Estimated reading time: 4 minutes

Miljoene liter half- of ongesuiwerde rioolwater van munisipaliteite word daagliks in die Vaalrivier en die Oranjerivier gestort. Dit laat ’n mens met die vraag, hoe skoon is die water van die Oranjerivier werklik vir al die waterverbruikers? Hoeveel moeite word gedoen om die rivier skoon te hou, nie net vir menslike gebruik en die akwatiese ekosisteme nie, maar ook vir landbou langs die laer Oranjerivier?

’n Klompie individue en veral besproeiingsboere het ’n paar jaar gelede ervaar dat die gehalte van die water besig is om drasties af te neem. Gevolglik het hulle die organisasie Gariep Watch gestig om dié probleem te ondersoek omdat die Oranjerivier ’n lewensaar vir baie mense en diere is. Die werk wat sedertdien gedoen is, het sulke uitstekende resultate opgelewer dat Gariep Watch vanjaar vir een van die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF) se prestige-wetenskaptoekennings genomineer is.

Probleme in die Oranjerivier-stelsel

Fritz Bekker, wat grootliks by die werksaamhede van Gariep Watch betrokke is, vertel dat een gedeelte van die probleem veroorsaak word deur disfunksionele plaaslike owerhede langs die rivier wat hul ongesuiwerde riool direk in die rivier stort. Hierdie bronne van besoedeling kan nog aangespreek word deur verskeie aksies wat Gariep Watch onderneem. ’n Ernstiger probleem is egter die groot hoeveelhede riool vanuit die Vaalrivier-opvangsgebied wat seisoenaal by Douglas in die Oranjerivier inloop.

Hierdie probleem is baie groter as wat die meeste mense dink. Net in die Vaalrivier vanaf Gauteng word daar elke dag sowat 250 miljoen liter riool gestort en hierdie water eindig in die laer Oranjerivier op. Volgens Fritz kan owerhede eintlik ’n eenvoudige proses volg om besoedeling uit die rivier te hou.

Rioolsuiwering by veral kleiner munisipaliteite is eintlik veronderstel om maklik te wees. Eerstens moet die rioolwater net na ’n sentrale punt gepomp word, waar die soliedes soos plastiek en sand in ’n aanvanklike proses verwyder word. Daarna word ’n natuurlike bakteriologiese suiweringsproses in oksidasiedamstelsels aan die  gang gesit. Dit is eintlik ’n skande dat dit nie gedoen kan word met al die belastinggeld wat beskikbaar is nie.

“ ’n Mens onderskat die risiko van selfs klein hoeveelhede ongesuiwerde riool in ’n rivier omdat skadelike bakterieë, virusse, fungi en parasiete na stroom-af verbruikers versprei word,” sê Fritz.

Hy voeg by dat die E.coli-telling in die rivierwater by verskeie punte naby munisipaliteite so hoog is, dat dit feitlik onbruikbaar is vir menslike gebruik of vir landbou. E. coli is ’n indikator-organisme wat geassosieer word met menslike ontlasting wat glad nie in ons riviere hoort nie.  

Vind meer uit oor die Oranjerivier-omgewing hier.

Gariep Watch doen navorsing in die Oranjerivier

Omdat die Oranjerivier die lewensaar van baie gemeenskappe is, het lede van Gariep Watch besluit om op te tree en genoegsame forensiese kwaliteit bewyse in te samel en klagtes teen munisipaliteite wat dié kosbare lewensbron besoedel, te lê. Hulle kry ook baie goeie samewerking vanaf die gemeenskappe langs die rivier.

Gariep Watch het reeds baie navorsing gedoen in die laer Oranjerivier. Fritz vertel dat hulle ’n goeie korrelasie kry tussen die aantal diarree-gevalle in die Noord-Kaap wanneer die Vaalrivier in vloed is. In een van die gevalle was daar in Upington tot 80 gevalle van diarree wat daagliks by een staatshospitaal aangemeld is. Daar is baie mense wat van die water direk uit die rivier en besproeiingskanale gebruik moet maak omdat dit hul enigste bron is.

Nog ’n probleem wat Gariep Watch se navorsing wys, is dat die rivier sy vermoë verloor om water op ’n natuurlike wyse te suiwer omdat sekere boublokke van die akwatiese ekosisteme afgebreek word deur rioolbesoedeling. Die impak op stroom-af verbruikers kan dus baie vererger indien die rivier se natuurlike ekosisteme nie opgepas word nie. 

Verder het hulle bevind dat die rivier se soutkonsentrasie goed korreleer met die bakterietelling. Die rede hiervoor is dat stroom-op myne ook die riviere besoedel en dit kom saam met die riool in die rivier af. Rioolwater het ook ’n verhoogde soutkonsentrasie.

Besproeiingsboere word dikwels daarvan beskuldig dat die kunsmis wat hulle op lande gebruik verantwoordelik kan wees vir dié hoë soutkonsentrasie in die rivier, maar Gariep Watch het bevind dat dit nie die geval is nie. Hulle het eerder gevind dat die boere sout onttrek van die reeds besoedelde rivierwater. Hierdie sout word dan gekonsentreer deur verdamping.

Gevolge vir besoedelaars

Gariep Watch het met hul navorsing daarin geslaag om al die kritieke punte van besoedeling in die rivier te identifiseer, en op hierdie manier kan hulle al die besoedelaars aan die pen laat ry in ’n poging om die Oranjerivier te red.

Dit is danksy hierdie werk wat reeds gedoen is dat Agri Noord-Kaap besluit het om die NWTF van Gariep Watch in te lig.

Gariep Watch is tans besig om verskeie nuwe tegnologie en strategieë te ondersoek wat opvanggebiedsbestuur makliker kan maak en waarmee produsente vinniger toegang tot inligting rakende hul waterkwaliteit kan kry. – Koos du Pisanie, AgriOrbit