Estimated reading time: 3 minutes
“Na ‘n baie positiewe prestasie in die landbousektor gedurende die vorige twee jaar, het die bedryf effens teruggesak in terme van groei,” so sê Nico Groenewald, hoof van Agribesigheid by Standard Bank. Groenewald het tydens ‘n onderhoud op Plaas TV gesê algemene vooruitskouings het voorspel dat landbou ‘n BBP-groei van 6,6% in 2022 gaan hê. Daar is egter nou aanduidings dat slegs ongeveer 4% behaal gaan word.
Uitdagings op uitdagings
Alhoewel landbou-uitvoere met ongeveer 5% gestyg het dié jaar, sal dit nie 2021 se rekord van ongeveer R12,4 miljoen se uitvoere haal nie. “Insetkostedruk is ook wesenlik, en voorspellings toon dat dit nie binnekort gaan verander nie, “ sê Groenewald. Hy sê alhoewel kunsmispryse begin daal het, dit steeds heelwat hoër is as wat dit in 2021 was. “Hierdie druk op insetkoste gaan produsente dwing om baie slim te beplan, sê Groenewald.

Wat eksterne elemente betref, was logistiek vanjaar vir landbou ‘n wesenlike uitdaging, en volgens Groenewald, is die uitkyk hiervoor ook nie positief nie. “Produsente word nou gedwing om nie net binne die plaashek nie, maar ook buite die plaashek te dink oor hoe hulle hul produkte betyds by die markte gaan kry. Ons markte sit baie ver hier vandaar en die logistieke ketting is baie lank. Daardie druk gaan by ons bly en ons kan nie bekostig om hier foute te maak nie,” meen Groenewald.
Dan is fitosanitêre uitdagings ook vars in almal se geheue, asook bek-en-klouseer wat tans noemenswaardige uitdagings vir die bedryf bied. Die fitosanitêre beperkinge moet reg bestuur word – op plaasvlak sowel as struktureel.
Hierdie uitdagings in ag genome, tesame met ander korttermynfaktore wat ‘n rol speel, het die Agbiz/IDC-landboubesigheidsvertrouensindeks gevolglik ook laat afneem. Landbou kan homself dus voorberei op ‘n meer konserwatiewe uitkyk, meen Groenewald.
Op ‘n positiewe noot
Ten spyte van al die uitdagings, lyk landbou se syfers in terme van indiensneming uitstekend, meen Groenewald.
Weervoorspellings lyk ook positief vir die volgende seisoen, aangesien ‘n relatiewe nat jaar weer verwag word, met voorspellings van nog ‘n La Niña-jaar op die kaarte. Goeie kommoditeitspryse bied ook ‘n buffer teen die uitdagings in die bedryf.
Wat sê die kristalbal?
Effektiwiteit is die sleutelwoord en die bestuur hiervan gaan bepaal of landbou gaan floreer of nie. “Ons bevind onsself ook in ‘n stygende rentekoerssiklus wat, uit ‘n beplanningsperspektief, uiters belangrik is.”
Die onlangse aankondiging van ‘n rentekoersstyging van 75 basispunte, gaan produsente dwing om deeglik te beplan aan hul bedryfsuitgawes en kapitaalprojekte, en hoe dit gefinansier gaan word.
“Die ou spreekwoord lui, ‘n mens maak jou dom besluite in goeie tye, en dit gaan nou tot die uiterste getoets word.”
Kyk ‘n onderhoud met Groenewald:
Op die medium- en langtermyn gaan die Suid-Afrikaanse landboubedryf moet fokus op die ontwikkeling van sy markte. “Ons is ‘n uitvoerland, maar gaan moet diversifiseer ten opsigte van al die lande waarheen ons wil en kan uitvoer. Dit gaan beteken dat die samewerking tussen landbou en die regering nou ‘n sterk fokuspunt moet word om aspekte soos protokolle, wat geweldig lank vat, met ‘n vinniger omdraaityd in plek te laat val.”
Klimaatsverandering is ook ‘n harde realiteit wat ‘n invloed op produsente se benadering tot finansiering het. “Koolstofkrediete- en belasting gaan ‘n impak hê op hoe ons op plaasvlak gaan funksioneer,” sluit Groenewald af.
Lees hoe Standard Bank elektrisiteitsvoorsiening met PowerPulse vergemaklik.