Estimated reading time: 3 minutes
Epko, NWK se sonneblompers, is sowat R132 miljoen armer nadat ’n transformator in Lichtenburg gebreek het en die dorp vir 26 dae so te sê sonder krag was.
AgriOrbit het vroeër berig dat ’n nuwe transformator oor die naweek van 5 Augustus geïnstalleer is, maar Eskom wou nie die kragtoevoer herstel totdat die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit, waarvan Lichtenburg deel is, minstens R123 miljoen van sy meer as R1 miljard skuld betaal het nie.
Hoewel die dorp in twee verdeel is en dié dele om die beurt vir vier ure op ’n slag wel krag gehad het, was dit vir Epko feitlik van nul en gener waarde, omdat Lichtenburg steeds aan nasionale beurtkrag onderworpe was. Dit beteken dat Epko ook in daardie ure krag verloor het.
Lees meer oor die begin van die kragkrisis by Epko.
“Dit is ’n nagmerrie,” het Adriaan Oosthuysen, finansiële bestuurder van Epko, destyds gesê. “Na elke kragonderbreking moet ons nog twee ure wag dat die produksielyn skoongemaak moet word, sodat ons met produksie kan voortgaan.” Hy het ook gesê dat hulle produksie moes onderbreek voor elke kragonderbreking om skade aan toerusting te beperk.
Die krag is intussen herstel. Volgens NWK se nuusbrief, Arena, het dr Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, op 24 Augustus tydens ’n besoek aan sakelui belowe dat hy aandag aan die dorp se kragkrisis sal gee. “Ek belowe ek sal oor minder as ’n maand kom om terugvoer te gee,” het hy gesê. Die minister het sakelui by NWK se opleidingsentrum toegespreek.
Nicolene Smalman, NWK-kommunikasiespesialis, sê Epko kan nog steeds nie op volle kapasiteit werk nie, omdat dit teen druktyd aan fase 6-beurtkrag onderworpe was.
’n Verenigde front bring hoop
Intussen het Noordwester verlede week berig dat ’n nuwe dienstevereniging, die Ditsobotla-dienstevereniging, gestig is om as ’n verenigde front teen die plaaslike en distriksmunisipaliteite en ander owerhede op te tree.
Agri Noordwes se hoofbestuurder, Boeta du Toit, is as voorsitter van die vereniging gekies. “Die vereniging poog om gemeenskapslede as ’n verenigde front saam te snoer en ’n spreekbuis te wees om hulle belange te bevorder. Ons hoop om samewerking met die owerhede met die hulp van privaat-inisiatiewe te verseker,” het Du Toit gesê. Hy het bygevoeg dat hulle hoop om staatsverval en misbruik doeltreffend te beveg.
Du Toit het aan die streekskoerant gesê dat die dienstevereniging lesse by ander organisasies en privaatondernemings geleer het wat geld bewillig het en werk gedoen het waar die munisipaliteit nie sy deel gedoen het of enige terugbetalings gemaak het nie.
“Die nuwe dienstevereniging bied egter ’n hefboom vir litigasie en kan werklike verandering bring deur die owerhede te oorreed en te dwing om hulle verantwoordelikhede na te kom.”
Du Toit sê hulle is van plan om krities en ondersoekend, maar konstruktief saam te werk om oplossings te vind en alternatiewe modelle te help ontwikkel waar die gemeenskap inspraak in die bestuur van die munisipaliteit kan kry.
“Die doel is nie om ’n alternatiewe munisipaliteit te stig nie, maar om doeltreffende dienste teen bekostigbare tariewe te verseker.” – Susan Marais, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Boeta du Toit, Ditsobotla-dienstevereniging se voorsitter, by 082 388 1722, Dries van Tonder, ondervoorsitter, by 083 277 4394 of Naudé Pienaar, sekretaris, by 082 776 8283.