurende Februarie met meer as ‘n rand verswak en het teen R34,46/kg gesluit. – Hannes Venter en prof Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.