En die wenners van die Overberg Streeksjeugskou is…

Estimated reading time: 2 minutes

Op 17 September 2022 het 159 leerders van 14 skole van so ver as Clanwilliam en Oudtshoorn aan die Overberg Streeksjeugskou tydens Nampo Kaap deelgeneem. Die leerders het in 13 verskillende afdelings deelgeneem:

  • Suiwelbees
  • Vleisbees
  • Vleisskaap
  • Wolskaap
  • Veselbok
  • Melkbok
  • Vleisbok
  • Pluimvee
  • Duiwe
  • Konyne
  • Perde
  • Kulinêre kuns
  • Suiwelbereiding

Seuns en meisies tot 17 jaar het in drie ouderdomsgroepedeelgeneem: junior-junior (vyf tot nege jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).

Die Covid-19 pandemie het alle jeugskou-aktiwiteite vir twee jaar tot stilstand gebring , en die organiseerders het dit goed gedink om die dag te begin met ‘n kort demonstrasie deur beoordelaars oor die korrekte manier om ‘n dier te vertoon. Hiermee wou hulle nie net leerders wat dalk bietjie verroes het weer opskerp nie, maar ook jong leerders aanmoedig om hieraan deel te neem.

Deelnemers en besoekers was aangenaam verras met die ruimte in die BKB Vee-afdeling op Bredasdorp Park waar die jeugskou plaasgevind het. Daar was genoeg spasie vir drie afsonderlike ringe binne die gebou met die perde-afdeling wat buite in die arena plaas gevind het en die kulinêre kuns en suiwelbereiding in die Vrouetent voor die BKB Saal. Besoekers aan Nampo Kaap is verras met die vaardigheid waarmee die leerders kolwyntjies versier het en die kaasbord het menige mond laat water.

Lees meer oor die Wes-Kaapse Jeugskou wat nie by die nasionale kampioenskappe gaan wees nie.

Madeline Kriel, Koördineerder van Overberg Streeksjeugskou, sê ‘n geleentheid soos die kan nie sonder  ondersteuning van borge aangebied word nie. Die  Overberg Streekjeugskou  bedank graag vir Neptun, BKB, Hollard, Nedbank, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Afrivet,  Voermol, FJ Snyders, ARDS, Dirk Uys Prokureurs, Engen, Packtown, Bredasdorp Spar, Agri Expo, OVK, Varsmark en Hop In Supermark vir hul ondersteuning. – Persverklaring, Overberg Streekjeugskou