Geen weiding voldoen ten volle aan alle voedingsbehoeftes van vandag se hoë produserende herkouers nie. Weiding bied vir lang tydperke in die produksiesiklus onvoldoende vlakke van een of meer belangrike voedingstowwe soos energie, proteïen, minerale sowel as spoorminerale. Daarom is die aanvul van hierdie voedingstowwe in die vorm van lekaanvullings, ’n algemene en noodsaaklike praktyk regoor Suid-Afrika.

Samestelling en beskikbaarheid

Dit is belangrik dat lekaanvullings korrek saamgestel word om aan ’n spesifieke groep diere, in ’n bepaalde stadium van hul produksiesiklus, die korrekte vlakke én balans van voedingstowwe te voorsien. Geregistreerde veevoedingkundiges met die korrekte kennis en ondervinding behoort dus by die formulering van lekaanvullings betrek te word.

Lees dit in Engels.


lekaanvullings en lekinname

Vir lekaanvullings om optimaal doeltreffend te werk, is dit belangrik dat die aanvulling te alle tye onbeperk beskikbaar is, sodat alle diere voldoende geleentheid het om genoeg voedingstowwe in te neem. Daar word egter dikwels in die praktyk ondervind dat die vrywillige inname van lekaanvullings dikwels van die aanbevole daaglikse inname verskil. Inname kan óf te hoog óf te laag wees. Té hoë inname lei tot vermorsing van duur lekke, terwyl té lae inname die tekorte van die diere nie voldoende aanspreek nie en hul produksie en vrugbaarheid dus benadeel.

Klik hier vir die Feedtek-katalogus.

Bestuur van vrywillige lekinname

Talle faktore speel ’n rol in vrywillige lekinnames, waarvan enkeles hier uitgelig word. Die belangrikste hiervan sluit die volgende in en kan strategies bestuur word om korrekte vrywillige inname te verseker.

Hoeveelheid en gehalte van weiding/ruvoer

Indien die hoeveelheid beskikbare weiding of ruvoer baie beperk is, of die
gehalte daarvan is swak, kan dit tot hoër inname lei. Derhalwe is vrywillige lekinname
meestal hoër in suurveldgebiede as in gemengde of soetveldstreke.

Veeboere behoort dus seker te maak dat voldoende hoë-gehalte weiding en/ of ruvoer te alle tye beskikbaar is, voordat inname van lekaanvullings geëvalueer word. Dit is onekonomies om goedkoop weiding met duur lekke aan te vul. Dit kan boonop ook gevaarlik wees, veral by die aanvulling van nieproteïenstikstof (NPN).

Voedingstatus van diere

Diere wat vir lang tye nie gebalanseerde aanvullings ontvang het nie, ontwikkel minerale- en ander tekorte. Dit kan tot baie hoë lekinname lei, veral in die eerste paar weke nadat die diere weer lekaanvullings ontvang. Dit is dus belangrik dat mineralelekke (ook bekend as fosfaatlekke) altyd beskikbaar is, hetsy op hul eie of as deel van ’n proteïen- of produksielek.

Diere, nadat hulle vir ’n lang tydperk geen lekaanvulling ontvang het nie, moet vir die eerste 14 dae slegs ’n mineralelek kry, voordat ureumbevattende lekaanvullings onbeperk uitgesit word, om oorinname van ureum te verhoed.

Ongebalanseerde lekaanvullings

Lekaanvullings wat laag in minerale en spoorminerale is, lei veral tot oorinname, omdat die diere hul mineraalbehoeftes genoegsaam probeer aanvul, maar dit teen té lae vlakke in die lek voorkom. Lekaanvullings behoort dus genoegsame en korrek gebalanseerde voedingstowwe te bevat, insluitend al die noodsaaklike spoorminerale. Dit is daarom raadsaam om altyd ’n geregistreerde veevoedingkundige te raadpleeg wanneer lekaanvullings saamgestel word.

Smaaklikheid van lekaanvullings

Lekaanvullings moet nie té smaaklik of onsmaaklik wees nie. Gebruik smaaklike
grondstowwe soos melasseprodukte en sogenaamde lekinnamebeheerders – waarvan veesout die algemeenste is – dus oordeelkundig.

Wyse waarop lekke uitgesit word

’n Algemene praktyk is om die hoeveelheid lekaanvulling wat uitgesit word, te beperk tot die somtotaal van die diere, vermenigvuldig met die aantal dae, teen die minimum aanbevole inname. Dit hou die voordeel in dat die verbruik en koste van lekaanvulling fyn beheer kan word.

Hierdie praktyk lei ongelukkig dikwels tot oorinname direk nadat dit uitgesit is, waarna die diere soms vir dae lank niks oor het nie. Hulle raak dan gekondisioneer dat die lekaanvulling slegs direk nadat dit uitgesit word, beskikbaar is. Dit veroorsaak weer dat aggressiewe vreters te vinnig en te veel inneem, en die skaam vreters min of geen aanvulling ontvang nie.

Dit hou verskeie nadele in, waaronder swak benutting van veral die oplosbare proteïene en energie wat aangevul word, en ’n groot gedeelte van die kudde wat onvoldoende aanvulling kry.

Die enigste manier om hierdie probleem te oorkom, is deur korrek gebalanseerde lekaanvullings onbeperk en deurlopend te voorsien. Aanvanklike innames mag dalk hoër as die aanbevole inname wees, maar dit stabiliseer gou na ’n konstante peil binne die aanbevole minimum- en maksimumparameters. Indien dit buite die aanbevole parameters stabiliseer, kan die samestelling redelik eenvoudig aangepas word sodat dit teen die korrekte vlakke ingeneem word.

Plasing van lekbakke

Inname kan ook bestuur word deur die optimale plasing van die lekbakke relatief tot die drinkwater in kampe. Hoe verder weg vanaf die drinkwater, hoe minder tyd spandeer die diere by die lekbakke. Lekbakspasie per dier is ook belangrik en moet met oorleg toegepas word. Indien die spasie baie beperk is, sal aggressiewe diere die skaam vreters van die lekbakke af wegdruk.

Hoe hoër die aanbevole inname, hoe meer spasie per dier moet toegelaat word. Minerale-aanvullings met lae aanbevole inname vereis dus minder lekbakspasie per dier as proteïen- en/of energie-aanvullings met hoër aanbevole inname. Tussen 5 en 20cm per grootvee- eenheid (GVE) en 2 tot 10cm per kleinvee-eenheid (KVE) word tipies aanbeveel, afhangend van die tipe lek.

Voortdurende bestuur

Lekaanvullings word onder ’n wye reeks omstandighede uitgesit – van groot, ekstensiewe kampe tot kleiner, intensiewe kampe, en baie hoë tot baie lae gehalte en beskikbaarheid van weiding. Die tipe diere en stadium van produksie wissel ook.

Verder word ’n verskeidenheid van lekbaktipes aangewend, wat vrywillige inname ook beïnvloed. Dit is dus belangrik dat veeboere hul spesifieke omstandighede in ag neem wanneer lekaanvullings saamgestel en uitgesit word. Norme wat in ’n goeie reënjaar geld, geld nie noodwendig in droër jare nie, en die bestuur van lekaanvullings sal dus voortdurend by veranderende omstandighede aangepas moet word. – Ewie Coetzee (Pr.Sci.Nat), ruminant nutritionist, Feedtek

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan die outeur by ewie@feedtek.co.za.

Feedtek bied ‘n reeks spesialis veevoerkonsentrate wat gemaklik die voedingstowwe verskaf om mineraaltekorte en wanbalanse reg te stel.  Die onderskeie produkte bevat onder andere die belangrikste minerale, spoorminerale en vitamiene in die korrekte verhoudings. Hierdie produkte is uiters gekonsentreerd, wetenskaplik gebalanseerd en ideaal om met verskillende hoeveelhede plaaslike bestanddele soos graan, graanbyprodukte, oliekoeke en ander voerbestanddele op die plaas te meng tot gebalanseerde voere en lekaanvullings.

Formulasies kan maklik aangepas word volgens die diere se behoeftes en spesifieke omstandighede. ‘n Veeboer wat voere met Feedtek-konsentrate meng, gebruik nie net die produkte nie, maar word ondersteun deur ‘n persoonlike en volledige tegniese ondersteuningsdiens. Dit sluit in die identifisering en evaluering van geskikte grondstowwe, voerformulasies, voedingsbestuur, asook hulp met finansiële beplanning en besluitneming.       

Kontak u naaste Feedtek verteenwoordiger vir wetenskaplik gebalanseerde lekke en veevoer formulasies , of besoek ons webtuiste by www.feedtek.co.za, of stuur ’n epos na info@feedtek.co.za.
kruivoeding