Veediefstal as ’n georganiseerde misdaad wat deur sindikate en groepe beoefen word, blyk toe te neem in alle dele van die Vrystaat.

Diefstal op grens in kollig

Groot hoeveelhede vee met nuwe brandmerke word met bakkies en sleepwaens oor die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho, vir afsetgebiede in Gauteng, vervoer. Primêre en sekondêre paaie of roetes van die grens af word deur die Oos- en Noord-Vrystaat gebruik vir die vervoer van gesteelde vee.

Op die Border Safeguarding Forum en die prioriteitskomitee se vergaderings is versoeke gerig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens die vervoer en beweging van voertuie dophou om die oorsprong van eienaarskap en diefstal te bepaal. Landbouers word weereens versoek om al die voorkomingsmaatreëls vir veediefstal, soos vervat in die RPO en VL se handleidings, toe te pas om te seker te maak hulle word nie teikens van veediefstal nie.

Wees op die hoede vir dié bedrogspul

Dit het onder die RPO en VL se aandag gekom dat ’n veediefstal-bedrogspul landbouers negatief raak. ’n Sogenaamde polisiebeampte of offisier bel die klaer tussen twee weke en ’n maand nadat veediefstal aangemeld is en sê dat van die vee in ’n ander provinsie teruggevind is. Die landbouer word dan versoek om ’n sekere bedrag te betaal sodat die diere gehaal kan word. Sulke voorvalle het die afgelope paar maande in onder andere Kestell, Frankfort (Mafube), Viljoenskroon en Bloemfontein voorgekom.

Ander gebiede kan ook hierdeur geraak wees. Dit het ook al in ander provinsies soos die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal plaasgevind. ’n Nasionale taakspan wat die bedrogspul ondersoek, is skynbaar saamgestel. As ’n landbouer gekontak word, moet hy dit onder die RPO of VL se aandag bring en ook sy betrokke ondersoekbeampte kontak wat sal weet of enige vee teruggevind is.

Verkoop vee op regte manier

Landbouers moet weereens kennis neem dat hulle geen vee telefonies of via die internet moet verkoop nie en dit slegs deur geakkrediteerde APAC verskaffers te doen. Die persoon in Korrektiewe Dienste se aanhouding is steeds besig om landbouers te benadeel. Meld enige voorvalle by die RPO en VL of die spesifieke veiligheidsverteenwoordiger aan. – Vrystaat Landbou

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY