Aanplantings vir die nuwe seisoen was aanvanklik baie wisselvallig, met reën wat in groot gedeeltes van die land weggebly of eenvoudig net te laat gekom het vir optimale aanplantings. Die meeste gewasse is oor die algemeen redelik laat en nie in die optimale planttyd geplant nie.

Read it in English. 

Goeie reën het egter oor groot gedeeltes van die land se saaigebiede voorgekom, wat gunstig is vir die produksietoestande. Dus lyk die gesaaides in die meeste dele van die land aansienlik beter as ʼn paar weke gelede.

Die koue nader aan die einde van die seisoen is nog een van die risiko’s wat dopgehou sal word in die plaaslike mark tot en met strooptyd. Met die laat aanplantings kan vroeë koue steeds moontlik ʼn negatiewe impak op die opbrengs hê in van die gebiede waar die mielies laat geplant is.

Ander gewasse, veral sonneblom is ook laat aangeplant, aangesien produsente in groot produksiegebiede gewag het vir genoeg vog om te plant en mielie-aanplantings wou finaliseer voordat hulle oorbeweeg na sonneblom.

Die oesskatting

Die Nasionale Oeskattingskomitee het Dinsdag sy eerste produksieskatting van somergrane vir die seisoen bekend gemaak, wat heelwat verdere onsekerheid uit die mark gehaal het. Volgens die eerste produksieskatting word die totale mielieproduksie op 12,2 miljoen ton geskat, waarvan wit- en geelmielieproduksie albei op sowat 6,1 miljoen ton geskat word.

Volgens dié skatting sal vanjaar se produksie die vierde grootste mielieoes die afgelope tien jaar wees. Die 2017/18-seisoen se rekordproduksie van 16,82 miljoen ton en uitvoer wat nie volgens die verlangde tempo plaasgevind het nie, het veroorsaak meer as vier miljoen ton se oordragvoorraad aan die einde van die huidige bemarkingseisoen (einde April) in die land sal wees.

As gevolg daarvan sal Suid-Afrika in die komende seisoen weereens in die internasionale uitvoermark moet meeding, wat die pryse nader aan die uitvoerpariteitsprys vir die seisoen sal hou. Die sojaboonaanplantings van 775 300 hektaar vir die seisoen is ʼn rekord vir oppervlakte geplant, terwyl die verwagte produksie van 1,375 miljoen ton ook ʼn rekord vir Suid-Afrika sal wees.

Die sonneblomsaadaanplantings, wat op 584 900 hektaar geskat word, is minder as wat verwag is met laat aanplantings wat steeds plaasgevind het. Sonneblomsaadproduksie word op 731 505 ton geskat vir die seisoen.

Grafiek 1 toon die diepsee-uitvoerbare surplus mielies in die komende seisoen gegewe verskillende opbrengs-scenario’s. Volgens die huidige NOK-skatting is die gemiddelde mielie-opbrengs 5,35 ton per hektaar. Dus kan die diepsee-uitvoerbare surplus vir die 2018/19-seisoen sowat 3,7 miljoen ton wees as die gemiddelde plaaslike verbruik en gemiddelde uitvoer na ander Afrikalande reeds in ag geneem is.

Diepsee-uitvoerbare surplus van mielies vir die 2018/19-seisoen gegewe verskillende opbrengs-scenario’s.

Hou die volgende in gedagte vir die komende seisoen

Daar gaan ’n groot oordragvoorraad aan die einde van die huidige bemarkingseisoen wees. Produksie vir die nuwe seisoen lyk goed en die huidige oesskatting dui dit ook so aan. Daar gaan groot uitvoerbare surplusse van mielies wees in die komende seisoen en die prys gaan teen uitvoerpariteit moet verhandel vir uitvoer om plaas te vind.

Die wisselkoers en die internasionale mark gaan weereens die grootste drywer van plaaslike pryse wees.

Goeie, oordeelkundige bemarkingsbesluite sal geneem moet word hierdie seisoen – maak gebruik van prysgeleenthede in die mark wanneer daar geleenthede is. Vermy onnodige groot risiko’s en beskerm kontantvloeiposisies te alle tye. – Luan van der Walt, Graan SA

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY