Estimated reading time: 2 minutes
Bek-en-klouseer het onlangs by ’n voerkraal in Bronkhorstspruit in Gauteng uitgebreek. Volgens dr Grietjie de Klerk, adjunkdirekteur vir epidemiologie van dieregesondheid by die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, is positiewe gevalle by beeste in die voerkraal gevind en duur die ondersoek nog voort.
Dit volg ná gevalle van bek-en-klouseer vroeër in Julie by ’n voerkraal in Noordwes en een in die Vrystaat aangemeld is. Volgens Gerhard Schutte van die Nasionale Dieregesondheidsforum, was hierdie die eerste aangemelde uitbrekings in grootskaalse voerkrale.
Schutte meen die ontwikkeling van entstowwe in Suid-Afrika moet nou voorkeur kry, aangesien entstof vir bek-en-klouseer tans vanaf Botswana verkry moet word. Hy meen dit is ook baie belangrik dat die toetse vir dié siekte vinniger geskied. Daar moet, sodra daar ’n uitbreking in ’n spesifieke provinsie aangemeld word, ’n gesamentlike operasiesentrum wees. “Dit geskied saam met die provinsiale dieregesondheidsforum en dit sal baie vinnig van die grond af moet kom.”
Volgens Schutte voer SA tans rooivleis na ongeveer 26 lande uit. “China sal in die korttermyn nie ons vleis invoer nie.” Die doelwit is om uitvoere met inentings te kan dryf, wat reeds in lande soos Brasilië suksesvol gehandhaaf word.
“Die fokus is om ons handelsvennote te oortuig dat ons hierdie situasie onder beheer het en ons sal dit bloot net moet regkry,” meen hy. “As ons kyk na die verwysing van die rooivleisbedryf in die meesterplan, is dit duidelik dat die bedryf se uitvoere van 5% van ons plaaslike produksie na 20% kan groei. Ons kan ook R12 miljard tot landbou se bruto nasionale produk bydra.”
Agri SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika het ook hul kommer uitgespreek oor die uitvoerverbod op wol na China weens die bek-en-klouseer-uitbrekings. Die eerste wolveiling vir die seisoen is vir laat Augustus geskeduleer. Volgens Agri SA sal dit ’n vernietigende uitwerking op die land se wolbedryf hê, aangesien 70 tot 80% van Suid-Afrika se wol tradisioneel vir China bestem is.
SA and Chinese wool industry stakeholders address FMD
Sedert die verbod in April 2022 aangekondig is, het die Suid-Afrikaanse wolbedryf sowat R734 miljoen se woluitvoere na China verloor. Die wolbedryf het ’n beroep op die regering gedoen om die kwessie dringend met die Chinese owerhede op te neem. – Saamgestel deur Elmarie Helberg, AgriOrbit