HomeAgri NewsEerste e-leerplatform vir wingerdwerkers bekendgestel

Eerste e-leerplatform vir wingerdwerkers bekendgestel

Estimated reading time: 3 minutes

Vir die eerste keer ooit kan wingerdwerkers hul vaardighede aanlyn opskerp, danksy die bekendstelling van ʼn e-leerplatform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Winetech Mensontwikkeling, die bedryfsliggaam wat gemoeid is daarmee om die wynbedryf se strategie rondom die ontwikkeling van mense uit te rol, het die aanlyn platform ontwikkel met die doel om aan persone van regoor die wynbedryfswaardeketting topgehalte opleiding in ʼn eenvoudige en toeganklike formaat aan te bied.

“Dit was die eerste logiese stap om op plaasvlak te begin, en danksy Vinpro se wingerdwerker-opleidingspakket wat reeds uitstekende leermateriaal, video’s en assesserings bevat het, kon ons dit maklik op die platform integreer,” sê Kachné Ross, bestuurder: Winetech Mensontwikkeling. Die platform gaan oor die volgende paar jaar uitgebrei word om ook op wynbereiding, bemarking en verkope, asook logistiek en verspreiding te fokus.

Lees meer oor Suid-Afrika se top tien Sauvignon Blanc wyne.

Vinpro se jaarlikse wingerdwerker-opleiding is alombekend in die wynbedryf, met meer as 5 000 persone wat hul praktiese vaardighede oor die afgelope sewe jaar opgeskerp het. Die fisiese opleiding is op ʼn DVD-opleidingspakket geskoei, waarvan die tien modules nou aanlyn beskikbaargestel word. Dit sluit snoei, wingerdvestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van wyndruiwe, en grondkunde in.

“Mense is die onderbou van ons bedryf, en daarom is dit belangrik dat ons aan hulle die geleentheid bied om hul kennis en vaardighede deurlopend uit te brei,” sê Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder.

“Deur te begryp hoekom en hoe hulle aksies op ʼn sekere manier uitvoer, gee aan hulle ʼn gevoel van trots en sin vir verantwoordelikheid in hul werk, wat produktiwiteit opstoot. Hierdie nuwe gerieflike aanlyn platform gee leerders die geleentheid om teen hul eie tempo en op tye wat hulle pas deur die leermateriaal te werk.”

Lees meer oor Vinpro se wyntoerisme-verslag hier.

Hoe dit werk

Die e-leerplatform word as ʼn een-jaar lisensie aan wynondernemings beskikbaargestel, en die koste wissel na gelang van die aantal werknemers wat per instansie geregistreer word.

Indien ʼn plaas of kelder daarin belangstel om hul span vir die e-leerplatform aan te teken, kan die spanleier of plaasbestuurder ʼn epos na lms@winetech.co.za stuur. Hierna sal ʼn opleidingsverteenwoordiger hulle kontak om die registrasieproses te verduidelik en ʼn datum vas te maak vir ʼn fisiese “lei die opleier op”-sessie, waartydens ʼn Vinpro-kundige hulle van alle nodige inligting voorsien oor hoe die stelsel werk, en hoe die spanleiers en spanne saam die opleiding op die mees doeltreffende manier kan benut.

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf hier.

Spanleiers kan dan hul spanlede op die stelsel laai, waarna elkeen toegang tot die e-leerplatform deur hul slimfoon of rekenaar sal verkry, en die wingerdspanne met hul opwindende nuwe opleidingsreis kan begin. Spanleiers dien dus as opleiers wat hul eie wingerdwerkers se leer fasiliteer onder begeleiding van die Vinpro-opleidingspan. Deur die suksesvolle afhandeling van die eerste groep werkers se opleiding, sal die spanleiers geregistreer word by die Suid-Afrikaanse wynbedryf se professionele liggaam, SAWIPB, as wingerdwerkervoormanne met spesiale status en erkenning.

Buiten die leermateriaal en video’s waardeur spanne saam of op hul eie kan werk, kan individue ook kort toetse oor elke onderafdeling binne ʼn module voltooi sodat hulle en hul spanleier tred kan hou met hul vordering. Elkeen wat ʼn module suksesvol voltooi met ʼn assessering van bo 80%, ontvang ʼn e-sertifikaat wat hulle kan aflaai en druk, of op hul profiel kan hou indien hulle dit vorentoe nodig sou hê.

Vir meer inligting besoek www.skillogical.com/winetech, of kontak Kachné Ross by 021 276 0450 of epos kross@winetech.co.za. – Persverklaring, Vinpro

Must Read

Plaas TV: Klimaatslim boerdery, AFMA Forum, Agbiz Graan- en Oliesade-simposium en...

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek...