Ploegskaarskilpad karkasse onder die reisdraad van ‘n elektriese heining. (Vergunning: Lynette Rudman)

Suid-Afrika huisves 14 (33%) van die 43 skilpadspesies wêreldwyd. Elf van die 14 spesies (79%) is inheems aan Suid-Afrika. Suid-Afrika het ook een van die skaarsste skilpadspesies, die suurpootjie (Psammobates geometricus), en spog ook met die kleinste skilpadspesie in die wêreld, die gespikkelde padloper (Homopus signatus).

Read the original academic paper in English.

Suid-Afrika kan dus deur entoesiaste gesien word as ’n skilpadparadys. Die meeste spesies in Suid-Afrika is klein, maar sommige spesies kan redelik groot word. Bergskilpaaie (Stigmochelys pardalis) is die grootste plaaslike spesie en bereik ’n dophoogte van 30cm en ’n gewig van meer as 30kg.

In dié konteks het Suid-Afrikaners ’n groot verantwoordelikheid om skilpaaie te beskerm. Die oorgrote meerderheid van ons plaaslike spesies kan op privaat­-, kommersiële- en wildsplase gevind word. Boere speel dus veral ’n groot rol in die toekoms van skilpaaie in Suid-Afrika.

Bedreigings

Heinings is ’n noodsaaklikheid op plase en vorm die hoeksteen van plaasbestuur as ’n manier om die beweging van vee en wild te beheer, of om roofdiere en ongewenste persone uit ’n gebied te hou. Elektriese heinings het in die laaste paar dekades in gewildheid toegeneem as ’n doeltreffende en ekonomiese manier van omheining.

Die ontwikkeling van tegnologie in beide elektriese omheinings en sonkrag het hierdie omheiningstelsel aanloklik en bekostigbaar gemaak vir vee- en wildboere. Groot gebiede op moderne plase word dus met verskillende tipes elektriese heinings omhein.

Die meeste elektriese heinings word ontwerp met ’n lae lewendige draad, die reisdraad (“trip wire”), wat net bo die grond geplaas word aan een kant of beide kante van die heining. Die doel van die reisdraad is om te keer dat wild onderdeur die heining grawe en uit die beskermde gebied ontsnap. In ander omstandighede word dit aan die buitekant geplaas om ongewenste roofdiere soos rooikatte en jakkalse te verhoed om op dieselfde manier die gebied binne te kom.

Hierdie reisdrade het ’n lewendige pulserende elektriese stroom. Dit word gewoonlik op ’n hoogte van 3 tot 15cm bo die grond geplaas, afhangende van die topografie. Die teorie is om die draad neushoogte van die roofdier of teikendier af te plaas. Wanneer groter diere kontak maak met die draad, spring hulle gewoonlik weg nadat hulle die skok gevoel het.

Die ietermagog

Ietermagog (Manis temminckii) opgerul om ‘n eletriese reisdraad in die Tswalu Kalahari Reservaat (Vergunning: Andrew Beck)

Sommige ander spesies reageer egter anders op só ’n skok en hierin lê die probleem. Die ietermagog, wat bekend is vir sy opkrul-reaksie, reageer dikwels op so ’n skok deur homself om die reisdraad op te krul. Die dier word dan verder geskok en vrek. Die ietermagog word as ’n bedreigde spesie beskou.

Ietermagog-vrektes as gevolg van elektriese heinings word gereeld aangeteken. Ander spesies wat dikwels as gevolg van elektriese heinings omkom, sluit in die ystervark, Suider-Afrikaanse luislang, likkewaan, aardvark, verkleurmannetjie, brulpadda, luiperdskurwepadda en ander klein diertjies.

In sy 2008 MSc-tesis oor die uitwerking van elektriese heinings op nie-teiken spesies, het Andrew Beck van die Universiteit van die Witwatersrand beraam dat elektriese heinings verantwoordelik is vir sowat 21 000 jaarlikse sterftes van nie-teiken spesies in Suid-Afrika. Die grootste slagoffers is egter skilpaaie.

Skilpaaie se reaksie

‘n Bergskilppad gedood deur ‘n lae reisdraad. (Vergunning: Steve Molteno)

Skilpaaie is vanweë hul natuurlike reaksie op vrees of pyn uiters blootgestel aan reisdrade op elektriese heinings. Skilpaaie trek in hulle dop in as hulle beseer of verskrik word. Wanneer hulle dus geskok word, trek hulle op die plek in hulle dop in, in plaas daarvan om weg te beweeg. Dikwels bly hulle dan in kontak met die draad en word aanhoudend geskok.

Net soos ander diere urineer skilpaaie van pyn. Dit maak die grond nat en bevorder die geleiding van krag deur die dier. Die aanhoudende skokke word dus vererger en die uiteinde is die dood as gevolg van orgaanversaking, direkte skade aan die weefsel of sonsteek ná die verlamming van die dier.

Die oplossing

Gelukkig is daar ’n oplossing. Verskeie navorsingstukke dui aan dat boere en kontrakteurs met die oprig van ’n heining sekere stappe kan neem om die vrektes van nie-teiken spesies tot die minimum te beperk, sonder om die funksie of integriteit van die heining te verloor.

Die volgende stappe kan geneem word:

  • Lig die onderste reisdraad (of laagste lewendige draad van die hoofheining) so hoog as moontlik. Die ideaal is minstens 250mm. Dit sal beteken dat die meeste skilpadspesies nie in kontak met die draad sal kom nie. Daarby moet die reisdraad ook op ’n ideale afstand van 400 tot 500mm weg van die hoofheining wees. Die kombinasie hiervan kan baie vrektes voorkom.
  • ’n Fisiese versperring moet gebou word. Die maklikste is om groot klippe al langs die basis van die heining te pak. Hierdie versperring moet hoog genoeg wees om blootgestelde diere weg van die lewendige draad af te lei.
  • Neem in ag dat roofdiere soos jakkalse, wat kleinvee of waardevolle wild jag, nagdiere is, in vergelyking met skilpaaie wat dagdiere is. Die installering van ’n dienssiklus of tydskakelaar, wat die stroom afskakel in die dagligure en aanskakel saans, wanneer skilpaaie onaktief is, kan die boer tot 50% op elektrisiteit bespaar en die dood van skilpaaie verminder.
  • ’n Ander opsie is die installering van maas-, diamant- of Bonnox-draad op die laagste gedeelte van die heining in plaas van elektriese draad naby die grond. Hierdie opset met die klipversperring, soos vroeër bespreek, sal die beweging van klein roofdiere steeds beperk. Lewendige draad kan nog steeds hoër op in die heining gebruik word.
‘n Bergskilppad

Reisdrade is ’n groot bedreiging vir diere soos skilpaaie en ietermagogs. Die probleem lê egter nie net binne die grense van Suid-Afrika nie. Tot nou toe kon die oorlewing en florerende voortbestaan van ons land se wilde diere grootliks toegeskryf word aan die belangstelling en gesonde praktyke van boere. Dus word boere aangemoedig om die welstand van kleiner wild in ag te neem in hul besluite. – Luke Arnot, Steven Molteno en Stefan Steyn

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY