Estimated reading time: 3 minutes
Ongeveer 1 300 mense het op 19 Januarie die tiende Balfour-hooidag op PJ Kriek en Seuns se grond, oorkant die Afgri Palmietfontein-bunker, bygewoon. Die dag is deur die Balfour-boerevereniging in samewerking met Afgri aangebied.
Dit is die eerste hooidag van sy soort sedert die Covid 19-inperkings. Die vorige hooidag is in 2020 gehou en toe het ongeveer 1 100 mense die dag bygewoon.
“Twaalf jaar gelede het ons met die hooidag begin, omdat daar nie so ‘n dag in ons distrik aangebied is nie,” sê Gert Kriek, een van die hooforganiseerders van die dag. “Ons poog om jaarliks ons hooidag se bywoning met 10% te laat toeneem en ons kon dit hierdie jaar mooi regkry.”
Oor die jare het die uitstallers ook uitgebrei en vandag neem ál die maatskappye wat hooimaaktoerusting verkoop, aan die dag deel. “Vanjaar het tien groot maatskappye hul toerusting gebring, wat beteken dat ons ’n derde meer masjinerie as voorheen in aksie kon sien,” vertel Gert. Hy voeg by dat hierdie prestasie die Balfour-hooidag die grootste van sy soort in Suid-Afrika maak.
Een van die redes vir die dag se sukses skryf hy aan die tydsduur toe. “Die demonstrasies begin 10:30 en om 13:00 is dit klaar. Produsente kan dus die demonstrasies bywoon en weer vroeg by die huis kom. Dit is ’n taakgerigte geleentheid.”
Lees meer oor hooiproduksie hier.
Boere ploeg terug
In die verlede het die Balfour Boerevereniging ongeveer 25 skape vir die geleentheid gespit. Vanjaar het hulle egter besluit dat twee plaaslike skole en ’n kerk die kos kan voorsien sodat die gemeenskap ook finansieel by die geleentheid kan baat.
“Dit was ook ’n reuse-sukses, want hulle het 2 000 etes op die dag verkoop,” sê Gert.
Norman Celliers, Afgri se hoof uitvoerende beampte, het benadruk dat dit vir Afgri ’n voorreg was om bykans al tien jaar as hoofborg te kon optree. “Vanjaar vier Afgri sy honderdste bestaansjaar, terwyl hierdie die tiende hooidag is. Dit is nogal iets besonders.”
Hoewel die toekoms moontlik baie onseker voel, het Norman gesê dit is verblydend dat soveel kinders en jongmense die dag bygewoon het. “As ek na al die tegnologie rondom ons kyk, kan ek my kwalik ’n meer opwindende bedryf as landbou indink.”
Hy het bygevoeg dat daar steeds baie ruimte vir groei binne die landboutegnologie is. “Daar is min sektore wat kan kers vashou met die diversiteit wat landbou bied.” – Susan Marais, ArgiOrbit
Vir meer inligting, kontak Gert Kriek by 083 455 1587 of Danie Bester by 083 486 5988.